Corlea oor dáái foto: ‘Ek wou hê mense moet regop sit en luister’

Corlea Botha (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Corlea Botha (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Ja, erken die donkerkopsangeres Corlea reguit, sy hét aandag gesoek met die omstrede foto wat sy op sosiale media gedeel het en waarop dit lyk asof sy aangerand is.

Natuurlik het sy aandag gesoek – mense móét regop sit en aandag gee, sê sy.

Waar sy Dinsdag openhartig gesels in die Maroela Media-ateljee, draai sy nie doekies om nie. “Ek het geweet as ek die veldtog net gaan afskop met die mooi boodskap van waaroor dit eintlik gaan, gaan mense dit sien en daarvan vergeet. Mense floreer op drama en sensasie wat hulle aandag dadelik boei en hulle nuuskierig maak,” sê sy.

“Hy het belowe hy sal nie weer nie …” het die sangeres by die oorspronklike plasing van die foto op haar sosialemediaplatforms geskryf. Op die foto lyk dit of sy ʼn harde hou teen die oog weg het. Daar is ook duidelik sigbare kneusplekke aan haar nek en skouer.

“Miskien moes ek net stilgebly het …” lui dié inskrywing verder.

Die “Breek my hart”-sangeres sê sy het van die begin af geweet dit gaan ʼn storm in die media en onder aanhangers laat losbars, maar sy het haar skietgoed gereed gehad. “Ek het geweet waarvan ek praat en ek het geweet hoe dit is om in so ʼn situasie te wees. Ek wou hê mense moet dadelik regop sit en luister en wonder wat gaan hier aan. Dit was altyd my plan gewees om dit so te doen.”

En nee, voeg sy by, dit het net mooi niks met die uitreiking van haar jongste album, Onbreekbaar, te doen nie. “Ek het geloof in my sangtalent en dat dit my sal deurdra. Ek het nie nodig om mediafoefies te gebruik om my albums te verkoop nie. Hierdie hele ding was nie vir myself nie.”

Die foto wat Corlea op haar sosiale media gedeel het.

Die foto wat Corlea op haar sosiale media gedeel het.

Net nadat sy die foto, waar sy gegrimeer is om ʼn blouoog en bebloede lip uit te beeld, geplaas het, het sy by Afrikaans is Groot in Kaapstad die liedjie “Bittersoet” uitgevoer. Dit is ook vir dié liedjie se musiekvideo waarvoor sy dié grimering laat doen het.

“Voor ek begin sing het, het ek vir die gehoor gesê: ‘Dié van julle wat die media dopgehou het, sal weet dat ek die afgelope twee weke opslae gemaak het met ʼn foto op my sosiale media wat volgens die media skokkend is. Wat egter vir my skokkend is, is die feit dat ons as samelewing nog nie oor emosionele, verbale en fisieke geweld kan praat nie. En terwyl die foto dalk vir julle skokkend was, wil ek vir julle sê – dít is die gesig van ons ma’s, ons oumas, ons dogters, sussies en vriendinne.”

Die applous was dawerend. “Ek dink mense het besef die omstandighede is eg en dat dit nié ʼn foefie is nie. Dit is nie wat ek wou hê nie.”

Sakke vol genade

Uit haar bewusmakingsveldtog teen huishoudelike geweld het die “Genadesak”-projek gespruit. Sy het saam met die SAPD en verskeie ander vrouebeskermingsorganisasies gewerk om navorsing te doen vir dié projek.

“Deur ons navorsing het ons agtergekom baie van hierdie vroue wat besluit om uit hul omstandighede te stap, het baie keer geen finansiële sekuriteit of heenkome nie, omdat hulle dikwels vervreem word van hul families en die res van die samelewing,” verduidelik sy.

“Meestal eindig hulle êrens op straat, en net om hulself te kan voed wend hulle hulle dan tot prostitusie. Wanneer dié vroue ingeneem of uiteindelik van die straat af gekry word, is die grootste probleem daarna om sanitêre ware te bekom.”

