Brangelina-toesigstryd draai in Pitt se guns

Angelina Jolie en Brad Pitt in 2015. (Foto: Mark Ralston/AFP)

ʼn Kaliforniese regter het beslis dat ʼn toesigbevel wat Brad Pitt en Angelina Jolie se kinders raak, aangepas moet word in Pitt se guns, luidens hofdokumente wat deur die Fight Club-akteur se prokureurs ingedien is.

Supersterre Pitt en Jolie, wat ses kinders het en destyds een van Hollywood se hoëprofielpaartjies was, is twee jaar gelede amptelik geskei, maar is sedertdien in ʼn private hofstryd gewikkel.

Dit blyk dat die vriendskaplike ooreenkoms wat die paar in 2018 bereik het oor die kinders – drie biologies en drie aangenome – ontrafel het.

Dokumente wat deur Pitt se prokureurs by ʼn Kaliforniese appèlhof ingedien is en wat AFP onder oë gehad het, beweer dat ʼn regter, wat in sy private hoedanigheid aangestel is, ʼn “tentatiewe beslissing” gemaak het waarin hy bevind het dat “die bestaande toesigbevel tussen die twee partye aangepas moet word volgens mnr. Pitt se versoek”.

Die dokumente beweer ook die regter het bevind dat Jolie se “geloofwaardigheid in belangrike areas van haar getuienis ontbreek” en dat haar poging om die nuwe toesigverrigtinge uit te daag “die kinders sou skade berokken deur hulle verder van bestendigheid en stabiliteit te ontneem”.

Jolie (45) poog om die regter te laat ontslaan van die skeisaak.

Die bepalings van die egpaar se oorspronklike toesigooreenkoms is nooit bekend gemaak nie, maar die vermaaklikheidsmedia in die VSA het wyd berig dat Pitt gelyke toesig wou bekom terwyl Jolie alleentoesig oor die kinders wou verkry.

Angelina Jolie en haar kinders. Van links na regs: Pax Thien Jolie-Pitt, Shiloh Nouvel Jolie-Pitt, Vivienne Marcheline Jolie-Pitt, Angelina Jolie, Zahara Marley Jolie-Pitt en Knox Léon Jolie-Pitt by die wêreldprèmiere van
Disney se “Maleficent: Mistress of Evil” by die El Capitan-teater op 30 September 2019 in Hollywood, Kalifornië. (Foto: Alberto E. Rodriguez/Getty Images for Disney/AFP)

ʼn Bron het Woensdag aan AFP gesê dat die regter se onlangse beslissing “aangepas is” sodat Pitt meer tyd saam met sy kinders kan deurbring.

Pitt (57) is onder meer daarvan beskuldig dat hy een van sy kinders geslaan het op ʼn vlug van Frankryk na Los Angeles, kort voordat Jolie hom om ʼn egskeiding gedagvaar het, maar dit is later deur die FBI en maatskaplike werkers uit die weg geruim.

“Die onlangse besluit in die toesigstryd is ʼn tentatiewe een. Ons is ver van ʼn finale oplossing vir enigiets,” het die bron aan AFP gesê.

“Angelina glo dat sy en die kinders ʼn regverdige verhoor geweier is en sal voortgaan om die beste oplossing vir die kinders te soek.”

Pitt en Jolie, wat as ʼn paartjie die bekende noemnaam Brangelina gekry het, is in 2014 in Frankryk getroud. Hulle was sedert 2004 ʼn paartjie nadat hulle getroude sluipmoordenaars vertolk het in Mr and Mrs Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boerkind ·

Enigiets komende uit Hollywood waarop ‘n mens trots kan wees??

Perdeby ·

Privaat hofstryd wat in ‘n publieke hofstryd ontaard as die koerante dit eers aan die hande kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.