Britney Spears tree vreemd op; bekommer aanhangers

Britney Spears. (Foto: Britney Spears/Instagram)

Aanhangers van die Amerikaanse popster Britney Spears het vandeesweek op sosiale media te kenne gegee hulle is rasend van bekommernis toe sy kaalvoet en skraps geklee by ʼn Hollywood-hotel uitgestap het terwyl ʼn ambulans na die hotel ontbied is.

Hierdie voorval is een in ʼn rits gebeure in die popster se lewe wat mense aan die gons oor haar geestestoestand het.

In ʼn plasing wat sy sedertdien verwyder het, beweer sy dat die foto’s van waar sy die hotel verlaat, vervals is.

“Net om mense te laat weet … die nuus is vals! Meeste van die foto’s is body doubles, en ek dink die meeste weet dit,” het die byskrif onder ʼn foto van wat blyk om ʼn kunsmatige man te wees, gelui.

Sy het ook geskryf dat sy by die dag sterker word en dat mense haar daarvoor moet respekteer.

Intussen het Spears verskeie Instagram-plasings gemaak waar sy onder meer beweer dat paramedici haar by haar hotelkamer geteister het, dat sy haar enkel geswik het en dat haar ma, Lynne, op een of ander manier betrokke was by die ambulans wat ontbied is en die paramedici wat haar kamer “onwettiglik” betree het.

In haar jongste plasing dans sy op ʼn suggestiewe wyse in ʼn noupassende lyfpak en wit stewels. In dié plasing skryf sy dat sy “nooit toegelaat is” om haar “regte” bene tydens vertonings te wys nie en dat sy altyd lae moes aantrek.

Die 42-jarige sangeres se kortstondige huwelik met die 30-jarige model Sam Asghari het amptelik hierdie week tot ʼn einde gekom. Die twee is in Junie 2022 by haar huis getroud, hoewel hul paadjies reeds in Julie 2023 geskei het.

Die egskeiding het na bewering gesloer omdat Sam nie tevrede was met die geldelike vergoeding wat aan hom gebied is nie.

Entertainment Tonight berig egter hy het uiteindelik geen vergoeding ontvang as deel van die egskeidingsooreenkoms nie.

Nadat sy in die vroeë 2000’s geworstel het met haar geestesgesondheid en onder meer al haar hare afgeskeer het in 2007, is Spears in 2008 onder ʼn streng voogdyskap geplaas.

Haar pa, James “Jamie” Spears, en die prokureur Andrew M. Wallet was jare lank haar wettige voogde.

Die voogdyskap is in November 2021 beëindig, met Spears wat intussen ook ʼn outobiografie, The Woman in Me, uitgereik het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.