Vandaar het die idee ontstaan om op ʼn praktiese wyse dié vroue by te staan deur ander mense aan te moedig om hierdie benodigdhede, wat dikwels sommer net in ʼn kas lê of maklik bekombaar is, te skenk.

“Hierdie vroue moes in die eerste plek nie net veg vir hulle lewe nie, maar ook vir hulle vryheid en menswaardigheid,” sê Corlea.

“Wat vir ons ʼn luukse is, kan vir iemand anders die wêreld beteken. So ʼn genadesak is maar basies ʼn bietjie genade, ʼn bietjie liefde, ʼn bietjie hoop, wat ons vir ander vroue in nood wil skenk.”

Omdat die reaksie so oorweldigend was, kan ʼn handsak of ander soort sak wat gevul word met produkte soos sanitêre ware, toiletware, reukweerder, haarprodukte en grimering, binnekort by verskeie openbare plekke regoor die land afgegee word, waarna dit aan vroue in veilige hawes geskenk sal word.

“Ek weet dat ek in my persoonlike hoedanigheid nie elke vrou se battle vir haar kan fight nie; ek kan nie persoonlik betrokke raak nie en al wil ek hoe graag, kan ek nie elke liewe mens help nie. Wat ek wel kan doen, is om net ʼn bietjie verligting te probeer bring of hulp te verleen en dit is die maklikste en toeganklikste manier vir myself, en ek glo vir elke ander vrou in die land, om ander te kan help.”

Corlea Botha (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Corlea Botha (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Bittersoet

Nadat Corlea verlede jaar “Breek my hart”, wat geskryf is deur Johan Oberholzer, as ʼn enkelsnit vrygestel het, het sy besef baie mense het die woorde van die lied anders geïnterpreteer as wat sy dit geskryf of vertolk het tydens die vorige jaar se Afrikaans is Groot-konsertreeks.

Breek my hart asseblief, sodat ek jou van voor af weer kan kies, jou wonde maak nie seer nie, maak my liewer vir jou,” lui dié lied se liriek.

“Mense het gesê dit klink of ek ly aan battered wife syndrome en dit klink asof ek mishandeling goedkeur. Ek was redelik ontsteld toe hulle dit vir my sê, want ek sal nooit so ʼn boodskap goedkeur nie. Tog, toe ek weer die woorde van die liedjie lees, het ek die musiekvideo vir “Bittersoet” in my kop sien afspeel. Omdat ek self ʼn slagoffer van emosionele, verbale en fisieke mishandeling was, het ek besef dit is ʼn onderwerp waaroor beslis meer gepraat moet word.”

Sy het haar idee vir die video met haar ma en bestuurder, Mesadi, en haar vriendin en stileerder, Elzaan van der Merwe, gedeel. “Hulle het toe na vore gekom met hulle eie stories van mishandeling en ek het gewonder hoekom hierdie soort stories so onderdruk word, hoekom mense so stil bly daaroor en hoekom dit voel of dit ʼn onderwerp is waaroor ʼn mens moet skaam kry. Want dit is soos kanker – jy kies nie dat dit met jou moet gebeur nie. Ek het gedink dit sal goed wees om geraas daaroor te maak, om die fluitjie te blaas en vir slagoffers te kan sê: ‘Hier is jou opsies’.”

Hoop te midde van die storm

Corlea se jongste album, 'Onbreekbaar', is onlangs uitgereik.

Corlea se jongste album, ‘Onbreekbaar’, is onlangs uitgereik.

Hoewel Corlea geweet het dat ʼn storm gaan losbars oor haar benadering van die bewusmakingsveldtog, het sy geweet sy doen die regte ding toe haar platemaatskappybase, Brendan Hargroves en Arnold Coleske, hulle goedkeuring vir die projek gegee het.

“Toe ons om ʼn tafel gaan sit en dit bespreek, was tannie Ronel [Brink] ook een van die eerstes wat verstaan het waar ek vandaan kom en wat ek wil doen. Ek het vertroue gehad in die vrouegeslag en het geloof daarin gehad dat hulle sal verstaan. Daarom was dit vir my verskriklik erg om op sosiale media te sien dat omtrent 85% van die negatiewe kommentaar juis van vroue af gekom het.”

