Ariana Grande kry vir-ewig-ring

Ariana Grande en Dalton Gomez. (Argieffoto)

Die sanger van “7 Rings”, die Amerikaanse popster Ariana Grande, is Sondag in haar huis in Los Angeles met Dalton Gomez, ʼn eiendomsmagnaat, getroud.

“Dit was klein en intiem, minder as 20 mense het die geleentheid bygewoon. Die kamer was gevul met geluk en vol liefde. Die egpaar en albei families kan nie gelukkiger wees nie,” het ʼn verteenwoordiger van die 27-jarige Grande aan die tydskrif People gesê.

Grande (27) het haar verlowing met Gomez (25) aangekondig in ʼn inskrywing op Instagram in Desember. Dit het foto’s van die paartjie en haar diamant-en-pêrelring gehad, met die onderskrif “vir ewig en nog ʼn paar jaar”.

Die egpaar is vir die eerste keer saam in die openbaar gesien in ʼn musiekvideo vir die liedjie “Stuck with U”. Grande het die lied saam met Justin Bieber tydens die inperkingstyd in Kalifornië opgeneem en vroeër vandeesmaand uitgereik.

Die liriek van die snit verwys na die paartjie wat die inperkingstyd saam deurgebring het. Dit vertel ʼn verhaal wat bekend sal wees vir mense wie se liefde in dié tyd begin blom het. Sommige paartjies het besluit om gou saam in te trek en ander het mekaar maande lank nie gesien nie, alles weens die inperkingsmaatreëls.

Dit lyk egter of die inperkingstyd ʼn gelukkige einde vir die “Thank U, Next”-sanger gehad het.

Die Grammy-bekroonde Grande het ook in 2018 aan die akteur Pete Davidson verloof geraak. Hulle het egter die verhouding minder as vyf maande later beëindig.

Grande het in 2017 opslae gemaak buite die VSA toe een van haar konserte die teiken van ʼn terreuraanval in Manchester, Engeland, was. Honderde mense is in die selfmoordbomaanval beseer en 22 mense is dood.

Die liedjieskrywer en sanger, Ariana Grande, tydens ‘n optrede by vanjaar se Grammy-musiektoekennings in Los Angeles, VSA. (Foto: Robyn Beck/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.