E-konsertgids: Steve, Demi Lee, Nataniël dié naweek te sien

Steve Hofmeyr.

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers dié naweek kan ontspan.

Country is Groot

Steve Hofmeyr se Country is Groot-konsert saam met Demi Lee Moore, Ricus Nel en Riana Nel is Vrydag 8 Mei aanlyn te sien.

Country is Groot is in April verlede jaar in die Sun Arena in Pretoria gehou. Hofmeyr het Woensdag op sosiale media aangekondig dié konsert sal uiteindelik Vrydag te sien wees en volgens die omstrede sanger moes dié konsert eintlik nooit gebeur het nie.

“Eers was dit amper gekanselleer, want Steve Hofmeyr is ʼn vloekwoord. Toe word dit verander van ‘Steve en vriende’ na ‘Country is groot’, want Steve Hofmeyr is ʼn vloekwoord. Reklame word beperk en verkope word beperk tot 4 000 stoele, want Steve Hofmeyr is ʼn vloekwoord,” het Hofmeyr gesê.

Kaartjies kos R100 en is hier beskikbaar.

Demi Lee Moore

Ná ʼn baie suksesvolle aanlyn konsert verlede week, sal die blondekop sangeres Demi Lee Moore weer op Saterdag 9 Mei agter die mikrofoon in haar tuisateljee inskuif.

Kaartjies vir die konsert kos R49,99 en is hier beskikbaar.

Double Trouble

Saterdag 8 Mei bring Rixi Roman en sy talentvolle 13-jarige seun Angelo ʼn unieke baskitaar-duet getiteld Double Trouble vanuit hulle huis in Pretoria.

Rixi is een van SA se voorste musikante en kan boonop sing ook. Hy is onder meer op die Afrikaans is Groot- en Lexus Classics-verhoë te sien en het al saam met kunstenaars soos Johnny Clegg, Ruhan du Toit, Riana Nel, Stella en Elvis Blue gewerk

Angelo het op vierjarige ouderdom begin baskitaar speel en het deel uitgemaak van Music Kids wat reeds twee albums opgeneem het. Angelo is ʼn internetsensasie met sy tuisgemaakte video’s van sy baskitaarspel. Rixi en Angelo speel tweetalige verwerkings van liedjies soos “Maskara”, “Toe Vind Ek Jou”, “Reckless Love” en “The Prayer”.

Kyk hier hoe sing die pa-en-seun-duo “Toe vind ek jou” regstreeks op die Groot Ontbyt.

Kaartjies vir die Double Trouble-konsert kos R49,99 en is hier beskikbaar.

Amanda Strydom

Amanda Strydom en haar pianis, Coenraad Rall, hou op Sondag 10 Mei ʼn huiskonsert vir Moedersdag om 15:00. Amanda sing van haar bekendste liedjies, verweef met stories in ware Miss Mandy styl. Die konsert sal aanlyn beskikbaar wees vir 72 uur. Die kaartjies kos R80 en is hier beskikbaar.

Nataniël

Nataniël (Foto: Facebook)

Nataniël is ook weer op Sondag 10 Mei aanlyn te sien in die OPTOG!-aanbieding Van my kas na jou kas. Hy is terug in sy garderobe, sy gunstelingvertrek, en gesels oor verlore reise, nuwe geleenthede, gestorwe moontlikhede en nuwe realiteite.

Gaste soos die aktrise Sandra Prinsloo, pianis Charl du Plessis, sangeres Corlea Botha, Aardklop Kunstefeeshoof Alexa Strachan en akteur Reynardt Hugo kuier saam vanuit hul eie klerekaste.

Kaartjies kos R50 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Dana

Reeds kaartjie gekoop vir Country is Groot. Kan nie wag nie