Aktrise ná kankerstryd: ‘Ons is sterker as wat ons dink’

Crystal Donna Roberts na haar kankerbehandelinge agter die rug is (Foto: Instagram)

“Dit is een van ʼn mens se grootste vrese om dit te hoor. Dit was asof die mat onder my uitgepluk is.” vertel sy oor hoe dit gevoel het toe sy hoor van die kanker.

Crystal Donna Roberts, bekend vir haar rolle in die eerste reeks van Fynskrif en die rolprent Krotoa, is in Maart vanjaar met fase twee borskanker gediagnoseer nadat sy erge pyn in haar borste ervaar het.

Sy het egter nou ál haar kankerbehandelings agter die rug en vertel aan Maroela Media dat sy nie geweet het hoe sterk sy is, voordat sy kanker moes deurmaak nie.

Roberts het reeds in November verlede jaar vir biopsies begin gaan, maar eers na die derde keer is kanker in haar linkerbors gevind. “Al gaan ʼn mens vir die toetse, was dit ʼn groot skok.”

Sy sê daar was nie voorheen borskanker in haar familie nie, behalwe vir een tannie wat dit ook gehad het. Drie van haar oumas en oupas het wel ook ʼn ander soort kanker gehad. Sy sê sy het vroeër reeds genetika-toetse gedoen, maar dat dit getoon het dat sy nie ʼn vatbaarheid vir borskanker gehad het nie.

“Ná die skok het ek dadelik begin beplan, ek wou weet wat ons kan doen om hierdie ding te klop.”

Roberts moes op die dag van haar diagnose ook nog gaan werk. Sy vertel dat haar agent dus een van die eerste mense was wie sy vertel het, omdat hulle haar skedule moes aanpas volgens die nuwe vereistes vir doktersbesoeke, behandeling en hersteltyd ná chemosessies.

Cystal Donna Roberts (Foto: Instagram)

Roberts het drie biopsies, ʼn dubbel mastektomie, vier reekse chemo en 25 behandelings met bestraling deurgemaak, en nou kyk dié sprankelende aktrise net vorentoe.

“Ek voel lekker. Ek is oorweldig. Toe ek op daardie bed lê en my behandelinge klaarmaak het ek net gedink aan die afgelope jaar wat ek toegewy het aan gesond raak. Ek het aanhou werk en ek het so normaal as moontlik probeer lewe, sonder om in ʼn gat van bejammering te verval.

“Toe ek daar lê en ek weet dit is nou klaar, het die trane net begin vloei,” sê sy.

Roberts is wel ʼn bietjie op haar senuwees met die wete dat die kanker kan terugkeer. Sy sê sy dink konstant aan wat gaan gebeur as daar ʼn maand later weer iets op die skanderings wys.

Hoewel dit lyk of Roberts altyd positief is omdat daar altyd ʼn glimlag op haar gesig is, vertel sy dat dit by tye baie moeilik vir haar was.

“Baie mense sê hulle sou hierdie soort goed weer oor doen as hulle kon kies, omdat dit hulle baie geleer het, maar ek raak partykeer kwaad. Ek sou eerder my hele lewe daarsonder wou gaan. Ek wou nie op so ʼn manier ʼn les leer nie, gee eerder vir my ʼn ander manier om dit te leer.”

Iets wat haar wel positief maak is dat sy haarself verbaas het met hoe sterk sy werklik is.

“Toe ek hoor van die hele ding en wat ek gaan moet doen, het ek gedink: ‘Hoe op dees aarde gaan ek dit doen?’ Maar ek het dit gedoen! My ingesteldheid is oor die algemeen meer positief as voorheen.”

Crystal voor haar hare uitgeval het (Foto: Verskaf)

Behalwe vir haar ingesteldheid het sy ook meer begin oefen, ophou rook en gesonder begin eet. Sy sê ook sy dink nie meer so baie aan die kleinighede nie.

“Ons is so gewoond om te stres oor ʼn puisie of jou vet maag. Maar nou is dit nie meer belangrik nie, my lyf is gesond, en dís wat belangrik is. Wie gee om as ek nie soos Kendall Jenner lyk nie?” skerts sy.

Roberts vertel dat een van die mees traumatiese ervarings in haar kankerstryd was om haar hare te verloor.

“Ek mis my hare,” sê sy. “Ek het ʼn tegniek genaamd ‘cold capping’ probeer sodat my hare nie uitval van die chemo nie, maar na die eerste chemosessie het dit reeds begin uitval.

“Dit was eintlik vir my erger om my hare te verloor as om my borste af te sny. Dit was traumaties, die hare op my kop, my wimpers en wenkbroue – al die hare op my lyf het uitgeval.

