Akteur geloof ná hy vrou (63) uit motorwrak ‘red’

Harrison Ford (Foto: Facebook)

Die polisie in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië het die akteur Harrison Ford vir sy braafheid geloof nadat hy vandeesweek ʼn 63-jarige vrou uit ʼn motorwrak “gered” het enkele oomblikke nadat sy beheer oor haar motor verloor het.

Ford was in Santa Paula noord van Los Angeles toe hy en ʼn vriend die ongeluk sien gebeur het.

Matt Alonzo, ʼn polisiewoordvoerder, sê die botsing het Maandag gebeur. Volgens Alonzo het die vrou se motor vir “onbekende redes” die pad verlaat. Sy het daarna skerp gerem en toe beheer oor die motor verloor waarna sy van ʼn wal afgery en toe ʼn boom getref het.

“Ford het opgetree soos ʼn goeie Samaritaan,” het Alonzo aan die koerant Ventura County Star gesê. “Hy het haar tot die beste van sy vermoë probeer help totdat die nooddienste op die toneel aangekom het.”

Volgens mediaberigte het die akteur haar uit die motorwrak gehelp aangesien sy nie erge beserings opgedoen het nie.

Tom Kirkland, ʼn woordvoerder van die Kaliforniese patrolliediens, sê die vrou was alleen in die motor ten tyde van die voorval. Sy het net geringe beserings opgedoen.

Ford het nie met die media gepraat of ʼn verklaring oor die voorval uitgereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris ·

Mooi man. Han Solo het tot die dame se redding gekom. Hy was beslis nie op ‘n ander missie om ‘n verlore ark te soek nie.

Veldmuis ·

Deesdae is deernis en herkenning van nood ‘n rariteit. Ek vermoed Harrison Ford is ‘n besondere persoon.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.