Afrikaanse sanger word pa van skattige babadogtertjie

Francois van Coke, sy vrou Lauren, en hul babadogtertjie Alex Lila (Foto: Facebook)

Francois van Coke, sy vrou Lauren, en hul babadogtertjie Alex Lila (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse rocker Francois van Coke en sy vrou, Lauren Badenhorst, het Maandag vir die eerste keer ouers van ʼn babadogtertjie geword.

Die sanger, wat saam met die sangeres en televisieaanbieder Karen Zoid groot sukses met die treffer “Toe vind ek jou” behaal het, het die nuus met ʼn skattige foto op sosiale media bekendgemaak.

“Alex Lila Badenhorst is vandag gebore, op 7 November. Lauren is amazing,” het hy by die foto geskryf.

Die sanger, wie se regte naam Francois Badenhorst is, is in 2012 met Lauren, ʼn kunsdirekteur, getroud.

Van Coke het voorheen in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel sy vrou se swangerskap het sy lewensperspektief, en veral sy doelwitte, wesenlik verander.

“Dit was nie my grootste droom die afgelope 10 jaar om pa te word nie, maar sedert ek en my vrou so twee jaar gelede besluit het ons wil kinders hê, het dit baie vinnig verander. Vandat Lauren swanger is, is dit iets wat soos ʼn openbaring vir my was.

“Ek was nooit opgewonde daaroor om ander mense se babas vas te hou of met kinders te speel nie, maar dit het ook baie verander. Nou, as ek byvoorbeeld ʼn baba in die vliegtuig sien, dan dink ek hy lyk oulik. Ek besef as hulle huil, dit gaan met my ook gebeur; ek gaan ook my kind moet probeer stil hou. Ek glo ek is ook nou meer gereed vir enigiets as ooit vantevore in my lewe. Ek is baie opgewonde.”

Die sanger is in April vanjaar met vyf Ghoema-toekennings vereer vir sy debuut-soloalbum vir onder meer gewildste liedjie van die jaar saam met Zoid en digitale album van die jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Denise ·

Baie geluk Francois en Lauren met julle baba dogtertjie!!!!!!!1

Marianne ·

SY IS HIER – PRAGTIG EN VOLMAAK. ALLE DANK AAN ONS HEER.
Francois en Lauren mag Alex Lila vir julle en jul familie ‘n ware geskenk wees, mag sy haar ma se skoonheid en haar pa se stem he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.