Afrikaanse sanger verwelkom eerste seuntjie

Pieter Smith se inskrywing op Facebook

Die bekende Afrikaanse sanger Pieter Smith en sy vrou Yolandi, het Maandagmiddag hul eerste seuntjie in die lewe verwelkom.

Pieter en Yolandi het reeds ʼn dogtertjie, Alexei, wat een jaar en nege maande oud is.

“Alles het goed verloop en daar was geen moeilikheid nie. Yolandi is nog in die hospitaal, maar ek is by die huis saam met Alexei,” het Smith aan Maroela Media gesê.

Dié egpaar het besluit om hul seuntjie Pieter David (PD) te noem.

“Yolandi se pa se naam is Pieter en my pa se naam is David. Ons sal maar nog sien wat presies ons hom noem, en of ons hom sommer PD gaan noem,” het Smith gesê.

Pieter en ‘n swanger Yolandi saam met hul 19 maande oue dogtertjie, Alexei. (Foto: Albert Bredenhann/Pixel Pro Photography)

Volgens Pieter is Alexei baie opgewonde om ʼn ousus te wees.

“Dit was baie oulik toe sy Pieter David gister vir die eerste keer gesien het. Maar sy is ook maar nog baie klein, so ek dink nie sy besef heeltemal wat aangaan nie.”

Pieter het ʼn foto van sy jongste gesinslid op Facebook geplaas en geskryf: “Baie welkom Pieter David (PD). Ons is geseënd. Hoop jy het jou eie kredietkaart saamgebring die keer. Geluk Yolandi, jy was baie braaf!”

Pieter het gesê alhoewel hy en sy vrou reeds ʼn dogtertjie het, voel dit steeds vreemd om ʼn nuwe mensie daar te hê.

“Dit is ʼn ongelooflik lekker gevoel, maar dit is nog nie heeltemal ʼn werklikheid nie. Mens moet maar nog daaraan gewoond raak, maar ons is baie opgewonde,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.