Afrikaanse sanger verwelkom eerste baba

Chris-John is op 2 Mei gebore (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse sanger, Jan Rhaap, en sy vrou, Nadia, het Woensdag hul eersteling, Chris-John, in die lewe verwelkom.

“Chris-John is op 2 Mei 2018 om 18:15 in die Mediclinic Kimberley gebore. Baba en mamma is albei honderd persent gesond, en ons hoop om dié naweek al huis toe te gaan,” het Rhaap gesê.

Rhaap, wie se regte naam Werner Burger is, en sy vrou, Nadia, het in Januarie 2015 ontmoet en is op 3 September 2016 getroud. Hulle is albei baie opgewonde daaroor om vir die eerste keer ouers te word.

“Dit is ’n ongelooflike gevoel om ’n ouer te wees. Dit was seker die mees emosionele oomblik van my lewe, maar dit is ongelooflik lekker. Dit het eintlik nog nie heeltemal ingesink nie; ek dink die oomblik dat ons by die huis is, en dis net ek, mamma, en baba, dán gaan dit insink,” het hy gesê.

Jan Rhaap en sy vrou, Nadia (Foto: Verskaf)

Die paartjie het op hul eersteling se naam besluit deur ’n mengsel van hul pa’s se name te maak.

“Ons noem hom nou Chris-John, maar ek is seker hy sal, wanneer hy maatjies kry, ’n bynaam soos CJ of so iets hê. Dit maak glad nie vir ons saak nie, Chris-John en CJ is albei reg,” het hy gesê.

Rhaap en Nadia sal graag nog kinders wil hê, maar “dit sal eers iewers in die toekoms gebeur”.

“Vir nou wil mamma net eers aandag gee aan Chris-John, maar as die Here ons in die toekoms met nog ’n babatjie seën, sal ons baie bly wees. Dit sal lekker wees om ’n maatjie vir Chris-John te hê, dan kan hulle lekker saam op die plaas speel,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.