Bettie Kemp se stem nog lank nie stil

As bekroonde aktrise, regisseur, TV-aanbieder en radio-omroeper is Bettie Kemp ná meer as vyf dekades in die mediabedryf nog nie van plan om die tuig neer te lê nie. (Foto: Verskaf)

As bekroonde aktrise, regisseur, TV-aanbieder en radio-omroeper is Bettie Kemp ná meer as vyf dekades in die mediabedryf nog nie van plan om die tuig neer te lê nie.

Suid-Afrikaners het vir Bettie in die 1970’s met die koms van televisie leer ken as aanbieder; ander sal haar onthou vir die rolle wat sy in televisiereekse soos Vyfster, Net ʼn bietjie liefde en Bart Nel gespeel het.

Ook haar uiteenlopende bydrae tot die radiowêreld is alombekend. Dink maar aan Akwarius, Die Beskermengel en meer onlangs Briekaandraai, Maroela Media se radiovervolgverhaal waarvan Bettie die regisseur is.

Met deernis, humor en sakke vol geduld is sy ook altyd voorbereid en gretig om haar kennis en ervaring met jongmense te deel.

“Ek sal altyd kyk wat ek van my kant af kan doen om te help, want ek weet hoe belangrik mentorskap vir my was,” sê Bettie.

Met soveel hoede op haar kop wonder ʼn mens waar en hoe Bettie haar voet in die ateljeedeur gekry het.

‘Ek het nooit weer teruggekyk nie’

“Toe ek die eerste keer as tienjarige by ʼn radioateljee ingestap het, het ek geweet ek gaan die res van my lewe met radiowerk besig wees. Ek onthou nog hoe die ateljee gelyk en geruik het,” sê Bettie.

Sy sak terug teen die rusbank, dink so ʼn rukkie en begin dan vertel: Van Tossie Lochner, haar spraak-en-dramajuffrou by Laerskool Totius in Bellville.

“Ek het op laerskool altyd voorgedra, jy weet mos maar hoe kinders is: bietjie voor op die wa,” skerts Bettie. Sy vertel dat Tossie altyd op soek was na leerders wat sy vir kunskompetisies en -wedstryde kon inskryf. So het Bettie gedurig haar hand opgesteek en deelgeneem. Tossie het haar ook dikwels geneem om in verhoogproduksies van Bellville se Afrikaanse Toneelvereniging (BAT) te speel.

‘n Jonger Bettie Kemp as kontinuïteitsaanbieder vir die SAUK. (Foto: Verskaf)

“Tossie was ʼn onderwyseres in daai jare. Daar was nog nie regtig ʼn drama-afdeling by die skool nie en sy het die kinders afgerig wat spraakprobleme gehad het,” sê Bettie.

Maar die grootste gelukslag, vertel sy, was toe Tossie haar genooi het vir ʼn radio-oudisie by die SAUK se ateljee in Seepunt.

“Tossie het vir my gesê dat die SAUK van tyd tot tyd kinderspelers nodig het vir radiovervolgverhale en dat dit weens die wetgewing baie moeilik was om kinderakteurs in ʼn ateljee te kry.”

Kinders moes streng by hul skooltye hou en as daar opnames was, moes dit nauurs gebeur; hulle moes deur volwassenes vergesel word en skrywers het kinders maar oor die algemeen “uit” die teks geskryf, het Tossie aan Bettie verduidelik.

Dit was die eerste keer dat Bettie van iets soos ʼn oudisie gehoor het. Maar te danke aan Tossie se deeglike voorbereiding het Bettie haar by die SAUK aangemeld. Tossie was deurgaans die tussenganger en het die oudisies namens Bettie gereël.

“Die res is geskiedenis. Ek het nooit weer teruggekyk nie,” sê Bettie.

‘Nou moet die storie lewe kry’

Bettie onthou dat sy partykeer met die trein van Bellville af gery het wanneer haar ma of pa haar nie kon aflaai nie. Ander kere het haar pa vir haar op Kaapstad se treinstasie gewag en dan het hulle met sy groot Pontiac na die SAUK se ateljee in Seepunt gery.

“My pa het ʼn groot kantoor in die stad gehad. Terwyl ek dan besig was met opnames in die ateljee het hy sommer in die ingangsportaal van die SAUK gesit en kantoorwerk doen,” vertel Bettie.

“Dit was fantasties! Ek het net geweet: dít is wat ek eendag wil doen. Ek het nie in daardie stadium geweet of ek ʼn klankkontroleerder gaan wees of byklanke gaan doen nie, maar ek het daarvan gehou om toneel te speel.”

Daar was nie baie kinders en jongmense by die opnames nie, onthou Bettie. Maar om daar te kon wees en die akteurs in aksie te sien, het vir Bettie ʼn heel nuwe wêreld oopgemaak.

“Ek het daar gestaan en besef ons is besig om ʼn storie te vertel. Ons het almal papiere gehad, die storie was op papier en nou moes dit lewe kry,” vertel sy.

Dit was egter nie heeltemal so eenvoudig nie: Bettie was te klein en te kort om by die mikrofoon uit te kom.

