‘Binnelanders’-akteur se pienkvoet gebore

(Foto: @kateroothmanphotography/Instagram)

Die glanspaar Clint en Steffi Brink se dogtertjie is gebore.

Arielle Harmony Brink is Donderdag gebore, het die Brinks in ʼn gesamentlike inskrywing op Instagram bekend gemaak.

“Welkom by die nuwe hoofstuk in die lewens van die Brinks, met baba Arielle wat die produk en middelpunt van ons liefde vir mekaar en God is. Die heilige gebed van ’n God-geordende huwelik.

“Vir ’n kind het ons gebid, en Hy het gehoor. Die ontsag wat ons harte vul is onbeskryflik. Ons bekers loop oor. Dankie Abba Vader,” het hulle geskryf by ʼn foto saam met hulle nuwe pienkvoet.

Gelukwensings stroom intussen in vir Clint, wat die rol van die Binnelanders-karakter dr. Steve Abrahams vertolk, en sy vrou Steffi, ʼn fiksheidsmodel en voormalige Survivor SA-deelnemer.

Clint het in September die nuus bekend gemaak dat hy gaan pa word. “Hier op 42 is [dit] die beste verjaardaggeskenk waarvoor ek kon vra!”

Steffi het ook destyds gesê sy is dankbaar en opgewonde oor die nuwe avontuur wat op hulle wag.

“Ons het geduldig vir jou gewag, en God het ons gebede geantwoord. Ons gaan drie word,” het sy op Instagram gedeel.

Clint is een van talle Binnelanders-akteurs wat onlangs ’n splinternuwe hoed van pa-wees op sy kop geplaas het.

Hykie Berg en sy vrou, Gerridene, en Reynardt Hugo en sy vrou, An‑Maré, het ook onlangs pienkvoete verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.