‘Ballade’ se Meisie verloor stryd teen kanker

Shareen Swart, die bekende Suid-Afrikaanse aktrise, skrywer en regisseur, het Maandag ná ʼn lang siekbed haar stryd teen kanker verloor.

Swart (58) was veral bekend vir haar rol as Meisie Moolman in die oorspronklike Ballade vir ʼn enkeling-reeks uit die 1980’s asook vir haar rol as Katinka in die SABC 2-sepie 7de Laan.

Sy was ook direkteur van Pali (Performing Arts Lifestyle Institute). Bekende akteurs soos Kaz McFadden, Juanita Velts en Elsje Slabbert van Villa Rosa-faam, was studente aan dié dramaskool.

McFadden, jarelange vriend van Swart en operasionele direkteur van Pali, het Swart se dood aan Maroela Media bevestig. “Dit was gekompliseerd, so ek kan nie bevestig presies watter soort kanker dit was nie. Shareen het ná ʼn lang siekbed swakker geraak en het vanoggend die oorlog verloor,” het hy gesê.

Ursula Botha, voormalige student van Swart, het gesê Swart sal onthou word vir die werk wat sy gedoen het. “Shareen se werk sal ʼn fondasie wees vir ander om op te bou. Dit is met ongelooflike respek en verwondering wat ons haar sal onthou,” het sy aan Maroela Media gesê.

Mari Molefe van Heerden, een van Swart se voormalige studente, het ook hulde aan Swart gebring. “Dit is nie maklik om totsiens te sê wanneer die knop in jou keel die vloei van woorde blokkeer nie. Sy was nie net ʼn mentor en ʼn inspirasie vir my nie, maar ook ʼn vriendin. Sy het soveel mense geraak en al is sy fisiek weg, sal sy nooit vergeet word nie, want haar liefde vir die kunste vloei in elkeen van ons se are. Ek wens ek kon so baie beteken vir haar soos wat sy vir my beteken het. Ek gaan haar mis.”

Shareen Swart. (Foto: Argief)

Shareen Swart. (Foto: Argief)

“Shareen was ʼn besonderse mens vol lewe en passie vir die bedryf. Sy laat beslis ʼn leemte by baie,” het Slabbert aan Maroela Media gesê.

Cintaine Schutte, wat onlangs te sien was in die gewilde kykNET-dramareeks Fynskrif, het aan Maroela Media gesê sy was ʼn dramastudent van Swart voordat sy Pali op die been gebring het.

“Ek het op hoërskool drama by haar geneem en sy is eintlik die een wat my aangespoor het om drama te gaan studeer. Sy was net ʼn groot siel – amper té groot vir hierdie wêreld. Sy het ʼn wonderlike vuur in haar gehad en sy het passie en menswees gekweek by elke persoon met wie haar paaie gekruis het,” het Schutte aan Maroela Media gesê.

Die dramaskool het ook die nuus op sy amptelike Facebook-blad bevestig: “Shareen was ʼn mentor, ʼn inspirasie en vriendin vir baie en laat ʼn ongelooflike nalatenskap agter.”

Die Teaterbystandsfonds het ook hulde aan haar gebring op sosiale media. “Ons betreur die heengaan van Shareen Swart – wonderlike aktrise, regisseur en mentor vir baie suksesvolle jong akteurs, skrywers en regisseurs. Mag haar liefde vir die kuns en haar lig skyn tot in ewigheid.”

Swart laat twee dogters, Hankah en Zoë, agter. Begrafnisreëlings is nog nie bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Nadia ·

Ag ne dis nou slegte nuus. Ek was mal oor haar toe sy in 7 de laan gespeel het. jy gaan verseker gemis word sterkte aan almal.

Afrikaanse Knaap ·

My hart gaan uit na haar en haar familie en naasbestaandes.

Anitavz ·

Rus in vrede. Jy het diep spore getrap in ander se lewens.

sonja ·

Dis die sadste nuus ooit om te hoor van Shareen sy was altyd vol lag en grappies dis ‘n groot verlies vir die Afrikaanse flieks en tv programme en kuns sal jou so mis.. rus sag

Krummel ·

Ai toggie, so jonk nog. Ek onthou haar van Ballade vir ‘n enkeling. Shareen was so ‘n eksentrieke mens en skreeusnaaks vir my. Mens kon jou doodlaag vir haar handelinge. Toe ek nou die berig sien, het ek gehoop dit is weer iets niets waarin sy optree. Ek sal haar onthou vir haar snaakse humor.

