Bekendes se troues en verlowings in 2018

Die Hollywood-aktrise Meghan Markle se troue met die Britse prins Harry in Mei vanjaar was wêreldwyd op almal se lippe. (Foto: Alexi Lubomirski)

Die Hollywood-aktrise Meghan Markle se troue met die Britse prins Harry in Mei vanjaar was wêreldwyd op almal se lippe. (Foto: Alexi Lubomirski)

Vanjaar was ʼn jaar propvol verlowings en troues vir die bekendes van Suid-Afrika. Maroela Media het gaan kyk wie almal die jaar die jawoord gegee het en wie oor die tou getrap het.

Stephan van Huyssteen, beter bekend onder sy aanhangers as Stephantasties, en die blondekop-sangeres Franzel de Wet, is in Februarie getroud.

Stephantasties, wat vroeër vanjaar sy debuutenkelsnit, “Dis Verkeerd”, vrygestel het en De Wet, wat deel uitmaak van die sanggroep MWAH!, het by die Oude Hout Mountain Lodge in Pretoria trou aan mekaar beloof.

Charlie Bouguenon, die kaalkopakteur wat as die skurk Joe Gotty te sien is in die Afrikaanse lokettreffer Vuil Wasgoed, is in April met Anré Roux, ʼn Noord-Kaapse aktrise, getroud.

Bouguenon het vroeër aan Maroela Media vertel hy en Anna, soos hy haar noem, het in Mei verlede jaar by ʼn lodge in Steynshoop verloof geraak. Die paartjie is sedert 2015 in ʼn verhouding.

Die troue wat dié jaar opslae wêreldwyd gemaak het, is dié van die koninklike egpaar, prins Harry en Meghan Markle.

Markle, wat as aktrise in Hollywood te sien was in onder meer die televisiedrama Suits, is op 19 Mei by die St. George’s-kapel in Windsor naby Londen in die eg verbind. Harry en Meghan staan voortaan bekend as die hertog en hertogin van Sussex.

Stefan en Anelle Ludik is in Mei in Monte de Dios in Zwavelpoort in die eg verbind. Die egpaar het hul troue vroeër as ʼn onvergeetlike geleentheid beskryf – van die kraakwit rok met die lang sluier tot die drielaagkoek het dié dag spesiaal gemaak.

Rose Leslie en Kit Harington van 'Game of Thrones'-faam is getroud. (Foto: Facebook/Kit Harington)

Rose Leslie en Kit Harington van ‘Game of Thrones’-faam is getroud. (Foto: Facebook/Kit Harington)

Kit Harington, die hartebreker-akteur wat bekend is vir sy rol as Jon Snow in die uiters gewilde televisiereeks Game of Thrones, is in Junie in Skotland met Rose Leslie getroud. Leslie het die rol van Ygritte, die vrou wat Snow se hart gesteel het, in dié dramareeks vertolk.

Die minnesanger Jannie du Toit is in Junie in Melville, Johannesburg, getroud met Therina Wentzel. “Dit was amper nie eens nodig om op een of albei my knieë te gaan nie,” het hy vroeër in ʼn onderhoud met Maroela Media geskerts. “Dit het net reg gevoel; ons het geweet ons moet saam wees. Ek het sommer vir haar gesê: ‘Wil jy nie maar met my trou nie?’ Toe sê sy: ‘Ja, asseblief!’”

Die Suid-Afrikaanse Olimpiese swemkampioen, Cameron van der Burgh, is op 2 Julie getroud met sy Pretoriase verloofde, Nefeli Valakelis.

Van der Burgh, wat in Mei vanjaar 30 geword het, en Valakelis het by die luukse Ktima 48-oord in Anavyssos in die ooste van Griekeland afgehaak. Hy het onlangs sy uittrede uit dié sport aangekondig.

Tiaan Langenegger, bekend as sjef en aanbieder van kykNET se gewilde Koekedoor-werklikheidsreeks, is in Julie met sy verloofde, Nadia Barnard, getroud. Barnard is ʼn wynmaker van beroep.

Die paartjie het by die Springfontein-wynlandgoed op Stanford in die Wes-Kaap ewig trou aan mekaar beloof.

David Hasselhoff, oftewel The Hoff, het in Julie die derde keer ewig trou beloof. Die 66-jarige akteur, wat bekendheid verwerf het vir sy rol as Michael Knight in Knight Rider en Mitch Buchannon in Baywatch, en die 38-jarige model Hayley Roberts is in Italië getroud.

ʼn Neef van koningin Elizabeth II het in September geskiedenis gemaak toe hy die eerste koninklike geword het wat met iemand van dieselfde geslag getrou het.

Die voormalige Springbok-rugbykaptein Adriaan Strauss en sy Carmen. (Foto: Hanri Human)

Die voormalige Springbok-rugbykaptein Adriaan Strauss en sy Carmen. (Foto: Hanri Human)

Lord Ivar Mountbatten (55) het tydens ʼn klein plegtigheid in Devon voor 60 gaste ewige trou aan James Coyle beloof.

Irene-Louise van Wyk, treffermaker van “Hou jou hande van my lyf af”, is einde September met Nicolas du Preez, ʼn houtinspekteur, getroud.

