Charlize Berg praat oor ma-wees

Charlize en Aleiah (Foto: Instagram)

Die klein sangeres met die groot stem Charlize Berg het onlangs haar jongste enkelsnit genaamd “Yster in die vuur” bekendgestel en vier ook op 17 April haar dogtertjie, Aleiah Rose Linden, se eerste verjaardag.

Berg het aan Maroela Media vertel dat sy nou, nadat sy ʼn ma geword het, leer om nie te hard op haarself te wees nie.

“Ek dink alle mammas moet besef hulle is goed genoeg. Dit voel partykeer vir my, en ek is seker vir ander mammas ook, asof ek ʼn slegte ma is omdat dit soveel moeiliker is om al die balle in die lug te hou as wat mense daar buite dink.

“Ek dink ons as mammas is ongelooflik hard op onsself. Ons almal moet net onthou dat jy goed genoeg is, selfs wanneer jy regtig net in ʼn hoek wil gaan huil of in die spenskas wil klim. Onthou net jy doen ʼn briljante werk om die klein mensie reg te kry vir die wêreld,” sê sy.

Charlize en Warren op hul troudag (Foto: Mighty Fine Productions/Instagram)

Berg en haar man, Warren, is in 2016 getroud nadat hulle vir agt jaar in ʼn verhouding was. Berg sê dat sy net liewer vir haar man geraak het nadat Aleiah gebore is.

“Sedert ons troue en ons saam ouerskap ingestap het, het ons ongelooflik baie gegroei, en as nuwe mamma en pappa ondersteun ons mekaar baie. Ons het nog altyd baie gefokus op kommunikasie, en omdat hy mý mens is, verstaan hy net soveel meer. Ek is geseën met ʼn wonderlike man, en as ek my dogtertjie in sy arms sien is ek só trots,” sê sy.

Berg het gesê dat sy en haar man albei bietjie skrikkerig was voor Aleiah se geboorte, omdat hulle nie geweet het wat om te verwag nie.

Aleiah Rose Linden (Foto: Instagram)

“Ons het sáám deur alles gegaan, en hy help my nog steeds met alles. Dit is werklik een van die wonderlikste ervarings van my lewe. Ouerskap het ʼn volmaaktheid by my lewe kom byvoeg. Genade en liefde het nuwe definisies gekry – groter en dieper as ooit. Ek is so gelukkig en geseënd,” sê sy.

Berg sê dit is soms moeilik om alles te hanteer omdat sy so baie op die pad is met konserte, maar dat sy dankbaar is vir haar ouers en skoonouers wat ʼn sterk ondersteuningsbasis is.

Warren en Aleiah (Foto: Andelle Schenach Photography/ Instagram)

Sy sê sy en Warren wil graag nog kinders hê, maar dat hulle sal kyk wat gebeur, omdat die lewe sy eie pad loop.

Berg het ook onlangs haar jongste enkelsnit “Yster in die vuur” uitgebring, en sy poog om mense daardeur te bemagtig deur vir hulle te sê hulle kan enigiets oorkom, maak nie saak hoe groot die probleem nie.

“‘Yster in die vuur’ het ʼn kragtige boodskap wat ek hoop met almal gaan praat wat in moeilike situasies is. Ek dink ons almal veg ons eie gevegte agter die skerms en ek wil deur dié liedjie mense motiveer om daardie vuur in hulself te vind om die probleem te oorkom,” sê sy.

 

20 vinnige vrae aan Charlize Berg

Posted by Maroela Media on Tuesday, April 16, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sonja Alberts ·

Sy’s sooooo pragtig nes haar Mamma!!!!!Ek’s Desember mnd getroud het ek haar liedtjie “die wit rok”gebruik om mee in te kom het al die voorreg gehad om Charlize op 3’vertonings te sien ek is mal oor haar sy borrel letterlik en figuurlik!!!!!Geniet julle kleinding sy’s pragtig!!!!!!!

Karinda ·

Julle is so pragtige gesin. Sonder fieterjasies of aandag soekende publisiteit. Mooiste mooi ♡

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.