Afrikaanse aktrise oor borskanker: ‘Ek soek nie simpatie’

Marion-Holm

Marion Holm (Foto: Facebook)

Die bekroonde Afrikaanse aktrise en komediant Marion Holm het onlangs op haar Facebook-blad gesê die kansellering van talle van haar produksies, wat verskeie gerugte oor haar gesondheid die ronde laat doen het, het haar nou genoop om vir die eerste keer in die publiek oor haar borskanker te praat.

Marion het geskryf dit is vir haar moeilik om oor haar persoonlike lewe te praat, daarom het sy aanvanklik verkies om dié diagnose privaat te hou. “Soveel soos ek op die verhoog kan praat, so leef ek met my eie goeters na binne toe en sukkel om dit by my mond uit te kry,” het sy gesê.

“Die begin van die jaar moes ek ’n operasie kry en ek wou die rede privaat hou. Al wat toe gebeur het, is dat die storie steeds geloop het, maar die verkéérde storie is oorvertel. Nou het ek besluit om die waarheid en korrekte feite te deel met die drie mense wat soms in hierdie bladsy belangstel.

“Ek het borskanker gehad. Maar dit was so klein en so vroeg waargeneem, dat dit net uitgesny is en ek net bestraling gekry het. Ek het nie ʼn mastektomie gehad nie en ek het nie chemoterapie gekry nie. Ek voel dus net dankbaarheid. Dankie Vader, dankie, dankie, dankie,” het sy bygevoeg.

Die komediant meen sy wou haar diagnose privaat hou, omdat sy voel sy het “dit maklik gehad”. “Ek wou nie simpatie hê of aandag trek nie. Daar is vroue wat ʼn dubbele mastektomie moet kry en deur erge chemoterapie moet gaan. Húlle verdien aandag. Ek het slegs ʼn ligte kopverkoue gehad, by wyse van spreke. So, dit was die rede hoekom ek vertonings moes kanselleer.”

Sy sê ook hoewel dit met haar goed gaan en sy positief bly, moet sy nou vir ʼn tweede ronde ʼn reeks vertonings kanselleer. “Ek het besluit hierdie ronde gaan ek nie eens probéér om dit stil te hou nie, ek gaan sommer die feite van die begin af hier neerplak. Ek het gegaan vir ʼn oogtoets om ʼn nuwe bril te kry, omdat my linkeroog verswak het. Toe stuur die optometris my na ʼn oogspesialis en dié stuur my vir ’n MRI en daar sien ons toe ek het ’n “meningioma”.

“Meningioma (die Afrikaanse woord is meningioom) beteken ek het ʼn breinvliestumor wat op die senuwee en bloedtoevoer van my linkeroog druk. Die kans is 90% dat dit goedaardig is en as dit eers verwyder is, is die kans ook 90% dat dit nie weer sal terugkom nie. Die operasie is geskeduleer vir 10 Oktober en ek is daarna drie maande afgeboek. Ek glo ek sal egter weer volgende jaar konsert hou.”

Marion sê sy wil nie simpatie hê nie, maar eerder die gebede van familie en aanhangers. “Hoe voel ek oor als? Dankbaar. Eindeloos dankbaar dat die Here die hele tyd voorsien en beskerm. My bootjie is in ’n storm, maar Hy laat my nie sink nie. So, ek voel rustig en onbeskryflik dankbaar.”

Sy het ook Maandagoggend aanhangers vir hul ondersteuning bedank. “Uit my hart uit dankie. Ek gaan met ʼn diep vrede nou hospitaal toe. Ek weet nie wat gaan gebeur nie, maar ek weet Hy gaan ons dra.”

Lees die inskrywing op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ronnie ·

Skitterende aktrise! Ek het haar só geniet in Terug na Egipte en Vlug na Egipte. Voel gou beter.

Petro D ·

Baie sterkte, Marion Holm. Jy is ‘n uitstekende aktrise.

Magrette Louw ·

Ek het al saam met haar gewerk, wat ‘n positiewe mens. Sterkte en bly om te hoor.

Meraai@1 ·

“Dot” jy kan ons nie verlaat nie, baie sterkte en gou gesond word. Jy is ‘n skitterende aktrise!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.