Sy voeg by sy sal aanhou probeer om hoop te skep en een hart op ʼn slag aan te raak. “Ons as Afrikaners het maar die geneigdheid om ʼn couch coach te wees, jy weet – hulle weet presies hoe om dinge te verander en gaan jou presies vertel hoe as jy hulle vra, maar wanneer dit daarby kom om jou woorde in dade om te skakel, is daar net niemand om dit deur te voer nie.

“Dit pla my geweldig baie, want daar is soveel mense wat oor soveel dinge kla, maar niemand is daar om op te staan om iets te doen nie en die oomblik wanneer iemand wel opstaan en besluit om iets te doen, kritiseer die res van hulle daardie persoon ook.”

Dit was ook vir haar opvallend hoe mense na die foto gekyk het en die reaksies was dat hulle hoop dit is ʼn grap of dat haar oog regtig blou is. “Jy is geskok omdat dit grimering is? Sou dit vir jou beter gewees het as dit actually met my gebeur het, want dan sou jy jammer gewees het vir my of die gepaste menslike emosies in hierdie soort situasie getoon het?” vra Corlea.

Nee, sy glo nie die foto was onsensitief nie. “Dit wat ek met grimering gedoen het, is die minste van baie van die egte situasies waarin mense in grafiese detail vir my vertel het wat met hulle gebeur het. ʼn Blouoog is die minste van die probleme van hierdie slagoffers.”

Corlea se eie ervaring

Sy neem ʼn diep asemteug voordat sy vertel oor haar destydse kêrel, wat haar lank emosioneel en verbaal mishandel het voordat sy geweld teenoor haar een aand fisiek geraak het. “Hy het vroeër vir my gesê dat ek in die een of ander stadium gaan moet ophou sing, want hy hou van sy vroue in die kombuis. Ek het egter nie gedink dit, en al die ander goed wat hy kwytgeraak het, is so erg nie, want ek het geglo ek kan ʼn pleister daarop plak en dat die verhouding net onder druk is.”

Daar was ʼn paar voorvalle wat voor dit gebeur het, maar die een waarna sy besluit het genoeg is genoeg, was by sy ouerhuis, waar hy vir Corlea in die badkamer ingedwing en homself saam met haar daar toegesluit het.

“Hy het my die sitkamer, waar sy ouers gesit en televisie kyk het en niks van die situasie gedink het nie, badkamer toe gesleep. Hy het my in die spasie tussen die toilet en die muur vasgedruk en my herhaaldelik aan my skouers teen die muur gestamp. Ek het gegil, geskree en gehuil en steeds het sy ouers nie reageer nie. Gelukkig het ek vroeër my ma op pad daarheen gebel om my te kom haal en toe sy uiteindelik daar aankom, het sy hom gesmeek om die deur, wat gesluit was, oop te sluit.”

Sy kon daarin slaag om uiteindelik te ontsnap, uit die badkamer en heeltemal uit dié man se lewe. “Ek was gelukkig genoeg om my ouers as ondersteuningsnetwerk te hê om my te help om daaruit te kom, maar baie mense het dit nie. En ek wou ʼn stem wees hiervoor omdat baie mense niks hiervan weet nie.

“Nadat ek die veldtog van stapel gestuur het, het ons ʼn magdom e-posse, boodskappe en telefoonoproepe gekry, nié net van vreemde vroue wat sê hulle het nooit voorheen die vrymoedigheid gehad om vir enigiemand hul storie te vertel nie, maar ook familie en vriende wat gesê het ons het baie meer gemeen as wat ek weet.”

Sy is nie verwaand om te dink haar eie omstandighede van mishandeling was erger of meer traumaties as ander slagoffers s’n nie. Inteendeel.

“My storie is dalk nie naastenby so erg soos wat baie ander vroue deurmaak nie, maar ek dink ook wat dit vir my makliker gemaak het, was dat ek besluit het om uit te kom die oomblik toe dit gebeur het. Ek het dadelik besef dit is nie gesond nie en dit is nie wat liefde is nie,” sê sy.

