E-konsertgids: Musiek, teater vir oud, jonk dié naweek

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Donderdag

Van vandag (Donderdag) om 10:30 is die Spinella Aanlyn-feeskonsert vir kinders beskikbaar. Die Brooklyn-teater in Pretoria se eie Salon Ensemble (klavier, viool, tjello, kontrabas, fluit en klarinet) is weer op sy pos om die Musicula-leerders en die soliste te begelei.

Ons gaan kuier op Kleingeluk, ʼn plasie in die Vrystaat. Tant Anna (Deirdré van Schalkwyk) en Oom Ben (Christopher Vale) sit op die stoep en stel ons voor aan Spinella Spinnekop, Donsie Kat, Japie Aap, Oom Krap, Katrina, Jannie en Klein Jafta.

Al die liedjies is gekomponeer deur Lida van Dyk. Sy het die liedjies getoonset ter gedagtenis aan haar ma wat hierdie stories in digvorm aan haar vertel het toe sy ʼn kind was. Musicula vereer graag hierdie kosbare kleinood van Afrikaans en lewer so ʼn bydrae om die geskiedenis te vertolk.

Die instrumentverwerkings is gedoen deur Esperance Grobler en Willem Vogel. Magdaleen Lamey rig die kinders, wie se ouderdomme wissel tussen vyf en sewe jaar, af met melodiese perkussie, nie-melodiese perkussie en blokfluit.

Kaartjies is hier beskikbaar.

Vrydag

Op Vrydag 22 Mei om 19:00 kan aanhangers van Elvis Blue en Laurika Rauch voor die kleinskerm inskuif vir Hart en see, dié twee Afrikaanse kunstenaars se aanlyn konsert.

Hart en see is ʼn ontmoeting van twee besonderse talente en Laurika en Elvis laat blyk hulle verskille, maar ook hulle raakpunte. Die konsert is ʼn liriese musiekreis wat betower en bevat bekende en nuwe liedjies, solo’s, duette en verwerkings.

Kaartjies kos R100 en is hier beskikbaar. Die konsert is tot Sondag 24 Mei te sien.

Die Pierneefteater bied op Vrydag 22 Mei om 19:00 produksies van Dinner for One en Dinner for One, Too… aan.

Elize Cawood en Wilson Dunster skitter in hierdie dubbeldooroptrede: Eers hul weergawe van die internasionaal gewilde toneelstuk wat kultusstatus wêreldwyd bereik het. En dan ruil hulle rolle om vir ʼn skreeusnaakse, eg Suid-Afrikaanse weergawe.

Kaartjies kos R75 en is hier beskikbaar.

Sondag

Helene Bester sing Nana Mouskouri.

Die Pierneefteater bied ook Mathys Roets se huiskonsert op Sondag 24 Mei om 15:00 aan. Skilderye van Gerrit Pitout word voor en tydens die konsert vertoon en die gehoor kan daarop bie.

Hierdie is ʼn regstreekse konsert en moet jy jou kaartjie ten minste ʼn uur voor die tyd koop om regstreeks te kan kyk.  Daarna sal jy steeds kaartjies kan koop en steeds na die konsert kan kyk, maar nie regstreeks nie

Kaartjies kos R50 en is hier beskikbaar.

Sondag 24 Mei om 17:00 is Helene Bester te sien in Helene Bester sing Nana Mouskouri as een van Lefra Produksies se Kelderkonserte, wat regstreeks aanlyn uitgesaai word.

Bester se produksie is verlede jaar tydens die Oppiwater-kunstefees bekendgestel. Die teks en regie word behartig deur Frans Swart en die musiekregie deur Heinrich Pelser, ook Bester se begeleier tydens die Mouskouri-konsert.

Sy sing bekende Mouskouri-treffers soos “Cucurrucucu”, “Only Love”, “White Rose of Athens”, “Song of Liberty” en vele meer.

Kaartjies kos R55 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.