Bekendes onthul hul Nuwejaarsvoornemens

Die een sweer by Nuwejaarsvoornemens omdat dit kwansuis ʼn rigtingaanwyser is vir die nuwe jaar en die ander is oortuig dat voornemens sommer net ʼn eeue oue tradisie is wat geen water dra nie.

Vir 2018 het talle bekendes steeds ʼn lysie met Nuwejaarsvoornemens opgestel: van tydsbestuur tot meer oefen en avontuurlustig wees.

Maroela Media het by van jou gunsteling-bekendes ingeloer om te hoor wat hul Nuwejaarsvoornemens is.

Nataniël (Foto: Verskaf)

Nataniël

In 2018 werk ek volgens my eie spertyd en nie ander s’n nie. Ek is die georganiseerdste mens wat ek ken – alles is maande vooruit beplan, maar dit help niks nie want die res van die wêreld, die media, televisie, radio, vervaardigers en adverteerders neem hul besluite op die laaste oomblik en dan is my hele bestaan omgegooi. In 2018 is ek eenvoudig nie meer beskikbaar vir chaos nie, ek wil my lewe begin geniet.

Steve Hofmeyr

Ek kry dit nooit reg nie, maar ek soek waaragtig ʼn kalm jaar. My plan is om my dogter die wêreld te wys.

Chris Chameleon

My Nuwejaarsvoorneme is nog nie vasgelê nie. Die afgelope jaar was dit om nie te vloek nie en elke dag te oefen, en ek is trots dat ek dit meestal goed reggekry het. Dit is beslis die moeite werd om in 2018 vol te hou. Ek sal maar moet bylas vir volgende jaar – die inspirasie kom gewoonlik eers op Oujaarsaand.

Leandie du Randt

Ek wil graag meer tyd saam met my man deurbring en lekker nuwe dinge saam doen. Ek wil leer om nee te sê vir dinge wat ek nie wil doen nie. Ek wil aanhou gesond lewe en lief wees vir myself. Ek wil ook ʼn great vrou vir my man wees – een wat hy nodig het.

Joshua na die Reën. Foto: Facebook

Joshua na die Reën

Ek wil graag ʼn beter mens wees as in 2017.

Je-Ani Swiegelaar

Ek wil volgende jaar een keer per maand iets heeltemal nuuts doen – of dit nou ʼn nuwe eetplek is en of dit iets heeltemal buite my gemaksone is. Ek wil ten minste een keer per kwartaal gaan kamp of ʼn staproete aanpak of net in die natuur wees. Ek mis dit baie.

Schalk Bezuidenhout

Ek wil meer internasionale vertonings doen. Ek het hierdie jaar vir die eerste keer ordentlik oorsee gegaan, so ek sal graag meer daarvan wil doen in 2018. Ek wil ook hierdie jaar fiks bly. Ek belowe altyd myself ek gaan fiks bly, en dan kom die bier en dan weet ons almal wat gebeur dan.

Hykie Berg

Ek het geen voornemens nie want ek glo nie daarin nie. Mense het gewoonlik te groot verwagtinge en wil te groot berge versit en verstaan nie die beginsels van die voorbereiding daaraan om sekere dinge te bereik nie. Ek het ʼn paar doele. Ek wil my besigheid uitbrei en ek gaan my boek in Engels uitreik. Ek het ʼn paar toere wat ek gaan doen. Ek wil meer tyd met my vrou deurbring omdat ons albei so besig is.

Altus Theart

Ek probeer om nie te veel te fokus op Nuwejaarsvoornemens nie, want teen Februarie is dit al klaar lankal vergete. Ek probeer fokus om die foute wat ek die vorige jaar gemaak het reg te maak, hetsy in my huwelik, by die werk of in vriendskappe.

Francois van Coke

Ek wil in 2018 minder koffie drink en my stem beter oppas deur op te warm voor vertonings. Ek belowe ek gaan dit doen.

Bouwer Bosch

Ek wil in 2018 meer tyd maak vir myself. Ek wil minder werk en meer lewe. ʼn Mens dink jy moet werk om te kan lewe, maar eintlik moet jy lewe om te kan werk. Jou lewe en ervaringe moet jy gebruik om jou werk beter te maak.

Marion Holm

Ek wil voortdurend probeer om in die oomblik te lewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JoeV ·

Van die bekendes moet ek bieg; Leandie du Randt, Joshua na die Reën, Je-Ani Swiegelaar, Schalk Bezuidenhoud, Heikie Berg, Altus Theard, Bouwer Bosch en Marion Holm het ek nog nooit van gehoor nie? Waar is die mense bekend? Is dit op DSTV, op radio? Smaak my ek is besig om iets te mis?

HPV ·

Uitbreiding van jou nuuswêreld en algemene kennis deur lees, luister en sommer waarneming wat om jou gebeur. Die mense is werklik bekend.

Osie ·

JoeV: onder watter klip bly jy, ouboet?
Nee hel, mens is nie so ignorant nie.

Valerie ·

Na aanleiding van wat Marion gesê het. Ek wil graag buite die oomblik lewe. Sien, ek kan ook onsinnighede kwytraak, en ek is nie eers “bekend” nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.