Bekende radio-omroeper reageer ná bewerings van ‘gedokterde drankie’

Gareth Cliff (Argieffoto)

Gareth Cliff (Argieffoto)

Die Idols-beoordelaar en radio-omroeper Gareth Cliff het vandeesweek vir die eerste keer in die openbaar gereageer op aantygings dat hy sy mede-Idols-beoordelaar Mara Louw se drankie gedokter het kort voordat sy in 2010 ten tyde van dié program ʼn ineenstorting gehad het.

Cliff se ope brief volg ná ʼn berig wat onlangs in die Sunday Times verskyn het waarin dié koerant aanvoer dat Cliff in sy jongste boek erken hy het die drankie gedokter.

Die omstrede beoordelaar skryf in sy brief bespiegelings rakende Louw se ineenstorting het begin die dag ná haar ineenstorting. “Sy het in ʼn radio-onderhoud ʼn dag daarna erken dat sy op medikasie is. Sy het gesê ek het vir haar die drankie gegee en het my vir haar ‘vreemde’ optrede geblameer. Die media het ʼn fees gehad met dié inligting,” skryf hy.

Hy skryf verder Louw het heel waarskynlik “iemand gesoek om te blameer eerder as om te erken dat sy onverantwoordelik was deur alkohol en medikasie te meng”.

Cliff meen die berig wat die Sunday Times onlangs gepubliseer het, is heeltemal vals en dat lesers geen detail oor gedokterde drankies in sy boek sal opspoor nie. “Ek het slegs die voorval kortliks genoem omdat die media wyd daaroor berig het,” het hy bygevoeg.

Mara Louw (Foto: TVSA)

Mara Louw (Foto: TVSA)

Die publikasie het ná ʼn prokureursbrief om verskoning gevra vir die onakkurate beriggewing.

Cliff het egter gesê die verskoning “stem nie ooreen” met die Sunday Times se “monumentale fout” nie. Hy het ook gesê hoewel die publikasie hom skuldig gemaak het aan swak joernalistiek, skep dit ʼn negatiewe beeld oor Louw se reputasie.

“Dit is hartseer dat ʼn ikoon van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf onthou sal word vir dié voorval. Sy het nie toe haar werk verloor nie, maar sy was die volgende week terug op die beoordelaarspaneel waar sy haar waardigheid teruggewen het.

“Mara se optrede was soms onvoorspelbaar. Daar is talle bekendes wat al baie erger ineenstortings in die openbaar gehad het en daarna groot sukses behaal het. Ons is almal mense. Jong mense kan van haar leer. Sy bly een van die beste sangers van ons tyd.”

Cliff het ook onlangs aangekondig dat hy ná 11 seisoene as Idols-beoordelaar die gewilde program verlaat.

Lees die inskrywing hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Valerie ·

Die meeste mense wat ‘n “ope briewe” skryf is in een of ander mate narsisties van aard. Die Cliff mannetjie is wragtag vol van homself en tog so lief vir homself (onthou nog sy vuilbek omroeper dae by die ewe vuil 5fm, en daar waar hy nou ook al mag wees?) dat ek dink sy kop kan dalk bars sou hy nies.
Aandagsoekertjie, finish en klaar.

Lions ·

Daai program is buitendien tydmors en snert. Nie geweet daar is mense wat dit nig kyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.