Anna-Mart: Dís waar alles begin het

Anna-Mart van der Merwe (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Van Christel in 7de Laan tot Antoinette in Poppie Nongena het Anna-Mart van der Merwe (56) reeds ʼn lang pad gestap in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf. Sy het beslis diep voetspore gelaat vir diegene wat haar plek enigsins durf volstaan.

Anna-Mart vertel dat sy nie van kleins af geweet het sy wil ʼn aktrise word nie. Op Vredendal, waar sy grootgeword het, het sy wel by die skool gediggies voorgelees, maar sy was nooit vreeslik vermakerig nie.

“Ons het nie in daardie jare drama op skool gehad nie en ek kom maar uit ʼn tyd waar dit ʼn bedryf met te veel losse sedes was om eens aan te dink. Ons het darem ʼn bioskoop gehad, so ons kon rolprente kyk. Maar televisie het eers in my hoërskooljare gekom,” vertel sy.

Anna-Mart wou graag ʼn werk in tale gedoen het; sy het altyd gedink sy sal ʼn vertaler vir die Verenigde Nasies of ʼn ambassadeur vir die land word. “Ek wou nog altyd betrokke wees by die wêreld, by die lewe en die mensdom,” sê sy.

Sy wou toe drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer, maar haar pa het haar aangemoedig om eers ʼn onderwys- of BA-graad te voltooi. Sy het toe ʼn algemene BA-graad begin, tot haar pa aan die begin van haar eerste jaar oorlede is.

“Ek het toe gedink dit is die natuur se manier om vir my te sê ek moet nou verantwoordelikheid aanvaar vir my eie lewe,” sê sy.

Neels van Jaarsveld en Anna-Mart van der Merwe in ‘Koningin Lear’. (Foto: KKNK/Hans van der Veen)

Anna-Mart het toe skelm die aktrise Babs Laker se dramaklasse begin bywoon wat by die Akademie vir Dramakuns in Stellenbosch aangebied is. “Dit is sý wat uiteindelik die vuurtjie in my aangesteek het,” sê sy.

“In sekere mate het toneelspel na my toe gekom, want ek wou ʼn funksionele werk hê waar ek bydra tot die gemeenskap. Ek kan met emosies dan stories vertel en stories gee inligting weer; jy kan mense inspireer of skok daardeur.”

Sy het toe twee jaar van haar BA-graad by die Universiteit Stellenbosch klaargemaak voordat sy vir ʼn drama-oudisie by die Universiteit van Kaapstad gegaan het. Laker het haar ook met dié oudisie gehelp.

“Ek onthou dit so goed: Ek het ʼn telegram gekry dat ek die oudisie geslaag het en ek het op daardie oomblik instinktief gevoel asof dit ʼn pad gaan wees wat ek sal stap,” sê sy.

Noudat Anna-Mart al ʼn gesoute en gerespekteerde aktrise is, sê sy dit is vir haar onmoontlik om haar gunstelingkarakter te kies wat sy al vertolk het omdat sy soveel tyd saam met elkeen deurbring.

“Elke karakter is spesiaal omdat jy so diep in hul kop inklim. Jy as aktrise moet ʼn proses deurmaak om daardie karakter en die menslikheid agter hom of haar werklik te verstaan. Jy kan nooit in oordeel van jou karakter staan nie. Daarom is ek vir elkeen baie lief.

“Ek is dankbaar dat ek hulle kon ontmoet, saam met hulle kon wees vir ʼn ruk en hulle kon leer verstaan. ʼn Mens leer baie oor jouself en oor menslikheid daardeur,” sê sy.

Hoewel sy lief is vir haar karakters, is dit vir haar maklik om haar medium van toneelspel uit te sonder.

“Teater is die terrein waar ek die gemaklikste is en die huis waarin ek die veiligste voel. Ek kry ook die meeste genot daaruit, dit bly my eerste invalshoek tot akteurskap,” sê sy.

Ook omdat die gehoor ʼn rol speel in die produksie wat nie vooraf gerepeteer kan word nie, ervaar sy dit as die medium wat waarlik eg is.

“Teater is wonderlik omdat jy fisiek die storie op die verhoog uitleef; jy begin daarmee en jy eindig ook daar. Dit is so akuut, jy móét aangaan, jy kan nie teruggaan vir ʼn tweede of derde opname nie.”

Wanneer Anna-Mart nie op die verhoog is of besig is om in ʼn karakter se kop te klim nie, hou sy daarvan om tyd op haar eie deur te bring.

“Ek is ʼn bietjie van ʼn kluisenaar, want ek is mal oor stilte. Ek is lief daarvoor om op my eie te wees, dit gee my krag en dit maak my rustig,” sê sy.

