E-konsertgids: OPTOG!-konserte nou in biblioteek beskikbaar

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Die geweldige belangstelling in vermaak en opbeur het gelei tot die geboorte van die teaterinisiatief OPTOG! se nuutste projek: ʼn e-biblioteek. Die eerste drie konserte (twee Nataniël e-kuiers en ʼn Drie van die Bestes-konsert) is reeds beskikbaar en twee nuwe toevoegings word hierdie naweek tot die e-biblioteek gemaak.

Op Saterdag 16 Mei word Jannie Moolman en Kevin Leo se konsert Crooners beskikbaargestel. Hierdie viering van dié groep kunstenaars wat dekades lank reeds gehore laat saam sing, sluit bekende treffers soos “Mack the Knife”, “Spanish eyes”, “Delilah” en “Unchained Melody” in.

Op Sondag 17 Mei sal die Charl du Plessis Trio se vertoning Ode to Joy ook beskikbaar wees. Jy kan uitsien na jazz, pop, en klassieke klanke soos net hierdie drie gevierde kunstenaars dit kan aanbied.

Kry toegang tot die e-biblioteek deur www.optog.co.za te besoek. Alle konserte is teen slegs R50 beskikbaar en kan enige tyd, enige plek gekoop en gekyk word.

Herleef dié naweek die Afrikaans is Groot- en Classics is Groot 2016-konserte. Albei sal Vrydag 16 Mei om 19:00 aanlyn beskikbaar wees. Kaartjies kos R49,99 en is hier beskikbaar.

Pietman Geldenhuys en Andries Vermeulen is te sien in Oppiestoep se Kuber Kuiers.

Die Afrikaanse rolprent As Jy Sing sal op Saterdag 17 Mei om 19:00 aanlyn te sien wees. Bobby van Jaarsveld vertolk die rol van ʼn musiekonderwyser wat lewe vir sy sanggroep wat by hul sportgierige skool sukkel om raakgesien te word.

Omstandighede dwing die groep om op te staan vir dit waarin hulle glo, want as hulle sing, vind hulle sin in die lewe. Leah, Bok van Blerk, Karlien van Jaarsveld en Katlego Maboe is ook in die fliek te sien.

Kaartjies kos R35 en is hier beskikbaar.

Die bobaasstorievertellers Andries Vermeulen en Pietman Geldenhuys van Oppiestoep is van 18 tot 24 Mei te sien in die tweede aflewering van hulle Kuber Kuiers. Vandeesweek kuier hulle saam met Alan Hughes en Human du Toit. Schalk Joubert en Mauritz Lotz sorg vir die musiek.

Kaartjies kos R45 en is hier beskikbaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.