Louis van Wyk, musiekpromotor en Irene-Louise se pa, het destyds aan Maroela Media bevestig die troue het buite Pretoria op die Galagos-landgoed plaasgevind.

Prinses Eugenie, kleindogter van koningin Elizabeth, is in Oktober in die eg verbind met Jack Brooksbank.

Die paartjie is getroud in dieselfde koninklike kapel by die Windsor-kasteel waar prins Harry en Meghan Markle, die hertog en hertogin van Sussex, in Mei vanjaar getroud is.

Adriaan Strauss, voormalige kaptein van die Bulle en Springbokke, en sy Carmen het in Oktober tydens ʼn klein en intieme geleentheid ewige trou beloof aan mekaar.

Die twee het afgehaak by die Florence Guest Farm in Chrissiesmeer in Mpumalanga. Strauss (32) en Carmen (27), ʼn fisioterapeut, het vroeër vanjaar verloof geraak.

Die Glam Guru, oftewel Hannon Bothma, is in Oktober in die eg verbind met sy lewensmaat van die afgelope 27 jaar, Julius Swart.

Die paartjie het tydens ʼn intieme plegtigheid by hul spoghuis in Sandhurst trou aan mekaar beloof.

Die bekende musikant en kunstenaar Chris Chameleon is in November met Daniella Deysel, sy jarelange vriendin en sangmaat, in die eg verbind.

Priyanka Chopra se sluier was sowat 22m lank. (Foto: Skermgreep uit die video)

Die gewilde sangpaar het die nuus van hul troue op sosiale media aangekondig. “Ek is gister met dié oulike dork getroud,” het Deysel vroeër op haar Facebook-blad by ʼn foto van Chameleon gekoer.

Die voormalige mej. Wêreld, Priyanka Chopra, en die popsanger Nick Jonas het vroeg in Desember ʼn string tradisionele Indiese seremonies bygewoon as deel van hul huweliksfeesvieringe. Chopra het in Indië grootgeword en wou haar Indiese kultuur vereer deur verskeie tradisionele seremonies. Die paartjie het ook Jonas se kultuur vereer deur Saterdag ʼn tradisionele Westerse huwelikseremonie te hou.

Boer soek ʼn vrou se gewilde paartjie, boer Adriaan en sy Helene, het in April vanjaar verloof geraak. Weke lank moes boer Adriaan (28) en Helene (28) hul romanse stilletjies hou en geduldig wag tot net voor die laaste episode van die kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou gebeeldsaai word. Nou is dit al agt maande sedert hulle ʼn paartjie is – en hulle verkondig hul geluk aan die wêreld.

Die Kanadese popster Justin Bieber en sy meisie, die model Hailey Baldwin, het in Julie verloof geraak. Bieber (24) en Baldwin (21), dogter van akteur Stephen Baldwin en broerskind van akteur Alec Baldwin, was saam met vakansie toe hy die ring aan haar vinger gesteek het. Dié paartjie is intussen getroud.

Dozi, die lang man met die rasperstem, is verloof aan ʼn eiendomsagent van Pretoria. Maroela Media kon in Augustus bevestig dat Dozi (54), oftewel Henk Opperman, aan Kim Viljoen (27) verloof is.

Kim Cloete, wat te sien is in die kykNET-reeks Fynskrif, het in September verloof geraak aan die akteur Murray Todd. Hy was al te sien in TV-reekse soos Black Sails en die rolprent Invictus.

Cloete het ʼn foto van haar verloofring op Instagram gedeel en geskryf: “Ek het natuurlik ja gesê.”

Simoné Nortmann en Andries Pretorius is verloof. (Foto: Instagram)

Simoné Nortmann en Andries Pretorius is verloof. (Foto: Instagram)

Cintaine Schutte (31), wat die rol van die vuurvreter-prokureur Katrien in Fynskrif vertolk, het in September verloof geraak aan Carel Nel (33) wat die rol van die kunstenaar Sam in Fynskrif vertolk het.

Cintaine het ʼn foto van haar verloofring op Instagram gedeel. “Ons het gister ons ‘anniversary’ gevier,” het Cintaine, wat ook die rol van Michellay in Die kasteel op kykNET vertolk, aan Maroela Media gesê. Die paartjie is al sewe jaar saam.

Simoné Nortmann, een van die Afrikaanse vermaakbedryf se gunstelingaktrises, het in Oktober verloof geraak aan Andries Pretorius, ʼn rekeningkundige van Pretoria.

Nortmann het haar verlowing op Instagram aangekondig met twee foto’s waar sy trots met haar blink verloofring spog.

Die voormalige Protea-krieketkaptein, Graeme Smith, het einde Oktober ʼn ring aan sy meisie, Romy Lanfranchi, se vinger gesteek.

Smith het dié nuus op sy Instagram-profiel bekend gemaak met ʼn foto waar Lanfranchi met haar verloofring spog. “About last night,” het hy by die foto geskryf. Die paartjie het een kind, ʼn seun, wat in 2016 gebore is. Lanfranchi is ʼn prokureur.

Die sanger Joe Foster het in Desember verloof geraak aan Ziechfried Paul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.