André Schwartz vertel van sy gesondheidstryd

André Schwartz (Foto: Facebook)

Die bekende “Ek wil jou nooit weer sien”-sanger, André Schwartz, het onlangs bekend gemaak dat hy al vir meer as ʼn jaar aan motorneuronsiekte (MNS) ly.

Hy het tydens ʼn onderhoud met Hannes van Wyk op Kwêla openhartig gepraat oor hoe dit sy lewe beïnvloed.

“Dit was ʼn lang pad. Ek was besig met die pantomime, die jaar voor verlede jaar, en ons het tong oefeninge gedoen. Ons was besig met ʼn r-klank toe ek agterkom dat net ʼn deel van my tong werk,” het Schwartz gesê.

“Ons het toe in April verlede jaar begin met repetisies vir Sound of Music, en ek kom toe weer dieselfde probleem met my tong agter.”

Schwartz is daarna na twee neuroloë toe om uit te vind wat fout is. Hulle het ʼn paar toetse gedoen en die tweede neuroloog het ʼn maand later die diagnose gemaak dat hy MNS het. Die dokter wou wel ʼn tweede opinie kry, so Schwartz is na nog ʼn neuroloog toe om nog toetse te doen, waarna die diagnose bevestig is.

“Motorneuronsiekte beteken basies dat jou liggaam afsluit. Maar die wonderlike ding vir my, en die rede hoekom ek hieroor wil praat, is dat vir die eerste keer is daar iets op die mark wat kan help teen die siekte,” het Schwartz gesê.

Schwartz het ook gesê dat hy gelukkig is om relatief aan die begin van die siekte daarmee gediagnoseer te word. Hy verduidelik dit as ʼn lang proses van uitskakeling, omdat baie ander siektes hulself as MNS kan voordoen. Daarom moes hy soveel toetse ondergaan om by die uiteindelike diagnose uit te kom.

Andre Schwartz - Tweede KansMNS kom gewoonlik in vier fases – eers tot by die skouers, dan tot jou middellyf, dan tot die heupe en dan die bene. Schwartz sukkel tot dusver met verswakking in sy skouers en hande.

Schwartz het gesê hy het dadelik aan “die einde” gedink toe hy sy diagnose hoor.

“Wanneer jy sulke nuus kry, dink jy soort van aan wat al in jou lewe gebeur het, en [jy vra jouself]: ‘Is ek reg om te gaan?’ Dis nogal ʼn interessante proses van bestekopname doen van jou lewe, met daai ding in jou agterkop.”

Joost van der Westhuizen, wat ook MNS gehad het, is in 2017 oorlede na ʼn ses jaar lange stryd teen dié siekte. Joost en Schwartz het mekaar goed geken en Schwartz het gesê hy het dadelik aan Joost gedink toe hy van sy eie diagnose uitvind.

“Mens praat met die dokter en jy vra hoeveel tyd jy het. Dit kan twee jaar, drie jaar, ses jaar wees, en dan weet jy reeds vir ʼn jaar lank dat jy dit het. Dan dink jy: ‘Het ek dalk nog net ʼn jaar oor?’ Ek dink die onsekerheid van hierdie siekte vang ʼn mens verskriklik,” het hy gesê.

André saam met sy ma, Ina. (Foto: Facebook)

Schwartz het eers slegs vyf mense vertel, maar hy wou eers vir sy ma vertel voordat hy met die media begin praat het.

“Ek en my ma was op my plaas en ons het buite gesit toe ek haar vertel het. Ek het haar in ʼn stadium vertel waar ek geweet het hoe ek die siekte gaan hanteer. Daar is nou ook vir die eerste keer medikasie wat dalk kan werk. So ek kon vir my ma sê hiér is wat fout is en hiér is die hoop.

“Ek is nie bang om te gaan nie. Dit gaan met ons almal gebeur. Ek het ʼn wonderlike lewe gehad tot dusver, en as dit nou moet gebeur dan gebeur dit. My grootste bekommernis is my ma. Ek weet daar is baie mense wat na haar sal kyk, maar niemand kyk na iemand soos jy self na jou ma kyk nie. Dit is my grootste probleem,” het hy gesê.

Schwartz het reeds stappe geneem om sy leefstyl te verander om die aanwakkering van die siekte te vertraag.

“Een van die grootste dinge wat die siekte aanwakker is iets soos stres, so ek het net besluit dit is weg. By my bemarkingsmaatskappy doen ek nou net konsepte en verder niks. Ek het mense wat my gehelp het met my eetgewoontes en my hele dieet verander. Ek rus ook meer, want mens moet luister na jou liggaam,” het hy gesê.

Alhoewel Schwartz stres wil verminder, is hy nie van plan om minder te sing nie.

“Ek sien dat ek in die toekoms net meer en meer gaan doen. Hierdie ding het my laat besef waarvan ek die meeste hou. Ek is lief vir sing, en ek wil dit meer doen. Ek kan ook op ʼn breër vlak oor die ding (MNS) praat. As iemand net kan huis toe gaan na ʼn konsert en iewers iemand anders ʼn bietjie hoop kan gee, jis, dan gaan ek ʼn baie gelukkige mens wees,” het hy gesê.

Schwartz het gesê hy het in hierdie tyd net agtergekom hoe baie mense daar is wat hom liefhet.