“Om by die huis te wees, rond te ploeter en tyd met my dinge deur te bring, dít is vir my lekker. Om my tuin in te haal, goed rondom die huis te doen. Dit is ook heerlik om vreesloos, sonder om haastig te wees, winkel toe te gaan met jou lysie.”

Anna-Mart geniet dit ook om fiks te bly. Behalwe daarvoor om fisiek fiks te bly en oefeninge te doen (waarvan in die natuur stap haar gunsteling is), is dit ook belangrik om fiks te bly met die kunste.

Daarom staan sy ook tyd af aan kunsuitstallings, boeke lees, teaterstukke kyk. Sy bly op die hoogte van rolprente en plaaslike televisie. “Ek drink dit in en voed myself so op.”

Afgesien van “fiks” bly in die kunste, sê Anna-Mart dit is ook belangrik om getrou aan jouself te bly om suksesvol te wees in die vermaakbedryf.

“Jy moet regtig jou eie waarheid besef en daaraan vashou. Vertrou jou instink, wees jouself, en as jy regtig iets wil doen, gaan daarvoor!

“Besef daar is net een van jou, regtigwaar, daar is net een met jou DNS. Werk daarmee saam, moet dit nie teenwerk nie. Vier jou uniekheid. Jy kry net een kans en net een lewe.”

Nog raad wat Anna-Mart gee, is om jou kop neer te sit en te werk.

“Daar is geen kortpad nie. Die genot is in hard werk, sweet en daar wees, want as die goed dan terugkom na jou toe, is dit net soveel meer en deurdrenk van jou eie bydrae. Hou net aan, niks kom van niks. Ploeg net voort,” sê sy.

Anna-Mart het tien jaar gelede Kaapstad toe getrek nadat sy 25 jaar in Johannesburg gewoon het. Hoewel sy steeds glad nie planne het om nog meer af te skaal as tot dusver nie, sê sy daar sal ʼn dag kom dat sy nie meer werk nie.

“ʼn Mens weet ook nooit hoeveel tyd jy meer saam met jou man oorhet nie. So, op ʼn tydstip sal ek graag meer aandag aan ons verhouding wil gee. My werk is net een faset van my lewe. Ek sal maar nog aangaan, tot daar stories is wat ek nie meer moet vertel nie, want ek glo ʼn storie soek sy eie storieverteller.”

Die storie van Klara Viljee

  • Katinka Heyns se Die storie van Klara Viljee, ’n vroeë werk van Anna-Mart, is by Maroela Media se fliekpiekniek te sien. Dié film is in 1992 met Anna-Mart in die hoofrol uitgereik. Die fliek speel af in die laat 1950’s in ’n klein Suid-Kaapse vissersdorpie waar die hoofkarakter sukkel om haarself van haar verlede te bevry. Nadat sy haar pa en verloofde op die see verloor, besluit sy dat sy nooit weer die see wil sien nie, en bou haar huis agter ’n sandduin.

Buiten Die storie van Klara Viljee, sal Dominee Tienie ook by Maroela Media se fliekpiekniek vertoon. Luan Jacobs sal die gasheer vir die geleentheid wees en Jak de Priester gaan onder andere sorg vir heerlike musiek terwyl kinders kan rondhardloop en klim in die speel area.

Maroela Media se fliekpiekniek vind op 17 Oktober 2020 by  Monte De Dios in Pretoria plaas. Vir meer inligting, of om jou sitplek by die fliekpiekniek te bespreek, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

mitz ·

Voorwaar ‘n pragtige vrou, was nog altyd en nou nog meer stunning.

JJ ·

Wil jy nie vir Emma en Connie gaan uithaal nie? Diep in hul 40’s in maar gaan soos twee st6’e tekere!

Susan ·

Ek weet smaak verskil en hoewel ek haar bewonder vir al die rolle wat sy al vertolk het, doen sy dit nie vir my nie. Sy het ‘n eentonige / plat stem en het altyd dieselfde gesigsuitdrukkings.

Sylvia ·

Wys net hoe goed hulle is want dit is die “rol” wat hulle moet vertolk, sonder eerder die storielyn uit as “kaf”

Pieter ·

O nee.. Anna-Mart is soos rooiwyn… hou ouer hoe beter en mooier…. Uitstaande aktrise!!!!!!

Moedeloos ·

My gunseling aktrise. Plat op die aarde vrou en maak geen ophef van enigiets nie. Wat jy sien is wat jy kry.

AmY ·

Een van ons beste aktrises óóit.
Sal seker altyd een van my gunstelinge bly.
My tweede gunsteling is Illse Roos.
Het julle nie dalk bietjie nuus oor haar ook nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.