Afrikaanse kletsrymers verwelkom pienkvoet

Hemelbesem en Yoma, oftwel Simon en Claudia Witbooi (Foto: Instagram)

Die gewilde kletsrym-glanspaartjie Hemelbesem en Yoma, oftwel Simon en Claudia Witbooi, het oor die feesseisoen ouers geword.

Die egpaar het dié nuus op sosiale media gedeel. Die kletsrymers het nog nie baie inligting oor hul pienkvoet gedeel nie en het sedert die begin van hul swangerskap, wat hulle in Julie verlede jaar aangekondig het, aangedui dat hulle Claudia se swangerskap en die geboorte vir eers privaat wil hou.

Claudia het swangerskap oor die feesseisoen in ʼn blog-inskrywing vir Rooi Rose as ʼn wonderwerk bestempel. “Ek dink amper elke dag aan hoe God die proses van swangerskap haarfyn beplan het en so ook die uitleg van ons lewens. Ek vind rus [daarin] asook in die feit dat alles verloop volgens sy horlosie. Sy tyd is ons sʼn en dis perfek.”

Sy het vroeër gesê die hele proses van haar swangerskap slaan haar “asem weg”. “My asem is weggeslaan deur die wete dat hier ’n mensie met idees, opinies en ’n identiteit binne my vorm. Iemand vir wie God reeds ruimte geskep het op aarde. Daar is twee harte wat hier binne my klop.”

Hemelbesem het twee ander kinders, Simile en Halo, wat onderskeidelik agt en tien jaar oud is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.