Armand Aucamp vertel oor sy liefde vir kosmaak

Armand Aucamp (Foto: Instagram via Armand Aucamp)

Armand Aucamp, wat onlangs sy eerste resepteboek uitgebring het, het ʼn lang pad gekom van sy treinkoek toe hy vier jaar oud geword het, tot sy deftige Griekse moesaka wat hy deesdae vir gaste voorsit.

Aucamp se resepteboek, Armand kook kaal, is gebaseer op die banting- en keto-diëte, wat ʼn lae koolhidraat inname verg.

“Ek het in 2015 die banting-dieet begin volg. Ek het vinnig uitgevind dat daar wel min kosse beskikbaar is om daarvoor te koop. Dus moes ek self leer kos maak wat binne hierdie leefstyl pas. My liefde vir kosmaak het uit die leefstyl gegroei,” het hy aan Maroela Media gesê.

Aucamp wou vir mense wys dat dit maklik is om dié leefstyl te volg en dat selfs ‘gewone mense’ wat nie professionele sjefs is nie, dié kos kan maak.

“Ek wou net vir mense wys hoe eenvoudig en ongekompliseerd ’n laekoolhidraat‑leefstyl werklik kan wees. Daar is soveel wanpersepsies daaroor. Ek is nie ’n sjef nie, so mense kan gerus wees dat hulle die disse ook self kan maak. Ek wou dit só meer toeganklik vir mense maak.”

“Die dieet het ’n groot impak op my lewe gehad en ek wou daardie alternatief vir mense beskikbaar stel,” het hy gesê.

Aucamp het gesê sy eerste kosherinnering is die verjaarsdagkoek wat hy op die ouderdom van vier gekry het, dié koek het soos ʼn trein gelyk. Maar vandag verkies hy eerder ʼn southappie bo ʼn soetding.

“My gunstelingdis is moesaka. Dit is ʼn Griekse lamdis. Ek is absoluut mal daaroor en dit is baie eenvoudig. Elke keer as ek onthaal, is al my gaste ongelooflik dankbaar as die moesaka voorgesit word.”

As dit nie moesaka is nie, maak Aucamp graag ʼn hoenderpastei of ʼn pasta met murgpampoentjie-noedels vir sy gaste.

“My kosmaakstyl is eenvoudig en kreatief. Ek besluit gewoonlik wat om te maak na aanleiding van watter bestanddele tans in my kombuis is. Dan skep ek sommer ’n dis daaruit. Jamie Oliver is ʼn groot inspirasie, omdat hy perfek by die behoeftes van vars bestanddele pas. Ek is mal oor eenvoudige disse met vars bestanddele,” het hy gesê.

Aucamp het gesê dit is vir hom ʼn ongelooflike eer om sy eie resepteboek te kan hê.

“Dit is werklik ’n besonderse gevoel. Ek kan dit vashou; ek het dit uit niks uit geskep en dit voel ongelooflik bevredigend om dit in my hande vas te kan hou!” het hy gesê.

Aucamp het gesê hy sal beslis nog ʼn resepteboek wil uitbring om só vir Suid-Afrika te wys dat daar nog baie ander wonderlike, gesonde en laekoolhidraat‑kosse daar buite is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.