“Ek het natuurlik gesukkel met die diagnose, jou hele lewensuitkyk verander. Wat jy gedink het is ʼn toekoms, is glad nie meer daar nie en wat jy gedink het is more, is ʼn twyfel. Maar om agter te kom hoe lief mense vir jou is en hoe baie mense omgee, het my gevang, want dít verwag mens nie,” het hy gesê.

Kyk die volledige Kwêla-onderhoud hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

MP ·

Baie jammer om te hoor. Het baie respek vir jou en jou talent. Ons glo en vertrou dat die Here jou sal bystaan en gesond maak. Met so ‘n positiewe uitkyk op alles is enige iets moontlik. Baie sterkte.

Natasha ·

Ek lief jou musiek nog altyd. En jy is ‘n sterk persoon. Ek twyfel nie een dag in jou nie. Ek bid God se genade en seën oor jou pad, jou gesondheid en dat jy net op “nuut” hier sal uit stap! Jy stel ‘n goeie voorbeeld hier vir almal van ons!

Elsabie ·

Baie sterkte Andre, ek luister al van jongs af na jou. Ek hou jou in my gebede!

bosluis ·

Wat n bemoedigende, oopkop en positiewe gesindheid, het Andre nie. Alle sterkte voorentoe, mag die nuwe medikasie wat beskikbaar is n wesenlike verskil maak vir jou en ook ander pasiente.

Hannelie ·

Ek het na Kwêla gekyk, en ‘n knop in my keel gekry toe André sê sy grootste bekommernis, is sy ma. Soveel liefde en respek. André ons bid, glo en vertrou dat die nuwe medikasie ‘n verskil gaan maak. Jy is in my gebede!

Estelle Kuys ·

There is power in the blood of Jesus. Ek is 3 verskillende kere total genees want ek het die gebede geglo. Daar is wonderlike Pastore met die gawe van genesing uit Jesus se hand.

Ria Maritz ·

Baie sterkte.

“Met jou in my lewe” sal altyd die mooiste wees.

Goeie advies ·

Hello André. In baie gevalle is MNS afkomstig van sekere voedselsoorte waarvoor jy intollerant mag wees en dan later serebrale alergiee veroorsaak as jy dit nie uitskakel nie. Gaan doen beslis die ImuPro bloedtoetse deur Well-Pro wat toets vir 270 voedselsoorte. Sien die link: https://www.wellpro.co.za/our-tests/imupro/introduction/

Anoniem ·

Nee jong, dis mos nie medies korrek nie! MNS se oorsaak is nog nie vasgestel deur die mediese wetenskap nie!

TLC ·

Andre
Sterk wees mater
Mag jy bereik wat jy nog wil en nog meer

Katrien ·

Jy was en is n ster. Jy inspireer my… ek bid vir jou André. Sterkte vir jou!

Wenner ·

My Pa het dit gehad, en my aangenome seun se biologiese pa het dit nou (ja my seun het sy biologiese ouers opgespoor). Dis maar n nare siekte, maar met di1e mediese wetenskap wat al so ver ontwikkel het, kan die simptome vir n geruime tyd redelik onder bedwang gehou word. Ons almal se sterfdatum is lank terug reeds bepaal. Die voordeel met hierdie siekte is, dat die mense tyd kry om hul sake in order te kry, en vrede te maak indien daar onafgehandelde sake is. Jou houding is reg, Andre. Gryp elke dag, en LEEF!!

Beatrix ·

Andre..dis baie min dat mense uiter wat jy gese het..dat jou ma jou grootste bekommernis is..sy moet seker wonderlik voel…deesdae is ouers in die pad. Baie sterkte vir jou en jou moeder
.

JAN ·

Sterkte . Mag God sy engele stuur.
Wees versigtig vir insekdoders mense.!! Kan simptome vererger van MNS. Organofosfaat en karbamaat ens gif. Miskien selfs die hele oorsaak by vatbare mense. Landbougif is grooooot bekommernis.

Marinda ·

Sterkte Andre. Jy het die regte attitude. Ons moet nooit laat enige iets ons onder kry nie.

Hallelujah ·

Hi Andre. Ek was en is nog altyd ‘n groot fan van jou – noem dit maar ‘n “fan”. Phatom of the Opera oh my greatness nog ‘n goeie sing en storie. Staan sterk staan strerk met God. En jy het ‘n pragtige mamma – kyk agter haar so lank as wat jy kan.

Morrie ·

Ek onthou nog my Ma het toe ons ons eerste CD speeler koop, was Andre se CD een van die eerste 2 CD’s wat my Ma gekoop het. Ek het nou nag daai CD by my en luister hom nog af en toe. Ken elke lied op daai CD, hehehe. Baie sterkte Andre. Vir God is NIKS onmoontlik nie. Sien uit na jou volgende CD en/of musiek spel.

VanAfrika ·

Het jou destyds in Alberton City voor die Ok sien sing, net aan die begin van jou loopbaan. Suksesvol het jy van daardie nederige stage tot groot hoogtes gevlieg. Jy het hard gewerk en elke baksteen vir jou hemelhuis gelê. Verder bid ek dat die Heer Sy hand op jou sal lê en bid vir volkome genesing. Niks is onmoontlik in die Heer se hande nie. Hou geloof en moenie moed verloor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.