Craig du Toit Nel ‘sê ʼn ding soos dit is’

Craig du Toit Nel. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Craig du Toit Nel. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Sommige mense noem hom platvloers terwyl ander hom plat op die aarde noem. Party mense dink hy is voor op die wa terwyl ander hom verdedig en sê hy is net eerlik en skreeusnaaks.

Hoe dit ook al sy, die 130 000 volgelinge op sy Facebook-bladsy is dit almal eens: hulle “loooove” vir Craig du Toit Nel, soos die een tannie op sy profiel koer. Niemand kan ontken dat dié internetsensasie met die bottelblonde hare en die skitterwit tande, met sy uitgesproke en komiese video’s die land stormgeloop het nie.

Craig vertel hier op die rusbank in sy bestuurder, Louis van Wyk, se huis, hy het nog altyd gevoel sy gesig hoort op ʼn skerm êrens, maar die video wat oornag van hom ʼn huishoudelike naam gemaak het, is nooit gemaak om die publiek se aandag te trek nie. Dis nou die een waarin hy gespot het met oorsese modelle, nadat hy êrens gehoor het hulle eet watte wat in lemoensap gedoop is om hulle eetlus te blus.

Hy het dié gewigsverliesmetode op video beproef en vir sy nabye vriendekring aangestuur. Dit is oornag deur derduisende mense gekyk en siedaar, ʼn komediant is gebore.

Ja, erken hy, hy was nog altyd bekkig en het in ʼn huis grootgeword waar hy en sy suster toegelaat is om ʼn mening te hê. Hy was ook tot op 17 ʼn oorgewig tiener en het die skaal by 125 kg laat draai.

“Ek was huge!” verduidelik hy dramaties met sy hande. “Ek het geen selfvertroue gehad nie en as ʼn oorgewig persoon het ek agter komedie geskuil. Komedie is ʼn goeie wapen. Ek het myself gespot voor iemand anders dit kon doen, jy weet? Toe ek die gewig afskud, het die persoonlikheid agtergebly.”

Om ander mense te laat lag en hul drome te bewaarheid is twee van Craig se grootste passies in die lewe. Daarom het hy ʼn paar jaar gelede sy lewe as jare lange bankbestuurder verruil vir ʼn trouvenue in Brits.

'n Skermgreep uit een van Craig se video's waar hy kommentaar lewer oor grimering.

‘n Skermgreep uit een van Craig se video’s waar hy kommentaar lewer oor grimering.

“Die bankwese was sieldodend,” vertel hy. “Casa Grande was toe te koop en ek het my geleentheid aangegryp om te doen waarvoor ek lief is. Ons het klein begin, maar ek glo ons is vandag suksesvol omdat ek vir mense oomblikke skep en nie net bekommerd is oor die tjieng-tjieng nie.”

Hy het intussen ʼn wildslodge op Hartbeespoort, Out of Africa, oorgekoop en dit is ook hier waar hy saam met sy gesin woon. Min mense weet dalk dat dié man met sy uiters reguit opinies ook ʼn toegewyde gesinsman is.

“Ons is so gelukkig met ons bosveldlewe!” sê Craig geesdriftig. “Ek sal nóóit in die stad kan woon nie, o nee, die verkeer is hopeloos te erg vir my! Daar waar ek nou woon, is daar soveel spasie. Die bobbejane en kameelperde kom kuier gereeld en die voëltjies sing my wakker in die oggend.”

Hy woon op die lodge saam met sy man, Pieter. Hulle is al agt jaar saam waarvan hulle twee jaar getroud is. “Hy is my rots en hy hou my voete plat op die aarde. As ek net dink ek wil grootkop kry, dan herinner hy my gou-gou dat ek net doodgewone Craigie by die huis is.” Hy skaterlag.

Om hul twee pleegkinders groot te maak is vir hom die vervullendste werk wat hy tot dusver gedoen het. “Maar dit is ongelooflike harde werk, hoor! Jy is verantwoordelik vir die skaaf van ʼn mensie.”

Hy vertel sy seuntjie is al vier jaar in die Du Toit-Nel-egpaar se pleegsorg en hul dogtertjie woon nou twee jaar by hulle. “Ons kyk nie terug nie. Ons wou graag ʼn gesin hê en het verskeie moontlikhede soos aanneming en surrogasie oorweeg, want so hard soos ek probeer het, kon ek net nie swanger raak nie,” skerts hy.

“Die Here het toe dié kindertjies, wat ʼn behoefte aan ʼn familielewe gehad het, oor ons pad gestuur. En hulle is ook mal oor die bosveld! My seuntjie vang al wat ʼn gogga is en ek moet net keer of hy vang gevaarlike goed!”

Al het sy lewe handomkeer verander en kan hy en sy gesin nie meer naamloos in ʼn restaurant gaan sit nie, leer hy sy kinders dat hulle nie op die rug kan ry van sy nuutgevonde roem nie. “Dis belangrik vir elke mens om sy eie weg te baan. Hulle kan nie dink hulle is nou belangriker as ander mense net omdat hulle pappa nou skielik gereeld in die publiek voorgekeer word vir selfie-moments nie,” sê hy beslis.

“In hierdie bedryf is dit baie maklik om te begin dink jy is nou groter as ʼn mens. Ek waardeer my familie naby aan my wat my kan herinner dat ek steeds net Craig is en dat die nuwe lewe wat ek nou lei, in ʼn oogwink weer kan verander. Ek waardeer elke liewe sekonde van hierdie rit waarop ek is.”

Craig. (Foto: Verskaf)

Craig. (Foto: Verskaf)

Sy komedievertoning getiteld Uitgesproke is reeds op die planke gebring vir gehore dwarsoor die land. As jy na sy vertoning gaan kyk, gaan jy vir Craig du Toit Nel kry soos hy is in sy aanlynvideo’s, vertel hy.

“In my vertoning gesels ek oor hoe ek voel oor sekere relevante onderwerpe en ek draai nie doekies om nie. Ek praat oor huwelike, oor mense wat jy nooi vir ʼn braai, slaapkamerstories. Daar is vloekwoordjies en ja, daar is ʼn ouderdomsbeperking van 16. Ek praat met jou soos wat ek en jy as vriende gaan praat,” verduidelik hy.

“Ons is nie pretentious nie. Hierdie is ʼn geselskap en ek sê ʼn ding soos dit is, want mense wil dit hoor. Ek dink nie elke dag ʼn grappie uit om ʼn grappie te maak nie. Deur my grappe probeer ek die wêreld ʼn beter plek maak, jy weet, ʼn wêreld met minder blusher op die wange.”

Gaan na Craig se Facebook-blad om al sy video’s te kyk en vir toerdatums.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Het hom gevolg.... ·

Hy is skreeusnaaks. En sy sêgoed is baie oorspronklik. Ek het hom vir n tyd gevolg…. Maar al hoe meer dir gevoel gekry dat hy baie judgemental is. Hy verkleineer mense en sê sy sê TE reguit.
Maar ons mag HOM mos nie judge nie….

Adri ·

Wat het hy met die eiendom gedoen wat julle beskryf as “oorgekoop”? Het hy dit twee keer gekoop? Het hy te veel betaal? Nee regtig, ek verwag beter van ‘n Afrikaanse mediablad. Hy het dit seker gekoop of oorgeneem, maar oorgekoop????

Fran ·

In hierdie huis is hy beslis nie ‘n huishoudelike naam nie!

Tannie ·

Nog nooit van hom gehoor nie, seker omdat ek nie Huisgenoot koop nie??

Buffel ·

Van wanneer af is die skattebol ‘n treffer? Het nog nooit van hom gehoor nie.

Jackie ·

Grain is skreeusnaaks. Het al een van sy vertonings gaan kyk. Ek en my twee vriendinne het verdwaal opsoek na die toilette. Ons het by hom en sy span verby geloop. Hy het op gespring en ons vriendelik gegroet, drukkies gegee en gesels. Hy is verskriklik aangenaam. Mal oor hom.

Lol ·

Ken hom self nie maar ek sal daarvan hou as my vrou se hare so kon lyk.

Magdalena ·

Craig, eerstens jy is vir my BAIE MOOI, en dan tweedens….? Vrek snaaks en Ek LIEF jou. Jy is opreg, sê en norm ‘n ding op sy Naam.
Gaan so voort my vriend ?
Mag goedheid en guns jou volg Al die Dae van jou lewe

Lena ·

En ons wil hê God moet ons land seën en ons mense beskerm. Ons vra hoekom as erge dinge gebeur omdat ons onder Sy wil en Sy beskerming uitbeweeg. Ons maak lag-lag radikale keuses sonder dat ons dit eens besef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.