Bekende aktrises gee vroue weer moed by vrouedag

Leandie du Randt (Foto: Verskaf)

“Die Here het vroue sterk gemaak om ander vroue te kan opbou, en kreatief om mekaar te kan inspireer.”

Só sê Leandie du Randt. Sy sal een van die motiveringsprekers by die heel eerste Dag van Vroue-KRAG! in November by die Rockwood Theatre in Parkview in Pretoria wees.

Du Randt is nie net bekend as ’n talentvolle aktrise, motiveringspreker of kranige sakevrou nie, maar ook ’n sterk vrou wat al self deur diep waters in haar lewe gegaan het. Deur haar motiveringspraatjies kan sy ’n stukkie van haar eie hart deel, en ander só ook bemagtig.

“Dit is vir my so ’n ongelooflike voorreg om as spreker ander vroue op te bou. Ons het mekaar nodig. Daar is niks sterkers as ’n klomp vroue bymekaar om hul vrouwees te vier nie,” sê Du Randt.

Du Randt wil met haar praatjie by dié vrouebyeenkoms fokus op die uniekheid van vrouwees. Sy wil vroue van alle ouderdomme motiveer om hulself weer te waardeer en gemaklik in hul eie lyf te voel. Sy gaan op die dag praktiese wenke met die vroue deel om meer tyd aan hulself af te staan.

“Ek voel die hedendaagse vrou het baie meer op haar kerfstok. Sy moet veel meer uitdagings die hoof bied as vantevore. Sy staan baie tyd daaraan af om ander gelukkig te hou. Ons as vroue moet vir ’n oomblik stilstaan en peins oor ons eie lewe. As jy nie heel is nie, sal jy in elk geval nie daar kan wees vir ander nie.”

Quinne Brown (Foto: Verskaf)

Die bekende aktrise Quinne Brown gaan op die Dag van Vroue-KRAG! in November ook agter die mikrofoon as motiveringspreker inskuif.

“Ek is opgewonde oor hierdie geleentheid om ander vroue te kan inspireer en motiveer. Dit is belangrik dat ons vroue mekaar moet ondersteun. Twee of meer vroue bymekaar het ’n kragtige rimpeleffek op mekaar,” sê Brown.

Brown wil met haar praatjie fokus op die tema van keuses en die keuses wat vroue daagliks moet maak. Sy meen uiteindelik bepaal jou keuses jou prioriteite in die lewe.

Brown en Du Randt raak ook albei die temas van “tyd” aan en hoe dit van sleutelbelang is dat vroue vir hulself tyd moet maak. “Maak tyd vir die dinge waarvan jy hou. Moenie skroom om daagliks tyd aan jouself te bestee nie. Hoe meer jy kan recharge, hoe meer kan jy teenwoordig wees wanneer ander jou nodig het,” sê Brown.

Brown is ook ’n trotse ma van twee dogters. Sy deel gereeld die avonture en uitdagings daarvan om ’n hedendaagse werkende ma te wees. Hoewel dit nie aldag maklik is nie, sal Brown dit vir niks ter wêreld verruil nie.

“Die eietydse vrou moet ongelooflik baie vergifnis vir haarself hê. Niemand kan op een slag alles perfek doen nie. Ons moet onsself grasie gee om foute te kan maak,” sê Brown.

Vir Brown is die toekoms van vroue rooskleurig. “Ons leef in ’n tyd waar vroue se stemme saak maak. Sterk vroue in die verlede het hard gewerk om vandag vir ons hierdie vryheid te gun. Daarom moet ons mekaar vier. Ons moet mekaar oplig en motiveer. Ons moet ons lig op ander laat skyn.”

Du Randt en Brown glo dat vroue ná die Dag van Vroue-KRAG! met harte vol moed gaan wegloop. Saam met dié twee inspirerende vroue gaan ander glanspersoonlikhede soos Melinda Bam, Hykie Berg, Daniëlla van Heerden, Elsa Esterhuizen, Bertha le Roux, Melissa Swart, Cindy Swanepoel en Je-Ani Swiegelaar ook as sprekers die dag inkleur met hul motiveringspraatjies.

  • Dag van Vroue-KRAG! vind op 3 November om 13:00 by die Rockwood Theatre in Parkview in Pretoria plaas. Kaartjies kos R260 en sluit 11 motiveringspraatjies deur bekende sprekers, ’n vertoning deur Irene-Louis van Wyk en toegang tot eksklusiewe opwipwinkels, asook geskenkpakke in. Bespreek jou kaartjies hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan Grobler ·

Dit is tog ‘n wonder van ons tyd dat die vrouens van vandag deur “kenners” en “motiveerders” geleer moet word dat hulle anders as mans is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.