Amor: ‘Deur álles bly ek net ʼn ma’

Amor tydens haar onderhoud met Maroela Media (Foto: Marius Vermaak)

Eers het sy oorweeg om ʼn boek te skryf om elke emosie en storie van die laaste jaar of twee vas te vang, maar toe besluit die sangeres en televisiepersoonlikheid Amor Vittone dat ʼn nuwe album – een waarop sy die meeste liedjies nóg geskryf het – ʼn beter medium sou wees om háár storie te vertel.

Vittone het pas haar jongste album, Ek bly net ʼn ma, uitgereik. Die album is grotendeels Afrikaans en bestaan uit 13 snitte waarvan die meeste uit haar eie pen is.

Die sangeres vertel in ʼn onderhoud oor dié album aan Maroela Media sy het besluit om Ek bly net ʼn ma onafhanklik uit te reik omdat kunstenaarsvryheid vir haar belangriker as ooit vantevore was.

Vittone sê sy het ʼn storie gehad om te vertel en wou nie deur ʼn platemaatskappy voorgeskryf word nie. Om die waarheid te sê, dié keer het sy geskryf nét wat sy wil, vertel sy.

“Die besluit om hierdie album op my eie te vervaardig en uit te reik was nie maklik nie. Ek moes ʼn bietjie geld leen by my pa,” terg sy.

“Maar dit was die régte besluit. Ek wou dié keer iets doen waarop ek heeltemal my eie stempel kon druk. Ek wou die storie vertel wat ék wou vertel sonder om voorgeskryf te word. Ek is nou 46 en – as ek dit in Engels mag sê – I mean business now. Ek het nou vir eers genoeg gespin en gedans, en hoewel dit steeds ʼn deel van my bly, gaan dit nou vir my meer as ooit vantevore oor die musiek en die woorde,” vertel sy.

Die omslag van haar album, Ek bly net ‘n ma (Foto: Facebook)

Sy sê sy kon nie dink aan ʼn beter manier om haarself uit te druk as met ʼn nuwe album nie. Die sangeres meen die titel van die album, nes al dertien snitte daarop, verklap baie van haarself.

“Die titel lê my na aan die hart omdat ek in ʼn stadium besef het dat ek tussendeur storms en goeie tye eintlik werklik net ʼn ma bly. Deur alles in die lewe, deur die goed en die sleg, het ek nog altyd net ʼn ma gebly.  En om ʼn enkelma te wees is soms moeilik,” sê sy.

“Die lewe was hierdie jaar aan my kant. Ek kon baie tyd saam met my kinders deurbring en dit was ook die eerste keer dat ek werklik tyd gehad het om ondersoek na my lewe in te stel. Baie dinge wat in die verlede gesê is, het daartoe gelei dat ek shows verloor het, en hoewel ek dikwels gevra het hoekom hierdie dinge gebeur, het ek nog altyd die Here se hand in alles gesien.

“Ja, ek was baie kere diep hartseer en ek wou selfs nie eens uit die bed uit klim nie – en baie mense kan daarmee vereenselwig. Maar nou is ek weer oukei. Die album is ʼn weerkaatsing van waar ek was, waar ek nou is en selfs waar ek hoop om te wees. Dit sê soms het ek geval, soms het ek geleer, maar nou is ek wyser as ooit vantevore.”

Tydens die maak van dié album wou sy selfs nie aandag aan die kopersmark gee nie, vertel sy. Vittone sê sy wou alles moontlik doen om dié album eg aan haarself en háár storie te hou.

Amor tydens haar onderhoud met Maroela Media (Foto: Marius Vermaak)

“Ek wou nie iets doen omdat die mark dit van my verwag óf dit van my wil hê nie. Ek gaan sing wat by my pas; en as jy nie van my hou nie, is dit regtig oukei. Toe ek 21 jaar oud was, het ek nog verskriklik baie omgegee, maar deesdae wil ek net eg wees aan wie ek is. Ek sê wat ek wil op die verhoog en ek sing wat ek wil. Die album gaan juis daaroor dat jy nie gelukkig kan wees as jy nie jouself is óf jouself vind nie. Almal wat daarna luister sê hulle kan hoor dis my pen op papier; dis nie ʼn platemaatskappy se stem wat in die musiek vorendag kom nie.”

Is sy nie bang om haar hart bloot te lê nie? “Ek dink dis ʼn voorreg,” sê sy.

“Ek het talent gekry om dit te doen en dis lekker om my storie met mense te deel. Ek wil mý ervarings gebruik om ander mense te leer – of dalk selfs ook te waarsku. En om mense te leer om op te staan.

“Ek het dít by my ouers en my kinders geleer. My pa sal altyd sê: As iets jou te veel pla of bekommer, los dit net, dit maak jou siek, dit gee jou ʼn kanker. Maak jou los daarvan. En dis wat ek nou doen.”

Dans in jou taal, die kykNET-program waarvan sy die hoof-beoordelaar is, keer later vanjaar terug na die kassie. Sy beoog ook om met die nuwe album te toer. Vir meer inligting, besoek Amor se Facebook-blad. Om ʼn album te bestel, stuur ʼn e-pos aan [email protected] of skakel 011 432 0369.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Denise ·

Bly om te hoor jy maak jouself los van alles wat nie van belang is nie so moet elke mens maak om gelukkig te wees !!!!

Hannelie ·

Baie bly vir jou Amor. Dis hoe jy voel wat saak maak nie wat ander mense gaan dink of sê nie. Ek gaan beslis jou album koop.

SNEL ·

Pragtige lied, mooi woorde, net jammer sy praat van jy en nie U nie. Klink of sy vir en van die Here sing en nie van n mens nie, en as ons met die Here praat gebruik ons nooit jy of jou nie, maar U.

Nel ·

Dit klink vir jou so, maar dalk nie vir die ander nie, sy sal die snit seker verander wanneer sy n “gospel” cd uitbring en nie op die nie.

bren ·

Nie n Amor aanhanger nie; maar hierdie is een van haar bestes nog! Ek kon deur dit luister, haar stem klink goed, en sy lyk asemrowend. Wel gedaan! ek hou hiervan.

Sue ·

Nee wat, hou maar verby, soos sy se, as mens nie van haar hou nie, is dit okay… Ek kan daarop klink.

johan ·

Ek jou glad nie daarvan nie wens Patricia Lewis bring weer n nuwe album uit

E ·

Liewe Amor,

Daar is niks meer helend en lekker as om tevrede te wees met wat jy is en jou lewe te geniet soos jy is. Ek het ook baie seer in my lewe deurgemaak, maar ek glo die dinge maak van ons beter mense. Good for you as jy op die punt gekom het van aanvaarding. Ek is ook nou daar in my lewe. Ek verstaan 100% waar jy vandaan kom.

Ek sê altyd, maak nie saak wat op hierdie aarde verkeerd loop nie. As jy jou bes doen en jou geliefdes raak met liefde en ons maak dit net net om by Jesus te wees was alles die moeite werd.

Wat God van ons dink is baie belangrik, maar van skinderstorietjies en stertjies is nie veel van belang nie.

Mag God jou en jou kinders sëen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.