Carel Nel: Een van SA se grootste ‘uitvoerprodukte’

Carel Nel (Foto verskaf deur Showmax)

Akteur Carel Nel gesels met Showmax oor sy rol as twee androïedes, hoe Ridley Scott hom informeel in kennis gestel het dat goed agter hom gaan ontplof, hoe om gekies te word vir internasionale rolle wiff de right accent, sy jongste fliek wat by die South by Southwest-filmfees debuteer en die talle, talle programme waar jy hom in aksie kan sien.

Jy het agtereenvolgend in 2016 en 2017 by die Silwerskermfees die toekenning ontvang vir beste akteur (in Hum en Slaaf). Jy was ook medeskrywer aan Slaaf – het dit jou rol verbeter?

Wessel Pretorius het in 2013 of 2014 die toneelstuk geskryf en ons het saam aan die konsep gewerk. Dit is gebaseer op ʼn storie van iemand wat ek in my tuisdorp geken het. Ek was betrokke by die skep van die toneelstuk, so ek sal nie sê ek was heeltemal die medeskrywer nie. Maar om só betrokke te wees by die proses, het my beslis gehelp om die karakter baie beter te verstaan. Ek het goed geweet wie hy was, so ek kon myself inleef en dit was beslis makliker. Dit het gevoel of ek ʼn algehele repetisie gehad het nog voor ons die kortfilm begin skiet het en dit het my baie gehelp.

Dit lyk of jy net so suksesvol is in teaterproduksies, nadat jy die Fleur de Cap-toekenning ontvang het vir Beste Akteur in Die Rebellie van Lafras Verwey. Ek weet baie mense vra dié vraag, maar as jy ʼn eerste liefde moet kies tussen rolprente, televisie en die teater, watter een sal dit wees?

Ja, ek kry daardie vraag baie en ek dink dit is ʼn onregverdige vraag, want ek is dol oor al drie. Dit maak nie vir my saak wat die medium is nie – die storie is altyd die belangrikste ding. Hulle het almal hul voor- en nadele. Daar is niks soos om op ʼn verhoog uit te stap in ʼn uitverkoopte venue nie – dis ʼn ongelooflike ervaring; maar dan is daar ook die opwinding om ʼn fliek te maak en die pas van televisieprogramme.

Jy was al te sien in verskeie internasionale produksies, soos die Emmy-genomineerde Roots, Abraham Lincoln in Grant en onlangs ook as Karl in Ridley Scott se dramatiese wetenskapfiksie-fantasie, Raised by Wolves. Wat moet jy doen om ʼn internasionale rol te kry?  

Die eerste ding is dat jy aksente moet kan doen. Ek het een keer vir my agent, Moonyeenn Lee, wat ongelukkig verlede jaar weens die koronavirus gesterf het, ʼn oudisie gedoen. Sy was ʼn ongelooflike vrou. Ek het ʼn oudisie vir haar gedoen vir Roots en sy het ná die oudisie na my gekyk en gesê: “Carel, ek dink jy’s perfek vir die rol, maar jou aksent is verskriklik!” en toe het sy vir my ʼn nommer van iemand gegee en gesê: “Gaan spandeer jou geld op jou aksent – jy sal nie spyt wees nie.”

Ek dink dit het my uiteindelik iets soos R5 000 gekos. Ek het behoorlike opleiding gekry om ʼn Britse aksent te doen en dit het my geleer dat ek dit met ʼn Amerikaanse aksent ook moet doen. Ek het nie daardie presiese rol gekry nie, maar ek het ʼn groter rol gekry omdat my aksent so goed is! Die eerste ding wat jy dus nodig het, is om geloofwaardige Amerikaanse en Britse aksente baas te raak.

Internasionale rolle was nie noodwendig vir my die uiteindelike doelwit nie. Ek het na akteurs gekyk wat baie werk en gedink, “Hoe kan ek nóg meer werk?” Ek het nie baie plaaslike werk gekry nie; ek dink dis omdat ek maer is en ʼn eienaardige voorkoms het en ek dink hulle weet nie presies hoe om my in ʼn rol te pas nie. So ek het gedink ek sal diversifiseer en dis toe dat ek geleer het om aksente te doen.