“Die trefslag van dit wat met my gebeur het, is nie meer deel van my dag-vir-dag-bestaan nie. Dit is nie meer ʼn swaard wat oor my kop hang nie en ek is vry daarvan.”

Om in Pretoria ʼn genadesak te skenk, lewer dit af by Mamilla Fashions (Bendorstraat 768, Elarduspark, Pretoria). Corlea en Pedro Kruger tree eerskomende naweek by die Mimosa Mall in Bloemfontein op en genadesakke kan daar ook geskenk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

51 Kommentare

E.K. die eerste ·

Mooi so Corlea! Trots op jou. Die Genadesak is ‘n uitstekende idee en hopelik versprei dit na alle ander dorpe en stede!

Anoniem ·

Ek is regtig jammer maar hierdie staan my glad nie aan nie.

Ek verstaan wat sy wil doen is om mense daar buite te help maar eerlik, dit is nie hoe dit gedoen word nie.

Weet jy regtig hoe dit voel om deur so iets te gaan?

Ek dink nie so nie…

Blommie ·

Het jy die artikel gelees? Want as abuse survivor gee ek haar 10/10 vir die veldtog want sy was ook in abusive verhouding. Sy weet waarvan sy praat. Want as jy die dag uitstap uit so verhouding is daar 85% kans jy stap uit met niks en moet van vooraf begin. Tyd laat mense begin praat!! Die saak moet aangeroer word. Want vroue word in ons land nog baie mishandel – verbaal veral. Tyd dat die boelies vas gevat word.

Gielie Hill ·

Die musikante raak desperaat nou haal hulle sulke foefies uit . Die borge onttrek en die cd verkope is af en die besprekings raak al minder.

dellies ·

ou koeie uit slote grawe in haar geval sing eerder EK STEM saam Giele

Johan ·

Ek dink wat sy gedoen is laakbaar en pateties, ons ouers het ons altyd geleer, “Don’t cry wolf”

Daar is wel n belangrike boodskap, en ek stem saam dat daar bewusmaking gedoen moet word, maar DIE is nie die manier nie. Dit was in baie swak smaak en ek het al my agting vir haar verloor hierdeur.

Wiki ·

Wel ek het hoendervleis gekry met die video. as ander die verkeer vir ure kan ontwrig om snitte bekend te maak en aandag te trek, hoekom kan sy nie ook op haar manier nie. Dit is n werklikheid en sit gebeur.

Gert Marais ·

Hoe gaan die gesegde? Wees die minste en draai die ander wang.

Gert Marais ·

Ek is klomp, klomp jaar gelede deur baie trauma, baie, vir paar jaar lank, ek het ook ‘n skrywe daarvan na die koerante gestuur wat wyd geplaas is, maar myne se slot was eg en nie met grimering aangedik nie. Ek het ook na die tyd bevry gevoel, eintlik verlos van die kettings, maar net vir ‘n tyd en omdat ander dit kon lees, dit het soortvan ‘n pleister opgeplak, want as dit nie vir daardie trauma was nie … en hier is ek terug …

AmY ·

Wanneer gaan iemand iets doen vir mans wat deur hulle vrouens mishandel word, en nie kan terugslaan nie?
O nee… Dis mos net vrouens wat mishandel word.

Klopjag ·

Jitte, soveel oneerlikheid en kinderagtigheid.

Eerstens, mense is moeg vir oneerlikheid, veral as dit van bekendes afkom.

Tweedens, asof dit nie genoeg is nie, maak jy asof mense, wat nie jou fopnuus stories soos soetkoek opeet nie, aan een of ander schadenfreude ly.

Jy vergeet ook dat dit uiters laakbaar is wanneer ‘n vrou die simpatie wat mense het, teenoor vroue wat werklik uit sulke verhoudings kom, misbruik en mans valslik beskuldig van aanranding. Dit opsigself is ‘n vorm van sosiale geweld teenoor onskuldige mans.

Daarom dat mense so gewalg is en gewalg bly deur jou opperste oneerlikheid.

