Bouwer Bosch: ‘Ek het gedink ek is verlam’

bouwer bosch

Bosch na sy operasie. (Foto: Verskaf)

Die akteur Bouwer Bosch sterk tans tuis aan nadat hy onlangs ʼn intensiewe rugoperasie, waartydens twee van sy rugwerwels vervang is, ondergaan het.

Bosch, wat sedert Desember in die Afrikaanse aksiefliek Vuil Wasgoed te sien is, het aan Maroela Media gesê hy sterk goed aan. “Ek is al vir ʼn paar dae by die huis. Ek kyk maar Netflix en drink my pynmedikasie.”

Bosch het vertel hy moes die operasie ondergaan nadat hy twee jaar gelede ʼn ernstige rugbesering opgedoen het toe hy by ʼn Johannesburgse pretpark geval het.

“Ek was besig met ʼn item waar jy omtrent twee meter hoog in die lug hang en dan op ʼn vangmat met lug in, amper soos ʼn springkasteel, te lande moet kom. My hande het in die momentum gegly en ek het op my nek geval. Die res van my lyf het verby my kop gekom,” het Bosch vertel.

Hy kon vir ʼn paar minute glad nie beweeg nie. “My eerste gedagte was dat ek verlam is, want ek kon glad nie beweeg nie en het die meeste pyn nog ooit in my lewe beleef.”

Bosch het daarna vir MRI-skanderings gegaan en dokters het gevind dat die L5/S1-skyf in sy ruggraat beskadig is. “Dit was basies in stukkies.”

bouwer

Bosch is deur dr. Emmanuel Thobejane behandel. (Foto: Verskaf)

Hy het vertel hy was vir ʼn jaar ná die voorval “in ongelooflike pyn”. “Met die skiet van die aksietonele vir Vuil Wasgoed en Thys en Trix moes ek maar op pynpille leef. Ek het daarna vir ʼn pynblok gegaan, waar dokters lang naalde met pynmedikasie in my rug gespuit het. Ek was daarna vir drie weke pynloos en dit het dokters in staat gestel om presies te sien waar die fout lê.”

Bosch sê volgens die dokters was die enigste uitweg ʼn rugoperasie om die beskadigde werwels te vervang. “ʼn Mens probeer maar om so min moontlik aan jou rug te karring wat operasies betref, en ek het ook nie regtig plek in my dagboek gehad om vir ses weke te kan herstel nie.”

Hy het egter besluit hy moet ʼn plan maak en is deur dr. Emmanuel Thobejane van Spine Africa behandel. “Die operasie het behels dat hulle van voor af, deur my maag, ʼn snit maak en my ingewande eenkant toe skuif om sodoende by die ruggraat uit te kom. Nou is ek vir ses weke op papier afgeboek, maar ek moet na my eie lyf luister.

“Ek lê meestal en kyk tennis, andersins doen ek kort oefeninge en staan op en stap rond.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dorhette Engelbrecht ·

Skuilnaam DEngel… Dis absoluut fantasties, well done Dr Thobejane.. Ons kort laaaaankal ‘n Ortopeed wat nie net sny omdat dit sny is en dalk ‘n nuwe boot beteken nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.