Bekendes laat jong pasiënte glimlag op Kersdag

combined-monique-touch-of-class

Monique Steyn en Touch of Class. (Foto’s: Verskaf)

Kinders wat die feesseisoen in die hospitaal moet deurbring kan nie die voorreg beleef om Kersdag saam met hul gesinne deur te bring nie. Dáárom het die bekende duo Touch of Class en die sangeres Monique Steyn besluit om ʼn teddiebeer-projek van stapel te stuur wat op Kersdag ʼn bietjie verligting vir pasiënte in die hospitaal kan bied.

Touch of Class, Steyn, The Marketing Zoo, MRC Shuttles, Caring Daisies en The Grove-winkelsentrum in Pretoria het kragte saamgesnoer om teddiebere oor die Kersnaweek uit te deel aan kinders in hospitale in die Pretoria-omgewing.

MRC Shuttles borg die vervoer van die teddies, waarvan daar reeds honderde by The Grove-winkelsentrum ingesamel is, na die hospitale. “Só kan ons liefde versprei en ʼn glimlag op ʼn paar kinders se gesigte sit,” het Steyn gesê.

sharing is caringMarinda du Toit, Touch of Class se bestuurder, het vertel sy wil en verskil maak deur só liefde te gee vir kinders in hospitale oor die Kerstyd. “ʼn Mens besef nie hoe alleen daardie kinders moet voel oor so ʼn spesiale tyd nie,” het sy gesê.

“Hierdie jaar is dit die eerste jaar dat hierdie projek aangepak word en dit sal beslis ʼn jaarlikse instelling word om die impak daarvan al groter te maak.”

Die inisiatief is op 1 November met ʼn spesiale vertoning van Touch of Class en Monique Steyn by The Grove-winkelsentrum afgeskop. Aanhangers kon die vertoning gratis bywoon en is gevra om enige ou of nuwe teddiebere as skenking saam te bring.

“Dit was ʼn wonderlike aand van vreugde en ons is ongelooflik dankbaar vir almal se ondersteuning en teddiebere,” het Wian Smith van The Marketing Zoo gesê.

Die publiek kan nog tot 22 Desember teddiebere afgee by The Grove-winkelsentrum se inligtingstoonbank of bel Monique Harmse by 012 807 0963.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.