Dié mense is die meeste gesoek op Google

Matt Lauer (Foto: Facebook)

Google het ʼn lys bekendgemaak van mense na wie daar die meeste in 2017 op dié internetsoekenjin gesoek is.

Matt Lauer, die Amerikaanse aanbieder van The Today Show, se naam is die meeste kere deur mense op Google gesoek. Hy is in November vanjaar die trekpas gegee nadat ʼn vroulike kollega hom van onvanpaste seksuele gedrag beskuldig het.

Prins Harry se verloofde, die Hollywood-aktrise Meghan Markle, is die tweede meeste gesoek op Google terwyl Nadia Toffa, die Italiaanse ondersoekende joernalis, die derde meeste gesoek is.

Die regisseur Harvey Weinstein en die akteur Kevin Spacey is beide in die sop na bewerings van onvanpaste seksuele gedrag die rondte begin doen het. Weinstein en Spacey beklee onderskeidelik die vierde en vyfde plek op dié lys.

Die aktrise Gal Gadot het alle oë op haar gevestig toe sy die rol van Wonder Woman in die filmweergawe van dié strokiesprent vertolk het. Sy beklee die sesde posisie.

Donald Trump en sy vrou, Melania, op 18 Julie 2016 by die Republikeinse nasionale konvensie in Cleveland Foto: Carolyn Kaster/AP Photo

Die presidentsvrou in die Amerikaanse Withuis, Melania Trump, is sewende op die lys. Sy en haar man, Donald Trump, het vanjaar die wenkbroue wêreldwyd verskeie kere laat lig.

Die voormalige professionele bokser Floyd Mayweather is nommer agt op die lys. Hy het vanjaar opslae gemaak toe hy in Augustus die sogenaamde “supergeveg” teen die Ierse professionele gemengde gevegskunstenaar Conor McGregor gewen het.

Die Amerikaanse voormalige veiligheidsraadgewer Michael Flynn is in die negende plek en die Brasiliaanse sokkerspeler Philippe Coutinho is in die 10de plek.

Die soekenjin het ook die lys van die mees gesoekte akteurs bekendgemaak.

Meghan Markle van Suits-faam, Kevin Spacey van House of Cards en die Israeliese skoonheid Gal Gadot beklee onderskeidelik die eerste, tweede en derde plek op dié lys.

Die Amerikaanse komediant Louis C.K. is nommer vier op die lys. Hy is ook vanjaar oor die kole gehaal ná hy van seksuele oortredings beskuldig is.

Bill Skarsgård, die jong Sweedse akteur wat wêreldwyd bekendheid verwerf het toe hy die rol van Pennywise die nar in die nuwe weergawe van die gruwelfliek It gespeel het, is vyfde op die lys.

Die Emmy-genomineerde aktrise Millie Bobby Brown beklee die sesde plek op die lys. Brown vertolk die rol van Eleven in die gewilde Netflix-reeks Stanger Things.

kaley cuoco instagram,

Kaley Cuoco. (Foto: Instagram/Kaley Cuoco Official)

Die Britse Spiderman-akteur Tom Holland is in die sewende plek op die lys en Kaley Cuoco, die blonde aktrise van The Big Bang Theory-faam, is in die agtste plek. Cuoco het in November verloof geraak aan die perderuiter Karl Cook.

Die Ierse aktrise Saoirse Ronan is nommer nege op die lys. Die Amerikaanse akteur Jason Momoa, bekend vir sy rol as Khal Drogo in die HBO-televisiereeks Game of Thrones, beklee die 10de plek op die lys.

Die internasionale vermaaklikheidsbedryf het ook vanjaar ʼn paar bekendes aan die dood afgestaan. Hier volg uittreksels uit Google se lys van die mees gesoekte verliese in hierdie bedryf:

Die legendariese rocker Tom Petty en die Linkin Park-voorsanger Chester Bennington beklee onderskeidelik die eerste en tweede plek op die lys.

Bennington se vriend, Chris Cornell van die groep Soundgarden, is in die derde plek. Cornell het homself, net soos Bennington, in sy huis in Detroit gehang.

Die Amerikaanse akteur Bill Paxton is in die vierde plek en die Playboy-magnaat Hugh Hefner is in die vyfde plek. Hy is op 27 September in sy wêreldbekende Playboy Mansion in die ouderdom van 91 dood.

Die Amerikaanse voetbalspeler Aaron Hernandez is nommer ses op die lys. Die Amerikaanse kletsrymer Lil Peep, wat dood is aan ʼn oordosis fentaniel, is nommer sewe op die lys.

Chester Bennington van Linkin Park tydens die iHeartRadio-musiekfees in Las Vegas in 2012. Foto: Reuters

Die Japannese nuusleser en aktrise Mao Kobayashi is in die agtste plek. Sy is vroeër vanjaar in die ouderdom van 34 aan borskanker dood.

Charlie Murphy, die Amerikaanse akteur Eddie Murphy se broer, beklee die negende plek. Murphy is dood aan leukemie.

Die Amerikaanse akteur David Cassidy, veral bekend as Keith Partridge in die gewilde eertydse televisiereeks The Partridge Family, is in die 10de plek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.