Britney Spears pleit by regter vir ‘verandering’

Britney Spears in Oktober 2018 met die aankondinging van haar “Britney: Domination”-vertonings in Las Vegas. (Foto: Ethan Miller/Getty Images North America/AFP)

Britney Spears het Woensdag tydens ʼn emosionele verhoor by ʼn regter gepleit om ʼn “misbruikte” voogdyskap te beëindig wat in 2008 haar pa beheer van haar sake gegee het.

“Ek soek net my lewe terug. Dit is al 13 jaar. Dit is genoeg,” het Spears via ʼn videoskakel gesê terwyl aanhangers van die popster buite die hof in Los Angeles, Kalifornië, hulle ondersteuning betoon het.

Die 39-jarige ster se geldsake en persoonlike lewe is grootliks deur Jamie Spears beheer sedert haar hoogs openbare ineenstorting meer as ʼn dekade gelede. Dit het gelei tot sommige aanhangers wat die sogenaamde Free Britney-beweging in meer onlangse jare van stapel gestuur het.

In ʼn toespraak waar Spears skaars gestop het om asem te haal, het die ster gesê dat, onder wettige ooreenkomste, sy daarvan weerhou word om ʼn voorbehoedtoestel in haar liggaam te laat verwyder ten spyte daarvan dat sy nog kinders wou hê.

Die ma van twee het gesê dit het haar “getraumatiseerd” en “depressief” gelaat.

“Ek is ongelukkig. Ek kan nie slaap nie. Ek is so kwaad. Dit is gek,” het sy gesê en bygevoeg dat sy daagliks huil.

“Ek glo werklik dat hierdie voogdyskap misbruikend is. Ek soek veranderinge; ek verdien veranderinge,” het Spears by regter Brenda Penny gepleit.

Die sangeres het selde openlik oor die voogdyskap gepraat, maar haar prokureur, Samuel Ingham, het in April vanjaar gesê dat Spears die hof direk wil toespreek, wat Woensdag se verhoor tot gevolg gehad het.

Spears het lankal ʼn moeilike verhouding met haar pa. Verlede jaar het sy ʼn aansoek ingedien om hom van haar voogdyskap te skrap en om alle regte van haar boedel aan ʼn finansiële maatskappy oor te gee.

Die prokureur wat namens die hof aangestel is, het gesê Spears is “bang” vir haar pa.

‘Net té veel!’

Aanhangers en ondersteuners van Britney Spears het buite die County Courthouse in Los Angeles, Kalifornië byeengekom op 23 Junie 2021. (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

Stoere aanhangers van Spears sif lankal reeds deur haar sosialemediaplatforms vir leidrade oor haar welstand en enige teken dat sy dalk gretig is om die voogdyskap af te skud.

Vertroulike dokumente wat Dinsdag deur die New York Times gepubliseer is, het gesê Spears het aan ʼn hofondersoeker gesê die voogdyskap word as ʼn “verdrukkende en beherende maatreël teen haar” gebruik sedert so ver terug as 2016.

Volgens berigte het Spears gesê dié stelsel het “te veel beheer… net té veel” en dat sy weerhou word daarvan om haar eie besluite oor vriendskappe, afsprake, besteding en selfs die kleur van haar kombuiskaste te neem.

Luidens die Times-berig het Spears aan die ondersoeker gesê sy wil hê die voogdyskap moet so gou as moontlik beëindig word en dat sy “siek is daarvoor om misbruik te word”.

Spears se openbaring dat die voogdyskap haar weerhou om die IUD (intrauteriene toestel) te verwyder, al wou sy beheer neem van haar eie voorbehoedmedikasie in ʼn poging om swanger te raak, het verdere verontwaardiging van aanhangers en aanlyn voortplantingsregtegroepe ontlok.

“Ons staan by Britney en alle vroue wat voortplantingsdwang in die gesig staar. Jou voortplantingsgesondheid is jou eie en niemand behoort besluite daaroor namens jou te neem nie. #FreeBritney,” het Alexis McGill Johnson, president van Planned Parenthood, Woensdag in ʼn inskrywing op Twitter gesê.

Spears word tans aanspreeklik gehou vir die regskoste aan albei kante, waaronder die opposisie se ontsaglike regskoste.

‘Verneder’

Aanhangers en ondersteuners van Britney Spears het buite die County Courthouse in Los Angeles, Kalifornië byeengekom op 23 Junie 2021. (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

Die omstredenheid om Spears se regsaak het in Februarie ontplof toe die dokumentêr, Framing Britney Spears, uitgereik is. Dié dokumentêr fokus op haar aanvanklike geestesgesondheidstryd en haar pa se daaropvolgende aanstelling as haar voog.

Spears het gesê sy was “verneder” deur haar uitbeelding in die dokumentêr, waarin aanhangers sê sy word in wese gevangene gehou en beweer sy het talle gekodeerde pleidooie om hulp uitgestuur.

Nadat sy in 2006 van Kevin Federline geskei is en in 2007 toesig oor haar kinders verloor het, het die paparazzi Spears kaalvoet met ʼn kaalgeskeerde kop by ʼn vulstasie afgeneem.

Onder haar pa se voogdyskap het Spears stadig maar seker weer begin vertonings lewer. Sy het ook drie albums uitgereik, op verskeie televisieprogramme verskyn en het selfs verblyfreg geteken op ʼn vertoning in Las Vegas.

In Januarie 2019 het sy egter skielik aangekondig sy skort haar vertonings tot verdere kennisgewing op.

Aanhangers en ondersteuners van Britney Spears het buite die County Courthouse in Los Angeles, Kalifornië byeengekom op 23 Junie 2021. (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

Sy sê haar pa en medewerkers het haar gereeld gedreig. “As ek nie doen wat hulle vir my sê om te doen nie, my dwing om te doen nie, gaan hulle my straf,” het sy gesê.

Spears het gesê dokters het haar onder dwang op medikasie geplaas wat haar “dronk” laat voel het en dat sy nie toegelaat is om in privaatheid haar klere uit te trek of haar eie motor te bestuur nie.

Jamie Spears se regspan sê hy het hom uitstekend van sy taak gekwyt om sy dogter se geldsake te bestuur.

ʼn Regter het in Februarie beslis dat Spears se pa en finansiële bestuurder Bessemer Trust albei ʼn oog oor die popster se geldsake moet hou, wat Jamie verhoed om beleggings op sy eie te delegeer.

In ʼn verklaring wat in die hof voorgelees is, het ʼn prokureur vir Jamie gesê hy is “jammer om te hoor dat sy in soveel pyn is” en dat hy “baie lief is” vir sy dogter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.