‘Ek’s gay’, sê Afrikaanse sepiester ná Orlando-skietery

Jacques Pepler (Foto: Facebook via Jacques Pepler)

Jacques Pepler (Foto: Facebook via Jacques Pepler)

ʼn Afrikaanse sepiester, bekend vir sy rol in die kykNET-sepie Villa Rosa, het Maandag op Facebook aangekondig hy is gay.

Jacques Pepler wat die rol van Eben in Villa Rosa vertolk het, skryf hy is deur die onlangse massaskietery in Orlando genoop om “oop en eerlik” te praat oor sy seksualiteit.

Minstens 50 mense is dood en 53 beseer ná ʼn skieter Sondagoggend vroeg by ʼn nagklub in dié staat op klubgangers losgebrand het. Dit is die ergste massaskietvoorval in die geskiedenis van die VSA. Die Islamitiese Staat (Isis) het intussen verantwoordelikheid vir dié voorval aanvaar.

“Ná dit wat pas gebeur het met die LGBT-gemeenskap (lesbies, gay, biseksueel of transseksueel), het ek besef dit is belangrik om braaf te wees en in die openbaar oor my seksualiteit te praat,” skryf hy. “Ek is gay en nou ook een van die minderheid wat openlik só leef en teen wie maklik gediskrimineer word.”

Die akteur het ook gesê hy was voorheen huiwerig om oor sy seksualiteit te praat omdat hy bang was dat dit sy loopbaan sou kelder. “Ek was vir ʼn geruime tyd bang gewees oor dit wat mense van my gaan sê of dink, of wat dit aan my ‘beeld’ as akteur sal doen. Ek was ook bang dat ek sommige rolle, wat ek weet ek kan vertolk, ontsê sal word omdat ek ʼn openlike gay man is.”

Jacques sê hy het vrede in sy hart, hoewel hy besef hy sal moontlik veroordeel word. “Ek is so gebore, en na 25 jaar het ek eindelik die moed gekry om trots te wees op wie ek is. In my hart weet ek ek is ʼn toegewyde Christen, en mý God haat nie.”

Die inskrywing is intussen meer as 160 keer gedeel, en meer as 1 000 keer ge-like.

Lees die volle inskrywing op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.