‘Emmers vol blydskap’ vir sanger ná eersteling se geboorte

Jacobus Silwer se dogtertjie, Emmalè Judith Coetzee (Foto: Verskaf)

Die gewilde sanger Jacobus Silwer (38) en sy vrou, Lizame Coetzee (34), het Dinsdag hul eersteling in die wêreld verwelkom.

Jacobus het vandag ’n foto van dié dogtertjie, genaamd Emmalè Judith Coetzee, op Facebook gedeel. Sy is op 21 Augustus om 19:29 gebore.

Die “Genade vir Afrika”-sanger het aan Maroela Media gesê hy kan nie die gevoel beskryf om sy dogtertjie vir die eerste keer vas te hou nie.

“Daar is niks anders soos dit in die wêreld nie. Ons het nie geweet of ons moet lag of huil nie. Ek was lanklaas só emosioneel. Ek kyk nou anders na dinge – ek kyk anders na myself, my vrou, en sommer die hele wêreld. Dit is ongelooflik; ʼn uitsonderlike geskenk,” het hy gesê.

Jacobus het gesê hulle kan nog nie besluit na wie sy lyk nie, omdat sy vir hulle elke dag anders lyk. “Die eerste dag het almal gesê sy is haar pa se kind, die tweede dag het ons weer gedink haar oortjies lyk soos haar ma s’n. Ek sien ook op verskillende tye dat sy soos my ma en my skoonma lyk, so ek dink sy is maar ʼn mengsel van ons almal. Sy is darem ʼn baie mooi mengsel,” het hy gesê.

Die naam Emmalè is ʼn samevoeging van Lizame en Jacobus se oumas se name, wat Emmarentia en Helena was. Jacobus vertel dat haar tweede naam ook baie spesiaal is.

“Ons het dit eintlik nie aanvanklik geweet nie, maar beide my en Lizame se ma’s se tweede name is Judith, so ons wou dit graag in die familie hou en het dit toe vir Emmalè ook gegee.”

Jacobus Silwer en sy vrou, Lizame (Foto: Instagram)

Jacobus het gesê dit was ʼn vreemde gevoel toe hulle Donderdag vir die eerste keer saam met Emmalè by hul huis instap. “Dit was ʼn gevoel van ‘dit gaan nooit weer dieselfde wees nie’. Dit is amper ʼn tikkie nostalgie gepaard met helse emmers vol blydskap,” het hy gesê.

“Ek kan nie wag vir al die drukkies, die rondhardloop op die plaas en die fietsry nie. Ek wil hê sy moet ʼn regte ongeskonde kind wees wat eers skoene begin dra as sy skool toe moet gaan,” het hy gesê.

Jacobus is nie bang vir ʼn vuil doek nie, en het gesê hy het eintlik uitgesien daarna om doek om te ruil. “Doek omruil is vir my ʼn spesiale ding wat ek vir my dogtertjie wíl doen, want sy kan dit nie self doen nie. Van die eerste oomblik dat ek daardie stemmetjie gehoor het, het ek geweet ek sal enigiets vir haar doen. Daai stem eggo in jou siel in en praat met jou.”

Jacobus en Lizame wil graag hul familie, al hul hartsvriende, hul vroedvrou, Leandri, en hul ginekoloog, Marise, bedank vir die rol wat hulle gespeel het daarin om dié tyd in hul lewe só spesiaal te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bokkie ·

Eks bly vir elke paartjie wat n baba kry! Al het ek nog nooit van hulle gehoor nie! Wens net dat ek ook my kleinseun se geboorte ook in MM kon aankondig het. Hy was n vreeeeeeslike spesiale baba en wonderwerk! Gelukkig weet hy dat hy spesiaal is sonder die media.

Sê maar net ·

Bokkie ek sê dieselfde…daar word elke dag wonderwerke gebore uit God se hand. En jul kleinkind met hom/haar se eie spesiale storie. En dit wat rondom hom/haar se geboortedag gebeur het. Geniet jou kleinkind, soooo spesiaal, dis nie net bekendes wat babas kry nie. Baie geluk trotse grootouer

TaZane ·

Dalk is ek voor op die wa, maar na 17 jaar van vriendskap en gedeelde trane van blydskap oor hierdie bondeltjie, het ek myself sopas bevorder van hartsvriendin tot familielid, want hulle sê jy kan jou vriende kies, maar nie jou familie nie, so julle drie is nou maar voortaan soortvan opgeskeep met my… Baie, baie geluk met jul prinses. Met julle as ouers sal haar ogies altyd gerig wees op God, haar handjies altyd saamgevou wees in gebed, haar hartjie altyd hemelse vrede ervaar en haar wese toegevou wees in God se liefde, genade en beskerming. Welkom Emmalé! Al my liefde, altyd… TaZane

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.