“Dit gaan meer oor ydelheid. Ek het in ʼn stadium in die spieël gekyk en gedink ek herken nie myself nie. Ons neem so baie tyd, veral kunstenaars, om goed te lyk en om jouself te leer ken. Dis waaroor dit gaan want nou ken ek nie meer myself nie.”

Sy vertel dat haar vriendin, die bekende radio en-televisiepersoonlikheid Elana Afrika-Bredenkamp, ses pruike vir haar as ʼn geskenk gegee het, wat sy nou kan dra tot haar hare teruggroei.

Sy sê die lig in die donker is dat sy beter geraak het om aan te pas by ʼn nuwe normaal. “Dit gee my ook die kans om my hare gesond uit te groei, en dít is opwindend. Dit is soos ʼn nuwe begin.”

Roberts wil van nou af so gesond as moontlik lewe en so veel as moontlik pret hê – en vir haar sluit dit baie vonkelwyn en rooiwyn in.

Twee dinge het vir haar tydens dié stryd uitgestaan, wat sy nou vir mense wil vertel. Eerstens, dat ons almal baie sterker is as wat ons dink – onthou dit en vat alles een dag op ʼn slag. En tweedens dat jy iets merkwaardig met jou lewe moet doen.

“Ek het ʼn siekte gehad wat direk aan die dood gekoppel word, ek het dit direk in die oë gestaar. Dan besef jy dié lewe is ʼn geskenk. Ek lewe, so wat kan ek doen met hierdie lewe van my?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

EKKE ·

Ek haal my hoed af vir mense soos Crystal, wat so ‘n veggees teen die kanker het. Agv agterlosigheid, het my sus nooit gegaan vir enige ondersoeke/toetse nie, en toe sy haar oë uitvee, toe is die kanker reeds is fase 4. Sy was ‘n “vegter” vir 11 jaar, maar het ongelukkig op 27 Mei “opgehou om te “veg” teen haar siekte.

Vegtertjie ·

Vegtertjie hou net aan, jy is soooo sprankelende bondeltjie energie, pas jouself mooi op, ons geniet jou vertolkings.

Essa ·

Crystal Donna, jy is pragtig. Ek is bly dat jy jou eie innerlike krag leer ken het deur hierdie beproewing en ander kan bemoedig. Sien uit daarna om jou spoedig weer in ‘n goeie drama (soos Fynskrif se “cheeky” karakter!) te sien. Beste wense ????????????

Angie ·

10 september sal altyd by my bly toe die dokters vir my se ek het nierkanker stage 4…. Ek moet 30 bestralings kry en permanent nou op chemo pille bly aangesien dit nie geneesbaar is nie….. Baie dankie vir jou boodkappie dat n mens sterker is as wat jy dink en ja dit is n permanente lewens verandering….. Sterkte vir die pad vorentoe

charmaine ·

Ek moet se ek bewonder alle mense wat hierdie siekte oorleef. Behalwe om vermoor of in n motorongeluk te wees is hierdie groot K ook een van n gevreeste siektes waarvoor ek bang is dit vra nie n naam of van nie dit gebeur net! Baie sterkte!

Zettie ·

Die tipe stories maak my bang. Ek het nie ‘n mediese fonds nie. Kan die nie bekostig nie. Ek is in my 40’s. Was nog nooit vir ‘n mammogram nie. Was laas vir ‘n papsmeer toe my dogter gebore is, baie jare gelede en my werk is van so aard dat ek bitter moeilik kan afkry om kliniek toe te gaan. Dan is ons klinieke waar ek woonagtig is, nie eens so waffers nie. Hoe moet ek maak? Ek het nie geld om fisies vir al die nodige ondersoeke en toetse te betaal nie. Ek wonder ook altyd of daar ander dames in my posisie is? Baie sterkte met jou padjie vorentoe Crystal. Dankie vir jou inspirasie.

Rika ·

Ja nee, Zettie. Ek voel jou kommer. My man is alreeds 2 jaar sonder werk, en natuurlik is ons afhanklik van my inkomste en het ons dus ook nie ‘n mediese fonds nie, want dis onbekostigbaar duur. Een dag, wat nog te se moontlike dae van behandeling ens ens ens, beteken een dag se salaris wat nie inkom nie. Maar is die een dag vir toetse nie ‘n minimale opoffering wat jy maar kan doen nie?
Ek gaan beslis volgende week vir toetse, my 3 dogters is nog bitter jonk, en ek wil in alles vir hulle ‘n voorbeeld wees.
Ek dink miskien is dit net ‘n kwessie van jou oe toeknyp en dit doen en klaar kry. Ek verstaan dat ons klinieke nie vreeslik toegewyd is nie, maar ons kan ons flou dink aan verskonings om net nie te gaan nie. My tannie is oorlede in Augustus aan borskanker. Sy het regtig ‘n moedige stryd gestry. Sy was al in haar 70’s en ek dink sy was net moeg. Sy het by die staatshospitaal behandeling ontvang en hulle kliniek in Sonop, buite Brits, was baie goed vir haar.
Ek was bly om die positiewe berig te lees, en ek is dankbaar dat die mooi mens haar kanker kon oorwin, haar lewe le nog voor, en ek glo sy sal ‘n verskil kan maak.

