Eben Etzebeth steek ring aan aktrise se vinger

Eben Etzebeth en Anlia van Rensburg (Foto: Instagram)

Te oordeel na die knewel aan haar ringvinger gaan Anlia van Rensburg, die Getroud met rugby-aktrise en sangeres, binnekort as’t ware “met rugby” getroud wees nadat sy vir Eben Etzebeth die jawoord gegee het.

Die Springbok-slot en voormalige Stormers‑speler het tot onlangs in Toulon in Frankryk rugby gespeel en sluit hom nou by die Haaie aan. Etzebeth het Donderdag, op Van Rensburg se verjaardag, ʼn verloofring aan haar vinger gesteek.

Hulle het in Desember verlede jaar tydens die Kersseisoen bekend gemaak hulle is ʼn paartjie. Dit is egter nie bekend presies hoe lank hulle al in ʼn verhouding is nie.

Etzebeth (30) het twee foto’s van homself en Van Rensburg met seiljagte in die agtergrond geplaas waar sy met die diamantring aan haar vinger spog.

Eben Etzebeth en Anlia van Rensburg (Foto: Instagram)

“Die begin van die res van ons lewe. Ek wou nog nooit so graag die jawoord gehoor het nie,” het Etzebeth by die foto’s geskryf.

“Jy het my die gelukkigste mens op die planeet gemaak.”

Van Rensburg het dieselfde twee foto’s op haar Instagram-rekening geplaas.

“Verreweg die beste dag van my lewe. Ek is die gelukkigste vrou op aarde. Dankie dat jy vir my ʼn onvergeetlike verjaardag gegee het. Dit was ʼn heilige oomblik en ek weet nie of ek al ooit so speechless was nie,” het sy gekoer.

Etzebeth het verlede maand aangekondig dat hy weens “persoonlike redes” na Suid-Afrika terugkeer.

Hy sal teen die einde van die huidige Europese seisoen in die swart-en-wit mondering van die Durbaniete te siene wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Chantel ·

Eks bly vir haar, sy het ‘n rowe paar jaar agter die rug. Mag julle 2 baie gelukkig wees

Trotse Boervrou ·

Nou weet die hele land wat die “persoonlike redes” was! Baie geluk Eben. Anlia is beeldskoon. Mag julle toekoms baie geseënd en propvol liefde en geluk wees. Pragtige paartjie!

OW ·

Baie geluk julle twee.Mag julle liefde,vreugde en vrede ervaar vir die tyd wat voorlê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.