Afrikaanse-kunstenaar spog met eie grimeerreeks

Die oogskadupalet bevat 12 verskillende kleure. (Foto: Verskaf)

Staan opsy Kylie Jenner, daar is ʼn bekende plaaslike naam wat nou in ʼn nuwe formaat (en in verskillende pragskakerings) op talle mense se lippe pronk.

Die bekroonde sanger, akteur en fotograaf Willem Botha se splinternuwe grimeerreeks Willem Botha Beauty is nou aanlyn beskikbaar en word reeds met ope arms deur Suid-Afrikaanse grimeerliefhebbers verwelkom.

Die voormalige Idols-deelnemer het vroeër aan Maroela Media vertel dat sy droom om sy eie grimeerreeks te ontwikkel deur middel van sy suksesvolle fotografieloopbaan ontstaan het.

“Leah het my destyds voor haar eerste fotosessie genader en gesê dat sy nie ʼn grimeerkunstenaar kan bekostig nie. Ek sê toe sy moet al haar produkte saambring, spring op YouTube en kyk na al wat ʼn ‘tutorial’ is en besluit ek gaan self haar grimering doen.”

Die langdurige onderlaag is een van Botha se gunsteling produkte uit die reeks. (Foto: Verskaf)

Botha, wat die afgelope vier jaar talle bekendes, onder andere Donnalee Roberts, Juanita du Plessis en die voormalige Mej. SA en Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, voor sy lens vir groot name soos rooirose en Spar gehad het, het toe al hoe meer self fotografiekliënte se grimering begin doen.

“Ek het baie moeite gedoen om wêreldgehalte grimeerkuns op my kliënte te doen en na soveel jaar wat ek met verskillende grimeerprodukte én -metodes gewerk het, het my eie reeks net soos die volgende logiese stap gevoel.”

Botha en drie vennote het toe koppe bymekaar gesit en binne ʼn jaar het dié reeks, wat onder meer onderlaag, lipstiffies en -glans, blospoeier en ʼn oogskadupalet insluit, ʼn realiteit geword.

Tans is een van sy gunstelingprodukte die langdurige onderlaag wat in ses verskillende skakerings beskikbaar is, asook die oogskadupalet wat 12 verskillende kleure bevat. “Ons het uiters hard gewerk om ʼn topgehalte onderlaag te maak en die terugvoer wat ek kry is dat dit sag en vars voel en glad nie aangeplak lyk nie.”

Vir die verpakking wou hy ʼn “skoon, vars en treffende” effek skep en fokus op “iets wat tydloos is en elegant sal bly”.

Saam met die nuwe grimering bied Botha ook ʼn reeks skoonheidswerksessies aan waar hy stap-vir-stap verduidelik hoe hy van die land se mooistes opmaak voordat hulle voor sy lens verskyn. “Ek is ongelooflik opgewonde oor die werksessies want dis ʼn lekker geleentheid waar ek in persoon al my geheime en beste ‘tips en tricks’ deel. Jy hoef ook glad nie ʼn professionele grimeerkunstenaar te wees nie om dit by te woon nie. Ek praat met die vrou wat niks van grimering weet nie sowel as die vrou wat kundig is en net haar vaardighede ʼn bietjie wil verfyn.”

Saam met die nuwe grimering bied Botha ook ʼn reeks skoonheidswerksessies aan. (Foto: verskaf)

Sy top-grimeerwenk is egter om altyd grimering mooi te vermeng (blend) en waaksaam te wees teen té veel produkte gebruik. “‘Blending’ is alles! Ek hou glad nie van harde lyne en strepe nie. Hoe sagter en meer egalig alles aangewend is, hoe mooier sal dit lyk. Moet ook nie dink deur te veel produk aan te wend dat jy ʼn meer treffende effek gaan kry nie, want soms beklemtoon jy iets juis meer as jy dit toeplak.”

Botha benadruk egter dat grimeerkuns vir hom oor uiterlike én innerlike skoonheid gaan, daarom die slagspreuk “Let the beauty in you begin”.

“Ek hoor gereeld dat vroue sê dat hulle nie mooi genoeg is nie of hulself vergelyk met bekendes wat hulle op TV sien. Dit is uiters belangrik dat hulle verstaan dat hulle net so mooi en waardevol is en hul innerlike skoonheid ook moet vier. Boonop moet hulle onthou dat bekendes ook net soos ‘gewone mense’ lyk as hulle nie opgedollie word nie.”

Sy produkte, wat vegan-vriendelik is en nie op diere getoets word nie, is skaars ʼn week beskikbaar en hou die 35-jarige reeds tot die vroeë oggendure druk besig.

“Nooit in my lewe het ek gedink dat ek ná 16 jaar in die vermaakbedryf só groot geleentheid soos hierdie sal kry om ʼn nuwe loopbaan en avontuur te kan begin nie. Ek en my vennote sit soms tot twee uur die oggend om bestellings te verpak, maar met elke liewe boksie is ons net meer en meer dankbaar vir almal se ondersteuning.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AmY

Wow, Willem!
Ek hoop hierdie reeks is ‘n reuse sukses.!