bjsmit ·

Ja nee dit is nie lekker om te hoor jy het kanker nie is 7 jaar terug gediagnoseer het terug bakly laas week die nuus gekry eks skoon ek moet se jy leer hom ken in die tyd is nou n baie sterker mens en baie dankbaar

Jo ·

Wow!!!! So dankbaar vir elke oorwinning. Dink aan almal wat die stryd veg xxxx

Sonja Alberts ·

WELL DONE CRYSTAL JY IS PRAGTIGE AKTRISE EN STERKTE MET ALLES DINK AAN JOU!!

poffie ·

Jip dis nou 6 maande na chemo en bestraling en chemo. Ons ken van deursettings vermoe……….. jy hou nooit op om op te staan en voort te gaan nie. Jou geloof is die een wat jou dra.

Ema ·

Crystal jy was en is sal altyd een van my fav aktrises. Ek dank onse Hemelse Vader dat Hy jou die krag gegee het om teen kanker te baklei. Sterkte en weet jy het baie spesiale plekkie in my hart.

Potjie ·

Na n reeks chemo sal mens enige iets doen net om gesond te wees en te bly.

Hoop in Jesus Christus ·

Ek het self kanker gehad en prys die Here, Hy het my genees!!! Begin met ñ daaglikse proses in jou lewe om jouself geestelik te reinig van enige sondes of dinge wat nie in jou lewe hoort nie. Soek die Here se aangesig vir ñ intiemer verhouding. En ‘was’ jouself daagliks in die Woord. Dit is nie ñ “eenmalige kwikfix” nie. Ook het ek ñ boek in daardie tyd gekry ‘Healing begins with sanctification of the heart’ (Dr. MK Strydom). Dit het my ekstra gehelp om te verstaan. Die boek kan gratis afgelaai word as PDF.

hercu ·

baie sterkte Crystal :-)

ek is in Jan 2014 gediagnoseer met Diabetes2 en volgens baie kenners en medici is dit die gevaarlikste “silent killer”

my vraag is hoekom word ‘n bohaai gemaak as iemand gediagnoseer word met kanker, maar ander siektes soos diabetes is op die agtergrond!! vra ek vir ‘n vriend :-)

#degenerativediscdisease
#ostheoarthrituswarrior
#chronicfatiguewarrior
#sciaticanervewarrior
#fibromyalgiawarrior
#fibrobrainfogwarrior
#chronicpainwarrior
#psoriasiswarrior
#diabeteswarrior
#deprowarrior

Berdéhan Brand ·

As ons swak is, kom Sy volle kragbin ons tot werking.

Leefstyl ·

Diabetes2 is ‘n leefstyl siekte, m.a.w iets wat ontstaan agv ongesonde gewoontes ek liggaamsmates ens. Dis iets wat mens met ‘n waarlik gesonde dieet, daaglikse behoorlike oefeninge en die regte medikasie (wat minimum newe-effekte het) grootliks kan beheer en selfs kan omkeer.
Kanker is iets wat mense kry al lewe hul ook hoé gesond. Dis imminently lewensgevaarlik en die behandeling daarvan is intens en het newe-effekte erger as jou ergste nagmerries.
Antwoord dit jou vraag?

Hoop in Jesus Christus ·

Liewe Hercu, jy kan ten volle genesing ontvang vir diabetes. Gaan loer na die boek wat ek hierbo genoem het van Dr. M.K. Strydom.

Berdéhan Brand ·

As ons swak is, kom Sy volle krag in ons tot werking.

humor ·

Hoop in Chritus Jesus dankie vir jou treffende getuienis. My vroulief het ook die kankerstryd uiteindelik na 11 jaar verloor. So dankbaar die krag was nie in haarself gelee nie. Haar grootste krag was die feit dat sy met haar hele hart kon bid: “Laat U wil geskied.” Die krag van kinderlike oorgawe. En sy het die dood ook as gawe van die HERE aanvaar. Hierdie gelowige aanvaarding het haar meer as n oorwinnaar gemaak. In hierdie stryd was sy altyd n blymoedige en selfs vrolike mens.

Potjie ·

Geloof in genesing deur ons Vader bring ten volle genesing. Ons moet net onsself ontledig van ons eie begeertes en ons geloof onwrikbaar stel in groot Geneesheer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.