Afrikaanse sanger ‘wag vir toetsuitslae’; siektestryd duur voort

Adam Barnard (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse sanger Adam Barnard is verlede week uit die hospitaal ontslaan ná hy verlede maand in die rehabilitasie-eenheid opgeneem is.

Die sanger se bestuurder, Henri Scott, het verlede maand aan Maroela Media vertel Barnard kry onder meer fisioterapie, arbeidsterapie en hemodialise-behandelings om hom voor te berei vir ʼn nieroorplanting ná ʼn gepaste skenker opgespoor is.

Barnard ly aan die neuropatie-sindroom wat gekenmerk word deur die verlies van gevoel in ledemate, soos die hande. Hy het in Februarie in die hoësorgeenheid weens dié siekte beland, maar is intussen weer op die herstelpad. Hy het die eerste reeks behandelings in ʼn kliniek ontvang, maar dit was nie suksesvol nie.

Die enigste geneesmiddel is ʼn suksesvolle nieroorplanting.

“Adam is by die huis en vir eers ontslaan,” het Scott op die sanger se Facebook-blad geskryf. “Ons wag nog vir die finale uitslae van die toetse van die skenker voordat ʼn beslissing gemaak kan word. Hopelik word die nieroorplanting binne die volgende 2/3 maande gedoen.”

Scott sê hoewel Barnard tuis is, moet hy steeds hemodialise-behandelings kry en oefen. Hemodialise is ʼn prosedure waartydens gifstowwe uit die bloed verwyder word deur middel van ʼn dialisemasjien, wat ook as ʼn kunsnier bekend staan.

“Dankie vir almal se boodskappe. Julle kan asseblief saam met ons bid dat die nieroorplanting spoedig gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.