Nee. Ons almal sal verkies as vrouens nie geslaan word nie, mans nie valslik beskukdig word nie, almal die waarheid praat en “celebs” terugkom aarde toe en hul faam op die regte manier verdien – deur talent en harde werk.

Willie ·

Goed gestel. Kom ons leef soos volwassenes met die waarheid as ons doelwit. Het genoeg van al die toneelspel en bedrog van politici en sogenaamde “idols”.

Susan ·

Ek het ook al my respek vir haar verloor. Ek stem saam met jou. Die wat so opstaan vir haar, ek kom self uit ‘n verhouding waar ek al die kleure van die reënboog geslaan was en emosioneel afgekraak was. Vandag 12 jaar later is ek gelukkig, maar bang vir ‘n verhouding, ek werk daaraan. Wat ek wel teen Corlea se lirieke het is dat sy mense juis aanmoedig om in ‘n siek verhouding te bly. As ek dit 12 jaar terug gehoor het, sou ek sekerlik in die verhouding gebly het en vandag ‘n statistiek gewees het. So sy het dubbelstandaarde en probeer nou net om haar self te regverdig wat sy gedoen het. In ‘n liedjie sê sy bly en net om daarna te sê ag kry my jammer. Ek wat daar was, so ook baie ander wat daar was (mans en dames word mishandel), weet presies hoekom sy nou as vals gesien word en dat haar “veldtog” belaglik is. Natuurlik kry ek haar jammer indien sy wel in ‘n siek verhouding was, maar soos ek genome het, haar lirieke weerspreek dit.

Sarel ·

Wel eerstens het sy geslaap in bewusmaking en kennisname. Die wat kritiseer, sy kom werklik uit so verhouding en praat van ondervinding. So hou op om haar uit te kryt en te beledig. Wat is die syfer in SA t.o.v. mishandelde vrouens en kinders. Mooi Corlia.

Swartwolf ·

Gelukkig het ek teruggele en dit gesien vir die aandag soekery vir wat dit is…..

Babertondaisy ·

Sy moes iets doen om relevant te bly. Dink nie die sang maak dit meer nie.

Jax ·

Ek het self deurgeloop deur gesinsgeweld. My kinders en ek dra steeds aan die nadraai. Dit gesê, daar is geen manier dat ek dit sal gebruik om op die toplys en cd-verkope te bevorder nie. Dit word kry-my-jammer-verkope genoem.
As n mens werklik n impak wil maak vir die regte redes, kry n mens n paar bekendes bymekaar en kry mense om meer inliging vir slagoffers te gee. Dis nie n onderwerp wat mens op jou eie aanpak nie!

Daniel ·

Teleurstellend, Corlea. Net soos Chris Chameleon se swak-smaak truuk. Swak maniere

Cornette ·

Mense mense mense….Corlea was WEL in so mishandelde verhouding vasgevang MAAR sy’t met haar ouers se hulp ontsnap van dit alles! (Lees die artikel!!)
Sou die mense wat haar nou so kritiseer meer gelukkig daaroor gewees het as die foto die ware Jakob was ipv grimering??

BAIE geluk Corlea dat jy die moed gehad het om daai verhouding te beeindig & BAIE dankie dat jy iets daaraan wil doen vir ander vrouens/mans wat nie so gelukkig soos jy was om geliefdes te hê wat jou kon bystaan om van voor af weer te begin nie!
Trots op jou!!

Agterdogtig ·

Ek voel regtig vir mishandelde vroue, maar regtig daar is geen swelling aan haar gesig dit lyk soos swak “special effects” grimering. Hoe kom lê sy nie ‘n klag nie? Wie het haar geslaan, wat is sy naam? Ek dink die publisiteits foefie doen baie skade, aan die saak van vrouens wat regtig deur dit moet gaan.

Ekke ·

Lees niemand die hele artikel? Sy was in so verhouding en haar bewusmakung en lied is deur dit geinspireer. Soos Cornette reeds gese het: Sal julle dit ondersteun as die voosgeslaande gesig regtig was? Dan is almal wat kritiek lewer ook maar net sensasie jagters. Klink of julle teleurgesteld is dat sy nie rerig blou geslaan is. Skaam julle!

