By die dood en terug, nou lééf sy, sê Afrikaanse sanger oor baba

Klein Zardi (Foto: Skermskoot uit die video/Gerhard Steyn)

Klein Zardi (Foto: Skermskoot uit die video/Gerhard Steyn)

Dit is verreweg een van die moeilikste tye waardeur die gesin nóg is: Klein Zardi is twee maande te vroeg gebore, het ʼn skrale 1,2 kg by geboorte geweeg en dokters het nie ʼn toekoms vir haar voorspel nie.

Die mediese personeel se woorde was verdoemend. Vir sewe maande het sy die klein bondeltjie in haar baarmoeder gedra en liefgekry, en nou moet sy sommer net so afskeid neem.

Maar hulle het nie; inteendeel – hulle het die stryd van ʼn leeftyd aangepak, en danksy “God se groot genade”, het die Afrikaanse sanger Gerhard Steyn en sy vrou, Zelri, se gesonde babadogtertjie Dinsdag 10 maande oud geword.

Die sanger het vroeër aan Maroela Media vertel hulle moes “steun op hul geloof” nadat die gesin deur diep waters is. Zardi het op twee maande maar 2,6 kg geweeg – die gewig van ʼn pasgebore baba.

Zardi saam met Gerhard (Foto: Facebook)

Zardi saam met Gerhard (Foto: Facebook)

Sy het in die hospitaal ook by die dood omgedraai nadat sy verstik het aan medikasie wat dokters vir haar gegee het. Mediese personeel kon ná ʼn gespook van vyf minute haar hart weer laat klop.

Die sanger het aanhangers Maandag verras met ʼn splinternuwe musiekvideo van die liedjie “Nooit alleen” wat hy voor Zardi se geboorte vir haar geskryf het.

“Zardi was [met geboorte] so klein dat my trouring gemaklik oor haar hand tot op haar boarm kon skuif,” vertel die sanger op Facebook.

“Hierdie liedjie het ek vir haar geskryf toe sy nog ʼn ongebore baba was. Vandag dra sy nog steeds klere vir babas van 0 – 3 maande, maar sy is perdfris en gesond. En die oulikste kleinding!”

Gerhard het destyds gesê hy wil nou die pa wees wat God wil hê hy moet vir sy kind wees. “Ek het geen benul gehad hoe sy my lewe sou verander nie. Niemand kan jou voorberei op daardie gevoel nie. Ek wil net daar wees vir haar en haar grootmaak soos die Here dit wil hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Heidi ·

Hi julle sy sal groot word my seun is nou 13 en hy het die eerste vyf jaar van sy lewe in die hospitaal gelewe. Hyt net een volle long en die ander een is die helfte. Hyt tot op 2jaar nog 3-6mnde oue klere gedra was 980g by geboorte en verloor tot op 800g hy was 9mnde van sy eerste jaar in hospitaal en hyt net so oor die 1.5kg geweeg. Moenie dat dokters julle vertel hulle sal dit nie maak nie, want deur gebed is als moontlik. Hou haar styf vas en geniet elke oomblik en sterkte

carmen ·

Beste Gerhard en Zeldi
my seun is 14 jaar terug op 26 weke gebore – 980g….vandag is hy langer as ek en ‘n fantastiese sportman! omdat hul so moes veg aan die begin van hul lewentjies word hul groot en sterk kinders en ek se nog elke dag dankie vir my kleine wonderwerk!

lien ·

aaaawww sys pragtig, sy gaan nog ‘n baie sterk meisiemens word as sy groot is, my dogter is ‘n maand en ‘n half te vroeg gebore, 1.6 kg met geboorte, 30cm lank, ‘n maand in ICU deurgebring, elke 3de vierde dag het dokters nie hoop gehad nie dan kom sy weer reg en so het sy geveg tot sy ontslaan is …….net so klein soos klein Zardi……op twee maande was ek en sy in ‘n groot motorongeluk, weer het God haar gespaar, op twee jaar is ‘n gewas uit haar dermpies uitgehaal, op vier beland sy perongeluk agter onder ‘n motor se band …….motor ry oor haar been……..tussen vier en ses (lank terug) kan nie presies ouderdom onthou nie……..verdrink sy amper…………..so sy is ‘n klein wonderwerkie, ‘n geskenk van God, vandag is sy 15…….en baklei nog steeds vir haar plekkie in die lewe………’n baie sterk selfversekerde jong tiener meisie………..

Theresa M ·

Gerhard & Zelri, sy is pragtig.

Lien, jy en jou dogter het deur moeilike tyd gegaan, maar dit maak ‘n kragtige getuienis uit.

Alle dank en eer aan ons Here en ek hoop Hy sal albei dogters(en ouers) versterk en seen.

Julia Gerrits ·

Sy is pragtig en lyk soos n ou porselain poppie! Mag sy vir julle net vreugde en geluk bring!

Cecilia ·

Baie dankie dat julle dit met ons gedeel het trotse papa en mamma. Sy is pragtig en mag die Here julle seen,sommer baie baie.Dankie MM vir iets moois!

cindee ·

Ek is gebore op 7 maande het 680g geweek en is met n nood keiser gered nadat my ma brein dood verklaar is, as God ‘n plan met jou lewe het kan niks of niemand dit keer nie. Ek is vandag 28 jaar oud en kan getuug dat God op ‘n wonderbaarlike manier werk. Mag sy baie geluk en vruegde vir julle bring. God seën julle al 3.

Francie ·

Dit is die mooiste foto’s wat ek in ‘n baie lang tyd gesien het! Soveel liefde !! Baie dankie dat julle dit met ons deel. Die Here se genade is onbeskryflik groot. Prys Sy naam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.