Bekende liedjieskrywer (73) sterf

Jim Steinman by die Songwriters’ Hall of Fame-geleentheid op 14 Junie 2012 in New York. (Foto: Gary Gershoff/Getty Images for Songwriters Hall Of Fame/AFP)

Jim Steinman, skrywer van trefferliedjies soos “Bat out of Hell” en “Total Eclipse of the Heart”, is Maandag in die ouderdom van 73 dood.

Steinman se broer, Bill, het aan Associated Press gesê die liedjieskrywer en vervaardiger het weens lewerversaking gesterf.

“Ek mis hom reeds ongelooflik baie,” het hy bygevoeg.

Steinman was bekend vir sy bombastiese operastyl-produksies en het sy grootste bekendheid saam met die rockster Meat Loaf verwerf.

Hulle het in 1977 die album Bat out of Hell, waarin treffers soos “You Took the Words Right out of my Mouth” en “Two out of Three Ain’t Bad” ook verskyn, uitgereik. Dit is een van die grootste albums van alle tye, met meer as 50 miljoen kopieë wat wêreldwyd verkoop is.

In 1993 is die liedjie “I’d Do Anything For Love (But I Won’t Do That)” uitgereik. Dit was wêreldwyd ʼn no. 1-treffer.

Hy het later ʼn Grammy-toekenning huis toe gevat vir sy werk aan Celine Dion se album getiteld Falling Into You. Hy het ook aan Andrew Lloyd Webber se musiekblyspel Whistle Down The Wind gewerk, wat in 1998 in die Britse West End geopen het.

ʼn Musiekblyspel geskoei op die Bat out of Hell-albumtrilogie is in 2017 op die planke gebring, met elke liedjie uit Steinman se pen.

Hy het hom nie gesteur aan kritiek oor sy “uitspattige” liriekstyl nie. “As jy nie oorboord gaan nie, hoe gaan jy ooit sien wat is aan die ander kant?” het hy op ʼn keer gevra.

“Daar was nog nooit ʼn liedjieskrywer soos hy nie,” het Meat Loaf in 2012 gesê toe Steinman in die Songwriters’ Hall of Fame ingehuldig is.

Jim Steinman en Meat Loaf woon die Songwriters Hall of Fame se geleentheid by op 14 Junie 2012 in New York. (Foto: Larry Busacca/Getty Images for Songwriters Hall Of Fame/AFP)

“Ek sal hom nooit kan terugbetaal nie. Hy was so ʼn groot invloed, inteendeel, dié grootste invloed op my lewe en ek het soveel by hom geleer.”

Onder Steinman se ander treffers is Bonnie Tyler se “Holding out for a Hero”, Barry Manilow se “Read ’em and Weep”, Air Supply se “Making Love out of Nothing at All” en Cher en Meat Loaf se duet “Dead Ringer for Love”.

Steinman is gebore en getoë in New York en het sy loopbaan in musikale teater begin deur ʼn klankbaan te skryf vir ʼn kollegeproduksie van Bertolt Brecht se A Man’s a Man in 1968.

Hy het dit opgevolg met ʼn oorsponklike musiekblyspel The Dream Engine. Dit het die aandag van ʼn Broadway-vervaardiger getrek, wat vir hom ʼn werk aangebied het by die New York Public Theatre nadat hy sy studie voltooi het.

Hy het daar aan verskeie projekte gewerk, onder meer die verwerking van Wagner se Das Rheingold. Sy groot sukses het egter gekom toe Yvonne Elliman sy liedjie “Happy Ending” opgeneem het vir haar 1973-album Food of Love.

In dieselfde jaar het ʼn akteur met die naam Marvin Lee Aday ʼn oudisie afgelê vir Steinman se musiekblyspel More Than You Deserve. Die paar het ʼn hegte vriendskap gevorm en nadat Aday sy naam na Meat Loaf verander het, het hulle aan die Bat out of Hell-projek begin werk.

Dit het verskeie jare geneem om te voltooi en is deur vier platemaatskappye afgekeur. Dit is uiteindelik in 1977 uitgereik en het onmiddellik sukses in Brittanje en Australië behaal. Bekendheid in die VSA het die jaar daarop gevolg nadat Meat Loaf op Saturday Night Live opgetree het.

Ondanks dié album se sukses het Steinman deurgaans volgehou dat sy beste liedjie Bonnie Tyler se “Total Eclipse of the Heart” is.

“Die liedjie gaan nooit weg nie. Dit is die grootste karaoke-liedjie in die wêreld en is dosyne kere weer opgeneem,” het hy in 2017 aan iHeartRadio gesê.

“Dit is een van my kinders en ek is so trots daarop soos ek op die ander is. Ek probeer om nie gunstelinge te kies nie, maar ja, dit is spesiaal.”

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

MakersMark ·

Groot verlies vir die rock musiek wêreld. Was ‘n legende.

Eclectus ·

Erratum: Food of Love was 1973.

On a hot summer night
Would you offer your throat to the wolf with the red roses?
Yes
I bet you to say that to all the boys

Hy was voorwaar ‘n uitskieter.

Patch ·

Jacques ek onthou hierdie een. As tiener (80’s) was ek mal oor hierdie intro, al was die song reeds in die laat 70’s uitgereik. Meat Loaf se musiek was nie in ons huis toegelaat nie (so ook Def Leppard, Guns ‘n Roses, Aerosmith en so meer) maar die rebel wat ek was het ek steeds daarna geluister. Dit was in die “Rodney Seale – era” soos ek dit noem, waar ek (een keer by die skool en een keer by die kerk) tot vervelens toe moes luister na sy praatjies oor die gevaar van rock-musiek en satanisme. Ek het nooit ‘n satanis geword nie en ook nie dwelms en alkohol begin gebruik oor my musiekvoorkeure nie. Tot vandag luister ek na van die 80’s rock bands se musiek en love dit steeds. Jim Steinman het voorwaar ‘n klomp uitstekende treffers geskryf. Air Supply en Bonnie Tyler ook steeds op my playlist!

Snowball ·

@Jacques ‘You took the words right out of my mouth…’

Megan Swart ·

Dagsê Jacques
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Dit moet inderdaad 1973 wees. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Oubobbejaan ·

Ek het as jong bobbejaan, gedrink,jol en karre gerol op sy musiek. RIP

Patch ·

Ek nou nie gedrink en karre gerol nie maar beslis gedans tot ek “miltsteek” kry op sy treffers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.