Gert Marais ·

Moenie woorde in ons mond lê nie, dis nie wat ons sê nie. Mens kan dit sterker stel. As ek hier bo my verhaal aan die media destyds aangedik het, en hulle het dit na die tyd agtergekom, wat dan? Niemand ontken dat sy ‘n slagoffer was nie, maar daar is perke om met ‘n ‘storie’ te hardloop, dis nie soos ‘n fliek wat jy grense by tye kan oorskry nie.

Gert Marais ·

Hierdie wat ek nou skryf is buite orde, maar net om perspektief te gee, my storie aan die media was destyds oor die 3,000 woorde. Daardie ervaring was nie skrape of ‘n blou oog nie, dit het my lewe verander. So, mens mors nie met gevoelens van mense en jaag dit op ‘n hoop nie. Skryf dan ‘n storie oor jou lewe en maak ‘n fliek daaroor dat een of ander aktrise met oorgawe die hoofrol kan vertolk.

Joan ·

YIP – dit maak my skaam vir ons Afrikaanse kunstenaars dat hulle sulke foefies gebruik vir aandag. Dit wat jy doen help nie die wat werklik daar deurgaan nie. Het ons Afrikaanse kunstenaars maar net ‘n minderwaardigheids kompleks dat hulle so laag moet daal ? Cornette – as sy net haar storie gedeel het sou dit mense meer gehelp het ….

wilma ·

Corlea, ek hoop nie jy gaan jou laat onderkry deur van die kommentare hierbo nie. Ek wonder hoeveel van hulle gaan ‘n “genadesakkie” afgee vir persone wat dit werklik nodig het? Seker nie een nie! Baie sterkte met die projek en tonne seëninge.

koos ·

so bye the way daai grimering van die hou lyk terrible – my 5jarige kon dit beter doen – kani glo mense kon dit nie sien en weet did fake nie…

Christo du Plessis ·

Stem beslis saam . Ons is n sensasiegedrewe land wat juis nie hierdie styl meer kan akkommodeer nie.

Eina ·

Sy het haar naam met ‘n plank geslaan en nou wil sy die skade regstel deur nog ‘n dikker plank te gebruik.

Geen ou wat sy hande vir ‘n vrou lig sal in elk geval vir haar stories val nie. Hulle doen in elk geval wat hulle wil. Met daardie foto gaan sy Niemand bekeer nie.

Joan ·

Daar is honderde mense wat “genadesakkies” en BAIE MEER doen vir die mense – hulle gebruik net nie die publisiteit om hulle loopbane en CD verkope te verbeter nie EN basiun dit nie uit op sosiale media nie. As mens goed doen sonder om krediet daarvoor te soek dan weet jy die persoon is opreg

Joe ·

Joan sy doen dit nie vir krediet en cd verkope nie. Sy doen dit sodat meer mense betrokke kan raak. Niks hiervan is vir haarself nie. Hoe meer mense betrokke raak, hoe meer sal die wat dit nodig het kry. Sosiale media is die beste manier om dit te bereik. Haar talent is meer as genoeg en CD’s sal in elkgeval verkoop.

Avokado ·

Die grootste uitdaging vir ‘n vrou wat vasgevang is in so ‘n verhouding is dat sy nerens het om heen te gaan nie. Daar is te min veilige hawens waarheen sy kan vlug en waar sy hulp kan kry om haar lewe weer op koers te kry. ‘n Sakkie met basiese benodighede sal help maar sy het meer as dit nodig. Ek glo die kunstenaar en haar span het daaraan ook gedink en sal werk maak om van die geld wat hulle maak met die lied daarvoor ook aan te wend.

Osie ·

Duidelik is hier baie lesers wat OF dom OF blind is! Die was geen foefie, geen trcik om meer CD’s te verkoop nie. Dit was ‘n bewusmakingsveldtog! 10/10. Doen so voort.

Janine ·

Nog altyd van Collea gehou, nog altyd van haar musiek gehou. Om haar platform te gebruik vir bewusmaking is GREAT! As suksesvolle kunstenaar het sy geen foefies nodig om haar CD te verkoop nie.

