Bekende blondekop haak aanlyn af ná troue gekanselleer is

Katinka Oosthuizen en Braam Weyers. (Foto: Verskaf)

Katinka Oosthuizen, oftewel Katinka die Kat soos sy onder haar aanhangers bekend staan, deel bykans elke dag waarmee sy doenig is met die sowat 150 000 mense wat haar op sosiale media volg.

Daarom het die blondekop sosialemediavlinder, wat ook tans die aanbieder van die musiekprogram Klink soos naweek op VIA is, besluit om die mees intieme dag van haar lewe – haar troudag – óók met haar volgelinge te deel.

Oosthuizen en haar verloofde, Braam Weyers (21), haak Saterdag af voor ʼn handjievol gaste – en honderde ander wat ook deel wil wees van dié groot dag. Die paartjie sal in samewerking met Magriet Groenewald hul troue aanlyn vir kaartjiehouers beskikbaar stel.

Die rede hiervoor is eenvoudig, sê Oosthuizen. “My volgelinge is nie vreemdelinge vir my nie; dit is mense wat ek elke dag in my lewe inlaat. Mense wat my en Braam se verhouding van die begin af volg en wat ons ondersteun en hulle voel al soos familie vir ons,” verduidelik sy.

Sy vertel slegs ʼn handjievol mense, wat haar en Weyers se ouers, haar twee broers en sy twee susters sowel as sy neef insluit, sal die enigste gaste wees wat die troue by die venue op Wildernis bywoon.

“Daar is baie mense wat skepties is oor wat ons wil doen omdat dit nog nie regtig vantevore gedoen is nie. Uit ons perspektief is dit nie vreemd nie, want deel van die lewe as influencer op sosiale media is dat mense jou volg om te sien wat jy elke dag met jou lewe doen. Dit is hoe ons ʼn lewe maak, deur vermaak aan mense te verskaf,” sê sy.

Katinka en Braam het op 9 Mei by die see op die rotse briewe aan mekaar voorgelees. Dit is die dag waarop hulle oorspronklik sou trou. (Foto: Kayla Wagenaar)

“Ek voel wanneer ʼn mens trou, doen jy dit voor God, sy gemeente en getuies. Dit is vir ons cool dat ons soveel getuies kan hê wat ons aanspreeklik kan hou met ons keuse om te trou. Ons albei is baie opgewonde oor wat gaan gebeur en het vrede in ons harte hieroor.”

Oosthuizen het in Desember verlede jaar aangekondig Weyers het by haar ouerhuis op Mosselbaai voor hul nabye vriende en familie die jawoord gevra. Hulle bestuur saam haar maatskappy, Katinka Productions, wat troufoto’s en -video’s behartig.

Hulle sou oorspronklik op 9 Mei vanjaar ʼn groot troue op Grabouw gehou het, maar weens die afsonderingstydperk het dié dag nie plaasgevind nie. Oosthuizen vertel die teleurstelling om haar troue te moes kanselleer, was moeilik om te verwerk.

“Ek was verskriklik emosioneel. Ek en Braam bly nie saam nie en ons het so uitgesien daarna vir ons lewe saam om werklik te begin. Ek het só selfsugtig gevoel dat ek so voel oor iets wat eintlik so nietig is in vergelyking wat tans in die wêreld aangaan,” sê sy.

Op die dag wat hulle troudag sou wees, het die paartjie by die see op die rotse vir mekaar briewe voorgelees. “Op daardie dag was Braam ook emosioneel. Ons het by mekaar gekom om net weer te besin oor ons reis tot daar en dit het ons net sterker gemaak.”

Katinka het in Desember verlede jaar aangekondig Braam het die jawoord gevra. (Foto: Verskaf)

Sy het besluit om ʼn voorbeeld te wees vir ander bruide wat hulle eie teleurstellings moet verwerk oor hulle troues wat nie vanjaar kon voortgaan soos beplan nie.

“Daar was baie gesprekke onder bruide oor hoe die pad vorentoe lyk en hoe ʼn mens jou hele troue herbeplan. Ek wil vir mense wys dat jy jou troue heelwat kan afskaal en dit kan steeds ongelooflik spesiaal wees. Op die einde van die dag gaan dit oor jy en jou man wat een raak,” sê Oosthuizen.

Sy vertel hulle beplan ʼn unieke troue op ʼn klein venue naby die Kaart van Afrika-uitkykpunt in Wildernis.

“My rok is perfek vir die winter en ook nie ʼn vreemde kleur nie, maar mense sal dalk as gevolg van my persoonlikheid nie van my verwag om só ʼn rok te dra nie. Die enigste persoon wat nog die rok gesien het, is my ma,” verklap sy oor die Anri Ham-skepping wat sy vir die groot dag gaan dra.

Kaartjiehouers na die aanlyn troue sal haar ook eerste in haar rok kan sien, nog voor haar verloofde haar gesien het. “Daarna gaan dit ʼn gewone seremonie wees, waarna ons as nuwe familie saam gaan bid en die koek gaan sny. En ons gaan Burger King eet,” lag sy.

Die geleentheid vir Saterdag 4 Julie om 15:00 plaas. Kaartjies kos R150 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel ·

Sterkte vir julle. Ek weetbop die oop blad was sommige negatiewe kommentasr gelewer wat ek voel onnodig is
Jy word nie geraak nie so bly eerder stil as om negatief te wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.