Bababoetie op pad vir Bok-gesin

Franco en Juan-Ri Mostert word binnekort ‘n seuntjie ryker. (Foto: Instagram/Franco Mostert)

Die Bok-flank Franco Mostert en sy vrou, Juan-Ri, het Dinsdag bekend gemaak dat hulle binnekort ʼn seuntjie ryker gaan word.

Franco se twee dogtertjies, Jemi-Milja en Joia-Bella, het verlede week die nuus gehaal toe hulle Pa Franco en sy spanmaats met hul grimeerkwaste bygekom het.

Die Mosterts het albei die aankondiging met skattige foto’s op Instagram gemaak.

Juan-Ri het geskryf sy het “gelag en gehuil” toe sy agterkom sy verwag ʼn seuntjie en het die nuus via ʼn video-oproep met Franco gedeel.

“Niks sou daardie oomblik ooit beter kon maak nie. Al wat ek wou doen, is om hierdie emosies, hierdie nuus, met hom te deel. Hy moes en sou dan saam met my daar wees, as hy kon,” het sy gesê.

“As hierdie kleine seuntjie ʼn druppel in die oseaan van jóú is, gaan hy die wêreld beter maak,” het sy aan Franco gesê. “Hy is só geseën om in jou voetspore te mag loop.”

Die baba se naam sal later bekend gemaak word.

“Ek is so dankbaar dat die Here ons kom seën het met ʼn sterk en gesonde seuntjie,” het Franco geskryf. “Nou gaan ons eers begin duik in die Mostert-huis.”

Talle bekendes, onder andere die sangers Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel en sy vrou, Liza, wat self verlede week nog ʼn pienkvoet verwelkom het, het die egpaar op Instagram gelukgewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.