Bekende sanger word eerste keer pa

Pieter en Yolandi Smith (Foto: Facebook)

Pieter en Yolandi Smith (Foto: Facebook)

Die sanger Pieter Smith en sy vrou, Yolandi, gaan vir die eerste keer ouers word.

Pieter het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel die egpaar weet al ʼn geruime tyd van dié nuus, maar het besluit om dit eers Vrydag bekend te maak.

Yolandi is vier maande swanger.

Die sanger sê hulle het ook onlangs uitgevind hulle verwag ʼn dogtertjie. “Ek wou nog altyd ʼn dogtertjie gehad het. Ons is so opgewonde, ons kan ons skaars beteuel. Dis wonderlike nuus om te deel.”

Die 41-jarige Pieter sê “wysheid kom met grysheid” en dat hy nou in ʼn ouderdomsfase is waar hy baie vir sy dogtertjie kan leer. “Ek het al so ʼn paar dinge in die lewe gesien en beleef, en ek dink ek kan dit vir my dogtertjie leer. Ek is in elk geval nog baie jonk van gees,” het hy geskerts.

As daar een ding is wat sy dogtertjie móét leer, is dit maniere, sê-lag die “Stukkie van der Merwe”-sanger. “Ek wil hê sy moet leer soos ons geleer het. Dat dinge nie maklik kom nie, en dat ’n mens altyd maniere moet hê en ordentlik moet wees.”

Die babakamer is ook al amper gereed, al moet die egpaar nog bykans ses maande wag vir hulle pienkvoet. “Mens sal sweer sy kom al môre. Ons hele huis lyk soos ʼn babawinkel!”

Hulle dink nog aan ʼn naam, maar glo nie dat hulle vir haar ʼn familienaam gaan gee nie.

“Vir eers is ons te opgewonde om aan iets te dink en daarby te hou. Ons wag maar nog ʼn rukkie,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marianne ·

Baie baie geluk Pieter en Yolanda! As ek so Na haar ouers kyk gaan hierdie Klein prinsessie BEAUTIFUL wees!!!
Ek hoop sy het Paola se humor sin en talent en ma!ma se skoonheid en date hart.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.