Dié bekendes beoordeel Mej-SA inskrywings

Bokang Montjane-Tshabalala (Foto: Verskaf)

Die beoordelaars vir die eerste rondte van vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie is pas aangekondig. Hulle is voormalige wenners van die Mej. SA-titel: Adé van Heerden (2017), Liesl Laurie (2015) en Bokang Montjane-Tshabalala (2010). Anele Mdoda, radio- en televisiepersoonlikheid wat al voorheen dié kompetisie beoordeel het, sluit by hulle aan.

Dié vier beoordelaars sal verantwoordelik wees om deur meer as 2 500, ʼn rekordgetal, inskrywings te sif, en om dan 35 kandidate uit te sonder om aan die tweede rondte in die vorm van virtuele onderhoude deel te neem.

Ná afloop van dié onderhoude sal die 16 top-kandidate aangekondig word.

Mdoda, wat deel was van die beoordelingpaneel wat Rolene Strauss en Zozibini Tunzi op internasionale verhoë laat seëvier het, sê dit gaan alles oor die geloof wat die kandidate in hulself het. “Die kroon vind sy pad na die kandidaat toe terwyl sy daarvoor soek,” sê sy.

Anele Mdoda (Foto: Nick Bolton)

Mdoda sê sy is op soek na iemand wat eg is en wat weet wie sy is. Sy sê uit ervaring kan ʼn mens, wanneer jy die kandidaat ontmoet, feitlik onmiddellik sien of die persoon daardie selfvertroue het.

“Ons is nie op soek na iemand wat alles weet nie, maar net iemand wat bewus is van hoe haar mede-Suid-Afrikaners lewe. Wys ons dat jy nie net bewus is van jou eie bestaan nie en versigtig is om vas te steek by een narratief.”

Laurie sê die transformasie wat die kompetisie ondergaan het sedert sy deelgeneem het, maak haar opgewonde om weer deel daarvan te wees.

Adé van Heerden (Foto: Verskaf)

“Nog iets wat uitstaan, is dat ons beslis vroeg reeds meer voorbereid is vir die internasionale verhoë. Amper elke vrou in die halfeindstryd is gereed om die Mej. Heelal of Mej. Wêreld verhoog aan te durf.”

Van Heerden, wat destyds die Mej. SA-titel by Demi-Leigh Nel-Peters oorgeneem het toe Nel-Peters as Mej. Heelal aangewys is, sê sy is geëerd om vanjaar vir die eerste keer deel van die paneel te wees.

“Dit is nie net ʼn skoonheidskompetisie nie; die wenner word ʼn vroueleier in Suid-Afrika. Ek is op soek na iemand wat ʼn diep selfvertroue in haarself en die potensiaal van haar nasie uitstraal. ʼn Vrou wat haar eie unieke skoonheid kan omarm en haar stem kan gebruik om ons nasie vorentoe te laat beweeg. Die wenner moet eg wees, met die vermoë om te leer,” sê sy.

Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika Organisasie, sê sy is verheug oor die rekordgetal inskrywings wat vanjaar ontvang is, en dat dié inskrywings van hoë gehalte is.

Liesl Laurie (Foto: Verskaf)

“Ek dink dit gaan moeilik wees vir die beoordelaars om ʼn die 16 top-finaliste te kies,” sê sy.

Die Mej. Suid-Afrika Organisasie het vroeër aangekondig dat al drie die top-finaliste vanjaar internasionaal sal meeding, terwyl dit in die verlede slegs die wenner en naaswenner was. Vanjaar sal hulle aan die Mej. Heelal-, Mej. Wêreld- en Mej. Supranasionaal-kompetisie deelneem.

As gevolg van die koronavirus-pandemie sal die aankondiging van die wenners van die Mej. SA-kompetisie vanjaar virtueel aangebied word. Die wenner word vroeg in Augustus aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae