Idris Elba, die Britse akteur, vervaardiger, musikant en DJ, is deur die Amerikaanse tydskrif People as 2018 se sexyste man van die jaar aangewys.
Elba het bekendheid verwerf met sy rol as die dwelmbaas Russell “Stringer” Bell in die dramareeks The Wire. Daarna het hy die rol van Heimdall in Marvel se Thor vertolk en het hy intussen een van Hollywood se hartebrekers geword.
Volgens People was dié 46-jarige akteur verbaas om te hoor dié titel is aan hom toegeken. “Ek het myself in die spieël op en af gekyk. Ek was soos: ‘Ja, jy is nogal sexy vandag.’ Maar om eerlik te wees, dit was ʼn lekker gevoel en ʼn heerlike verrassing – en beslis goed vir die ego!”
Elba is die 33ste man wat dié gesogte titel hou. Die akteur Mel Gibson, toe 29 jaar oud, was in 1985 die eerste man wat deur People as die sexyste aangewys is. Verlede jaar het dié tydskrif die country-sanger Blake Shelton gekies.
Hoewel hy op die sportveld uitgeblink het by die Londense seunsskool waar hy skoolgegaan het en aan sportsoorte soos krieket, hokkie en rugby deelgeneem het, het hy eers deur ʼn ongemaklike fase gegaan. “Ek was maer en tingerig. En my volle name is Idrissa Akuna Elba, oukei? Ek is ʼn klein bietjie geboelie.”
Elba het in Februarie vanjaar verloof geraak aan die 29-jarige model Sabrina Dhowre. Hy het ook ʼn 16-jarige dogter, Isan, en ʼn vierjarige seun, Winston, uit vorige verhoudings.
Hy werk tans saam met Dwayne ‘The Rock’ Johnson, wat in 2016 aangewys is as People se sexyste man van die jaar, aan ʼn nuwe fliek, Hobbs & Shaw.
Almal se smaak verskil. Die mooiste man vir my is my eie man. Enige iemand kan enige iemand aantreklik vind. Almal kan maar self kies wat vir hul mooi is maar ek is ook geleer dat as jy nie ietsie moois van iemand kan sê nie dan moet jy maar liefs stil bly.
Ek het altyd van hom gehou en gedink hy is ‘n goeie akteur- totdat hy sy vrou verkul het. Net soos Ewan McGregor ook. So teleurgesteld!
O nooit. Gelukkig verskil ons almal.
Aantreklike man, beslis.
Maar sexyste man v my bly Mel Gibson?