Aktrise in borskanker-stryd ná sy Emmy-geskiedenis maak

Julia Louis-Dreyfus (Foto: Jordan Strauss Invision/AP)

Borskanker is by die Amerikaanse aktrise Julia Louis-Dreyfus gediagnoseer – minder as twee weke nadat sy geskiedenis gemaak het by die Emmy-toekennings.

Louis-Dreyfus het dié nuus Donderdag op sosiale media bekend gemaak.

“Een uit elke agt vroue kry borskanker. Vandag is ek die een. Die goeie nuus is dat ek die wonderlikste groep ondersteunende vriende en familie én wonderlike versekering deur my unie het. Die slegte nuus is dat nie alle vroue so gelukkig is nie, so kom ons baklei teen alle kankers en maak universele gesondheidsorg ʼn werklikheid,” het sy in ʼn verklaring gesê.

Die aktrise het op 17 September geskiedenis gemaak by die 69ste Emmy-toekennings in Los Angeles nadat sy vir die sesde agtereenvolgende jaar as die beste aktrise in ʼn komediereeks vir haar rol in Veep aangewys is. Dit is Louis-Dreyfus se sewende Emmy in dié kategorie en haar agtste Emmy in geheel.

Sy is intussen oorval met boodskappe van bemoediging van bekendes soos Olivia Munn, Lena Dunham en Olivia Wilde. “Ons stuur vir jou baie liefde en baie sterkte,” het Munn op Instagram geskryf.

Volgens die Amerikaanse nasionale borskanker-organisasie word borskanker jaarliks by meer as 250 000 vroue gediagnoseer. Meer as 40 000 van dié vroue sterf.

Dié syfers verskil in Suid-Afrika. Volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) is borskanker die mees algemene kanker onder vroue en ook die tweede grootste sterfteoorsaak onder vroue. In Suid-Afrika staan een uit elke 26 vroue die kans om borskanker te ontwikkel.

Hoewel borskanker by mans ongewoon is, reken Kansa dit is sekerlik een van die grootste wanopvattings dat mans nié kan borskanker kry nie. Volgens dié organisasie sal 500 mans uit elke 1 500 mans by wie borskanker gediagnoseer word nié die siekte oorleef nie omdat hulle nie vroeg genoeg gediagnoseer en behandel word nie.

Vir meer inligting, besoek die Kansa-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.