Clive Bruce op herstelpad na noodoperasie

Clive Bruce (Foto: Facevook)

Die Suid-Afrikaanse countrymusiek-legende Clive Bruce, ook bekend as die “Midnight Cowboy” is vandag uit die hospitaal ontslaan.

Maroela Media het vroeër berig dat Bruce Sondagoggend ʼn noodoperasie moes ondergaan nadat ʼn aneurisme in sy maag opgespoor is.

Sy bestuurder, Mara van den Bergh, sê hy is direk van die waakeenheid af ontslaan en dat sy vrou, Jennifer, nou by die huis na hom sal omsien.

“Hy is nog baie swak. Hy mag nie loop of sit of niks nie, hy moet nou net baie rus en slaap. Hulle gaan die nuwe jaar baie rustig ingaan,” sê sy.

Van den Bergh sê sy is deurentyd met Jennifer in verbinding en dat dit goed gaan met haar.

Clive Bruce (Foto: Facevook)

“Sy is baie bly dat hy oukei is. Nou kan hulle die nuwe jaar saam ingaan. Dit is mos darem net lekker om al jou mense onder een dak te hê op Nuwejaarsdag, so ons dank die Vader dat hy hierdeur is.”

Bruce mag nou vir ses weke glad nie enigiets optel nie en moet deurlopend rustig wees. Van den Bergh sê hulle gaan moontlik ook van sy vertonings moet skuif sodat hy behoorlik kan herstel.

Sedert die nuus van Bruce se aneurisme aan die lig gekom het, het boodskappe van bemoediging ingestroom. Van den Bergh sê dit was wonderlik om te sien hoe baie sy aanhangers vir hom omgee.

“Ek ken hom al meer as dertig jaar lank. Ons is almal verlig en dankbaar dat die Here hom gespaar het vir ons, dat hy hier deur is, en dat hy by die huis is,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.