Steven ·

Uiters trots op jou, Corlea! well done! dis mos afrikaanse manier: al wat ons kan doen is kla en kritiseer maar min het guts om optestaan of iets daadwerlik te doen. Nou hou ek NOG MEER van jou!

Andre ·

Aandag soek en verkeerd vertoon, staan mans weer in `n slegte lug en niks was gedoen nie.
Baie swak styl van die vrou.

dellies ·

Ag nee man dis sommer snert
buitendien het ek dadelik gesien daai grimering is baie aaklig aangewend
ek dink Corlea moet eerder net sing…haar stem is genoeg moenie gaan aandag soek deur mense se gedagtes op hol te jag oor iets wat nie eens regtig plaas gevind het

Bridget ·

Stem saam met Gielie – Delies en Johan en ander rerig nee wat nog nooit mal oor haar gewees nie nou is ek heeltemal af gesit

VANSI ·

die bewus making is fantasties vrouens moet daaroor praat…
maar ek stem nie saam die rede hoekom dit NOU eers bewus gemaak word, ou koeie, was nie toe daaroor gepraat nie … skielik word dit nou oor gepraat en ek glo dat dit motiveering is vir verkoop van CD. Ek kan nie help wonder is dit opreg in haar hart om vrouens bewus te maak of meer om aandag en CD te verkoop. Die is sielsvernietigend en mens sit regop en ja luister, net om te hoor dis make up en so op gemaak – dit het nie nou gebeur nie. Sy kon storei vertel het sonder om so skokkende gremeer foefie te trek om aandag te kry. Daar vrouens wat regtig daar deur gaan, wat regtig elke dag so lyk. Hulle vertel hul storie regtig om mense te help en hulle kleur nie hul gesigte in vir dit nie… foto het my geruk net om te besef dis gefake! dis onnodig. vertel jou storie en moedig aan… geen ekstra fake make up is nodig nie

Meloney ·

Ek het ook gedink dit is swak smaak Corlea. Ek sou dit beter verstaan het as dit onlangs gebeur het – jy en jou ma se mishandeling. Ek het die artikel in die HG gelees en gewonder of jy besig is om jou plek in die arena te verloor. Terloops, ek wonder of jy wel SO gelyk het toe dit jou pad gekruis het. Jou intensie en my persepsie verskil hemelsbreed.

Is ook daar! ·

Ek is al jare in so ‘n verhouding en ek waardeer wat Corlea doen! Of dit nou CD verkoop of nie, dis nie ter sprake nie! Sy doen iets om te help! Almal wat so vol kritiek is, wat het jy al gedoen om te help?
Mooi so Corlea!! Elke bietjie help, al is dit net vir een vrou!

Antjie ·

Die 46 kommentare is presies wat sy wou he met die foto. Publisiteit.

Seuna ·

Wel gedaan Corlea, wens meer mense wil by die projek aansluit & meer doen om van hulp te wees in plaas van snydige kommentaar uit te deel, want hulle is juis die wat sulke gedrag toesmeer. Ek is self ‘n man & het grootgeword in ‘n ouerhuis waar nie net my ma en daarna my stiefma so aangerand is dat hul by die dood omgedraai het en vele jare daarna operasies moes ondergaan om hul gebreekte liggame weer heel te maak & wanneer hy nie genoeg aan hulle geslaan het nie was ons kinders volgende op sy lys. Self in my grootouers se huis was gesinsgeweld aan die orde van die dag. Ek verafsku enige vorm van geweld & ek doen my deel en help waar ek kan om sulke slagoffers te help.

Pieter ·

Ek dink mense soos sy en bv Steve behoort hulle te beperk by dit wat hulle goed doen, nl sing! Dis omdat hulle hulself ophou met allerhande ander dinge en onnodige uitsprake maak dat daar boikotte teen hulle kom. Skoenmaker, bepaal jou by jou lees.

TN ·

Vet en kan nie sing nie ; sy moes noodwendig iets doen om aandag te trek !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.