Ek wou baie graag plaaslik en internasionaal werk, en nou kry ek dit uiteindelik reg.

In Raised by Wolves vertolk jy die rol van Karl en Android Surgeon. Was Karl regtig die karakter se naam of is hy na jou vernoem?

Ek was eerstens die karakter Android Surgeon in episode twee wat op die ruimteskip brand en dan gesigoorplantings op die ander androïedes doen. Hulle het gesê ek sal definitief in nog ʼn episode verskyn as ʼn ander androïede of as ʼn paar androïedes, so ek vermoed Karl is na my vernoem. Ek weet dit nie 100% nie, maar ek vermoed dit. Dit is net té toevallig.

Vertel ons van die grimering – dis ongelooflik

Dis alles prosteses. In episode agt, waar ek Karl is, het ek ʼn prostese-masker oor my kop en neus en dan van die neus af ondertoe is dit alles grimering. Dit was nogal ʼn intense ervaring. Dit het ons elke dag vier uur lank gevat. As ons om seweuur begin skiet het, moes ek om tien voor drie reeds daar wees. Ons het van drie tot sewe in die grimeringstoel gesit en dan gaan ek na die stel toe en ons skiet tot seweuur. En die volgende oggend moet ek om drieuur weer daar wees – so dit was nogal rof.

Carel Nel in “Raised by Wolves” (Foto verskaf deur Showmax)

Blykbaar is Raised by Wolves die grootste produksie tot dusver wat in Suid-Afrika verfilm is. Dit moes ʼn ongelooflike ervaring gewees het.

Ja, om aan Raised by Wolves te werk was die malste ervaring wat ek nog ooit gehad het. Ek bedoel, op die eerste dag van verfilming, stap Ridley Scott na my toe en sê: “Hoor hier, daar gaan ʼn ontploffing agter jou wees …” en ek sê, “Ek verstaan nie?” en hy sê: “Die ruimteskip agter jou gaan ontplof. Daar gaan vlamme wees. Moenie bekommerd wees nie, jy’s veilig!” Hulle het alles met ons bespreek, maar ek was nog steeds verstom oor die idee dat die ruimteskip agter my sou ontplof. In die toneel hardloop ons weg en skielik is daar ʼn ontploffing! Dit was ongelooflik om te sien!

Wat is die mees waardevolle les wat jy uit dié yslike produksie geleer het?

Ons moet na die sterre reik. Ek bedoel, ons is baie bekwaam in Suid-Afrika – die spanne hier is van wêreldgehalte. As ons die regte begroting kan kry, kan ons met enige filmbedryf in die wêreld meeding.

Die lokprent vir jou nuwe fliek, Gaia, lyk wonderlik. Vertel ons bietjie meer?

Ons het Gaia verlede jaar verfilm, maar sowat sewe dae ná ons begin het, is alles opgeskort met die aankondiging van die nasionale afsonderingsperiode. Ek moet ons vervaardigers Tertius Kapp, Jorrie van der Walt en Jaco Bouwer komplimenteer dat hulle ons teruggekry het om die projek af te handel – dit moes ʼn yslike werk gewees het om te finansier, so ek is baie dankbaar vir hulle.

Gaia het gedebuteer in Austin, Texas, by die South by Southwest-filmfees en ons was baie geëerd om deel te kon wees daarvan. Ons Afrika-première sal na verwagting by vanjaar se Silwerskermfees te sien wees.

Gaia is ʼn ekologiese riller – dit speel af in ʼn oerwoud en volg ʼn vrou, Gabby, wat na haar hommeltuig op soek is en dan op twee oorlewingskundiges afkom (ek en Alex van Dyk). Sy ontdek hulle is deel van ʼn vreemde geloof. Ek wil nie te veel verklap nie, maar ons is baie trots op die fliek. Kyk solank na die lokprent.

Jy kan Carel Nel ook in hierdie Showmax-titels sien:
Raised by Wolves
Ekstra Medium
4 Mure
Balbesit: ‘n Studie in Stemme
Die Ontwaking
The Endless River
Shepherds and Butchers
Die Byl
Hum
Slaaf
Ek Het Jou Gemaak
Fynskrif 
Dominee Tienie
Dwaalster
Die Spreeus
Oedipus die Musical
Rage
A Boere-Krismis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.