Britney sê sy is ‘klaar’ tot pa uittree

Britney Spears in Julie 2019. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Die popster Britney Spears het in ʼn woedende Instagram-inskrywing gesê sy is “klaar” met optredes en het uitgevaar teen haar pa se beheer oor haar sake.

Weke lank pleit die pop-superster al by ʼn Los Angeles-regter om haar kwyt te skeld van die jare lange voogdyskap hoofsaaklik onder beheer van haar pa, Jamie, wat bygedra het tot die wêreldwye belangstelling in die saak.

Spears (39) het laat Saterdagaand driftig openbare uiting aan haar woede gegee met ʼn plasing op Instagram.

“Ek gaan nie binnekort op enige verhoë te sien wees terwyl my pa beheer het oor wat ek dra, sê, doen of dink nie,” het sy geskryf.

Sy sal in stede daarvan video’s deel waar “ek in my sitkamer dans eerder as op ʼn verhoog in Las Vegas”.

“Ek is klaar,” het sy bygevoeg.

Spears, wat in haar tienerjare bekendheid verwerf het, het in 2007 ʼn hoogs openbare ineenstorting gehad toe sy haar kop kaal geskeer het en paparazzi-fotograwe se voertuig by ʼn vulstasie aangeval het.

ʼn Kaliforniese hof het haar die volgende jaar onder ʼn unieke wetlike voogdyskap geplaas wat hoofsaaklik deur haar pa beheer word.

Spears het vinnig na die verhoog teruggekeer daarna, drie albums uitgereik en op verskeie televisieprogramme verskyn en het selfs ʼn kontrak geteken vir ʼn permanente konsertreeks in Las Vegas – waarna sy in haar Instagram-inskrywing verwys.

Sy het egter in Januarie 2019 skielik aangekondig dat sy haar uitvoerings staak tot verdere kennisgewing.

Britney Spears en haar kêrel, Sam Asghari, op die première van ‘Once Upon A Time…In Hollywood” by Chinese-teater in Hollywood, California in 2019. (Foto: Kevin Winter/Getty Images/AFP)

Verlede maand het die sangeres ʼn passievolle pleidooi gelewer vir haar situasie om te verander. Sy voer aan dat sy onder meer daarvan weerhou word om ʼn voorbehoedende IUD (intrauteriene toestel) te laat verwyder, ten spyte daarvan dat sy meer kinders wou hê, en dat sy onder dwang op medikasie geplaas is om haar “dronk” te laat voel.

Spears sê dat sy met regsaksie gedreig is om op te tree en dat sy nie toegelaat word om haar klere in privaatheid uit te trek of haar eie motor te bestuur nie.

“My sogenaamde ondersteuningsnetwerk het my diep seergemaak. Die voogdyskap het my drome doodgemaak; al wat ek het, is hoop en hoop is die enigste ding in hierdie wêreld wat baie moeilik is om dood te maak, al probeer mense steeds,” het sy op Instagram geskryf.

Spears het ook verwys na die dokumentêr, Framing Britney Spears, oor haar benarde situasie wat weer die kollig geplaas het op die vermaakbedryf se behandeling van jong, vroulike popsterre.

“Ek het nie daarvan gehou hoe die dokumentêr vernederende oomblikke van die verlede opgehaal het nie. Ek is ver verby dit en is al vir ʼn lang tyd.”

Spears het Woensdag ʼn groot oorwinning in haar regstryd gehad nadat ʼn regter beslis het sy kan haar eie regsverteenwoordiger aanstel.

Aanhangers en ondersteuners van Britney Spears buite die County Courthouse in Los Angeles, Kalifornië op 23 Junie 2021. (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

Die prokureur wat deur die hof aangestel is ná haar ineenstorting, asook die finansiële bestuursmaatskappy wat saam met haar pa haar boedel beheer het, het gevra om uit hulle rol te tree.

Larry Rudolph, Spears se bestuurder, het ook bedank. Jamie Spears het egter aangedui dat hy nie vrywillig sal uittree nie.

Spears het baie openbare steun, met aanhangers wat buite die hof dreunsang, asook dié van haar musikale eweknieë Christina Aguilera en Madonna en die massiewe #FreeBritney-beweging op sosiale media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Filistyn ·

Pappa sê inkomste is in gedrang – daarom dat hy so vasbyt?

VaalDonkie ·

Haar pa is ‘n “boomer”, wat anders kan jy verwag?

Tiaan ·

Hierdie jare lange voogdyskap onder beheer van haar pa, wat nie haar beste belange op sy hart dra nie, moet tot ‘n einde kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.