Liezl ·

Hi, Krummel, jy’s reg, sy gaan nou in iets nuuts optree. Sy het haar Hemelse, ewige huis binne gegaan en sal haar optredes daar voortsit in die Hemelse Vaderhuis. Tot ons weer sien. Sterkte aan haar dogters, familie en vriende

Essa ·

Wees gegroet Shareen Swart. Jou laaste keer nog geniet as Addie se onverskrokke drama dosent in Knapsekerels ……. Jy laat ‘n groot leemte; maar mag jy nou ewige gesondheid, vrede en liefde ervaar.

Krummel ·

Hoe skaam kry ek nou vir my spelling van iets “niets” i.p.v nuuts. Ek is so gesteld op spelling en roem daarop dat ek altyd regspel. Die rede moet wees dat ek 43 jaar lank al uit die skool is. Mens vergeet blykbaar ook maar?

Essa ·

Nee wat Krummel, moenie spelfoute met vingerfoute verwar nie. Lekker om te sien ander mense is ook gesteld op korrekte spel en grammatika, maar hierdie tikkery op klein skermpies ……… ?

Elsa ·

n Pragtige mens. Baie kon/kan by haar leer. Nou is jy in n plek waar jy geen pyn meer voel. Sterkte aan die naasbestaandes, geliefdes en bemindes.

Hartseer ·

Voel vreemd dat die Suid-Afrikaanse dramabedryf nou moet voortleef sonder haar. Sy het behoorlik haar merk gelos. Rus sag, liewe Shars.

Abe ·

Wat n mooi mens en talentvolle akteur. Die teaterwese is ‘n wonderlike aanwins ontneem. Kom ons eer haar in nagedagtenis en tere herinneringe.

Mickey ·

Hoe voel dit vir my kanker buite beheer is? Het al met onkoloë ens gepraat en dan sê hulle dit is maar net omdat dit nou makliker opgespoor kan woord as jare gelede. Snert, ek dink daar is iets wat al hoe meer mense begin siek maak en die wat weet word gedreig om te stil te bly. My pa is ook aan kanker oorlede sommer net so skielik. Baie sterkte aan die familie, dit is n groot verlies en n groot hartseer.

Sproetjies ·

Sterkte aan haar familie en vriende met julle groot verlies. Sy was n besonderse mens.

Lizl ·

Ai, wat `n verlies! Sy was briljant. En as ek so terug dink aan Ballade vir `n Enkeling… ons het darem maar die tv beste stories gehad daardie tyd! Hedendaagse toneelspelers sukkel maar om oortuigend toneel te kan speel.

Ria Maritz ·

Mickey ek is geneig om met jou saam te stem. Chemoterapie maak mense dood. Ek is ‘n voorstander van Cannabis Olie. Ek het self borskanker gehad. Een bors afgesit.

Ongesonde leefstyl glo ek dra ook by tot sekere kanker.

Dink net wie gaan verloor as Chemoterapie gestaak word.

Milah ·

Gaan hou mis Meisie! Net 4 dae terug weer Ballade vir n enkeling gekyk, nou hoor ek jy is nie meer saam ons nie! Ons sal jou altyd onthou en daai haarkapsels van jou! Rus sag en weet ons sal jou nooit vergeet nie… xXx

GM ·

Mickey, ek stem saam met jou. Ek het ook al so ‘n gesprek gehad met ‘n dokter. Ek kan insien dat daar meer mense is, beter tegnologie, en dan ook goed soos FB ens. waar als meer aandag geniet, maar ek dink nie al die selfoonseine en genetiese manipulasie van kosse is altyd so ‘n goeie ding nie. Ons water is in ‘n toestand, ons lug is besoedel, so ongelukkig kan enige iets ‘n toename veroorsaak. Daar was destyds ook ‘n ‘vaccine’ wat hul onttrek het (oorsee iewers) wat glo kanker veroorsaak het. Ek kan nou ongelukkig nie die naam onthou nie. Sulke glipse laat my wonder oor al die inentings en medikasie wat ons so van gebruik maak. Als kom teen ‘n prys.

Rus sag. Sterkte aan al haar geliefdes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.