‘Dimpelman’ Robbie wil mense met TikTok opkikker

Roberto de Gouveia (Foto: Verskaf)

Roberto (Robbie) de Gouveia, of KingBerto soos almal op hom sosiale media ken, het twee redes waarom hy daarvan hou om sosiale media as werk te hê: Eerstens omdat hy die platforms kan gebruik om positiwiteit te versprei, en tweedens omdat dit hom die geleentheid gee om terug te gee aan sy ma.

Robbie (26) het in Germiston grootgeword waar dit nog altyd net hy en sy enkelma, Natalie, was wat die lewe saam aanpak. Hy en sy ma bestuur ook ʼn sakeonderneming saam in Germiston.

In 2018 het hy TikTok, wat se naam toe nog Musical.ly was, afgelaai en video’s vir die pret daar begin maak. Een van sy eerste video’s, waarin net sy mond en kenmerkende kuiltjie te sien was, het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei en is selfs later in ʼn meme gebruik. Dit het hom ook die gepaste bynaam “Dimpelman” gegee.

Dié video het hom die hupstoot gegee wat hy nodig gehad het om ʼn te word. Sedertdien het hy meer as een miljoen volgelinge op TikTok gekry en met handelsmerke soos Lamborghini, Levi’s, Starbucks, Universal Music en Samsung gewerk.

“Ek het nooit doelbewus besluit om ’n influencer te word nie. Dit is iets wat oor my pad gekom het en ek het besef dat ek ’n verantwoordelikheid het om myself met my ondersteuners te deel,” sê hy.

Hy sê hy dink sy sukses op sosiale media is te danke daaraan dat hy dieselfde mens is voor en agter die kamera.

“Ek dink mense wat my volg, kry ʼn baie akkurate weergawe van my op die skerm en ek dink hulle kan daarby aanklank vind. Ek pas nie aan wie ek is in my video’s nie. Wat jy op die kamera sien, is wie ek in die regte lewe ook is.”

Robbie en Chané (Foto: Instagram)

In sy vrye tyd hou Robbie daarvan om gewone goed te doen soos om pret te hê saam met vriende, televisie te kyk en tyd saam met sy mede-influencer en meisie, Chané Grobler, te deur te bring. Dié twee is al vir sowat ʼn jaar ʼn paartjie.

Robbie het binne die eerste drie maande wat hy TikTok begin gebruik het, sowat 10 000 volgelinge gekry, maar hy sê een van sy hoogtepunte was toe die getal een miljoen geraak het.

“Dit was ʼn dag tydens inperking, dit was wonderlik, ek was só bly. Dit was vir lank ʼn doelwit wat ek wou bereik het, en toe dit gebeur, was dit ongelooflik.”

Hy vertel dat hy destyds, toe hy minder volgelinge gehad het, aan sy vriende gesê het hy gaan ʼn bekende wees as hy een miljoen volgeling op TikTok het. Maar nou dat hy daar is, voel dit veel anders.

“Nou dat ek ʼn miljoen volgelinge het, voel ek nie bekend nie. Ek sien nie myself as iemand wat famous is nie, net as iemand wat baie volgelinge op sosiale media het.”

Vir Robbie is die beste ding om ʼn influencer te wees, om mense op ʼn positiewe manier te kan beïnvloed. Aanhangers laat weet hom gereeld dat hulle beter voel as hulle na sy video’s kyk, dat dit hulle laat lag en dat dit hul dae opkikker.

“Dit is vir my lekker om iets te kan doen wat ʼn glimlag op iemand anders se gesig kan sit. Ek weet nie altyd hoe of hoekom nie, maar as ek iemand se dag so kan beter maak, is dit die moeite werd.

“Om ʼn influencer te wees help my ook om my ma se lewe beter te maak. Sy het so baie vir my gegee; so ek wil teruggee aan haar en dankie sê vir alles wat sy vir my gedoen het. En hopelik kan ek dit op hierdie manier eendag doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.