“Ek was toe in standerd vier en het so ʼn klein kassie gehad wat hulle vir my gebruik het waarop ek gestaan het om by die mikrofoon by te kom,” onthou sy laggend. “Ek het lank met die kassie gespeel en, snaaks genoeg, ek het teenoor Riaan Cruywagen ook gespeel. Enkele rolle, want daar was nie elke dag opvoerings gewees nie. Maar van tyd tot tyd.”

Tog was elke uitdaging vir Bettie op ʼn manier opwindend omdat sy deel was van ʼn kreatiewe bedryf waar sy gedurig iets kon skep.

Bettie Kemp sê sy werk graag voor én agter die mikrofoon. (Foto: Verskaf)

“Later jare toe ek regisseurswerk gedoen het, was dit vir my lekker om ook op daardie manier skeppend te wees. Dit is nog altyd vir my baie lekker om uit die regisseurstoel op te staan en die teks te vat en ʼn rol te gaan speel. Ek werk graag voor én agter die mikrofoon,” sê Bettie.

“Ek het altyd geweet dat ek in die kuns- en skeppende bedryf wil wees. Is ʼn mens nie gelukkig dat jy so vroeg in jou lewe al weet nie?”

‘Ek het van die beste gehad om van te leer’

Met die koms van televisie in 1975 het Bettie die Moederstad vir Johannesburg verruil. Teen hierdie tyd het sy reeds haar BA-graad met drama as hoofvak by die Universiteit Stellenbosch voltooi. Daar was nie sprake van verdere radio-opleiding nie en Bettie het deur ervaring en ander maniere haar radiovaardighede geslyp.

“Ek het op die harde maar goeie manier geleer. Mense moes baie geduldig met my wees en as ek terugdink, het ek regtig van die beste mentors gehad.”

Een van hulle was Suzanne van Wyk wat met “niks minder as 100% die beste tevrede was nie”. Bettie het geweet die dag voor hulle opneem, het sy die teks uit haar kop geken – en dan, tot Bettie se ergernis, het Suzanne dit die volgende dag in die ateljee verander.

“Maar, jy het geleer soos wat jy aangegaan het. En jy het geluister en gekyk na die grotes om jou.” Gelukkig was die rolle aan die begin altyd klein, so jy kon leer. En Bettie wou leer.

“Ek is elke aand op my knieë om vir die Here dankie te sê vir die geleenthede wat ek gekry het en steeds kry. Want jy kan so talentvol wees as wat jy wil, maar as jy nie die kans kry nie, is dit als tevergeefs.”

Kort ná haar aankoms in die Goudstad het Louise Smit, van Haas Das se nuuskas-faam, vir Bettie genader om ʼn oudisie vir kontinuïteitsaanbieder te doen.

“Ja, Louise het my op die een of ander manier raakgesien. Waar, weet ek nie. Ek het haar nooit gevra nie,” sê Bettie. “Om eerlik te wees kan ek nie eens die oudisie onthou nie. Maar dit was dit. So het ek in die televisiebedryf beland.”

Dan was daar Esmé Euvrard wat net so ʼn groot rol in Bettie se loopbaan gespeel het.

“Sy was ʼn absolute baanbreker en ʼn natuurlike, begaafde persoon by die mikrofoon. Ek het haar gevolg en gekyk en geleer. Ek het gekyk hoe sy haar plate kies, hoe sy deur die versoeke op haar plaatjies gaan, hoe sy dit bymekaargesit het en dan het ek net gekyk en waargeneem wat sy by die mikrofoon doen.”

Marius Vermaak en Bettie Kemp luister terwyl Luan Jacobs en Stefan Vermaak hulle onderskeie rolle opneem. (Foto: Maroela Media)

Bettie onthou ʼn spesifieke oomblik tussen haar en Esmé wat vir altyd in haar geheue geëts is.

Esmé het een dag vir Bettie vir ʼn saamrygeleentheid gevra. Hulle het toevallig op dieselfde tyd klaar gewerk en nie ver van mekaar af gebly nie.

“Toe ons voor die huis stilhou waar ek haar aflaai, het sy nog ʼn oomblik gesit. Sy het vir my gekyk en ek vra toe vir haar of iets verkeerd is. Sy het na my gedraai en gesê: ‘As ek nie meer hier is nie, moet jy aangaan.’

“Dit het my bygebly en toe dink ek daar is ʼn einde aan ʼn mens se kreatiewe lewe ook. Jy moet die kanse gebruik wat jy het. Dit is soos ʼn aflos en jy gaan die stok moet aangee.”

  • Bettie Kemp was weer aan stuur van sake by die tweede reeks van Briekaandraai, Maroela Media se radiovervolgverhaal. Klik hier vir meer inligting en om saam te luister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AW ·

Ek ken haar nie in persoon nie, Maar Dame mag jy van Krag tot Krag gaan !!

Samuel ·

Bettie Kemp is ‘n huishoudelike naam. Sy is briljant. Voorspoed vir nog baie jare.

Genis ·

Een van die talentvolle legendes, mal oor haar… klein yster vrou… Trots Afrikaans..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.