Foto’s: Arno Greeff raak verloof

Arno Greeff en Iluska Nagy raak verloof. (Foto: Enya Photography)

Die akteur Arno Greeff is gereed vir sy grootste rol nóg: dié van eggenoot.

Greeff en sy meisie, Iluska Nagy, het Donderdagaand by die Mooikrans Venue and Garden in Pretoria verloof geraak. En dié verlowing was byna ’n fliek op sy eie met baie vervaardiging wat agter die skerms plaasgevind het.

“Die grootste uitdaging was dat dit ’n verrassing moes wees,” het Greeff Saterdag aan Maroela Media vertel.

“Dit was omtrent ’n groot storie en spanpoging. Almal moes ’n rol in hierdie movie speel om dit te maak werk.”

Arno Greeff en Iluska Nagy raak verloof. (Foto: Enya Photography)

Nagy se vriendinne het gereël om haar Donderdagmiddag ná werk by Mooikrans te ontmoet. Aangesien een van die vriendinne self onlangs verloof geraak het, moes Nagy onder die indruk wees dat hulle mekaar by die venue ontmoet sodat die verloofde vriendin hulle kwansuis sou vra om haar bruidsmeisies te wees.

Sy kon egter vooraf nie by die huis wees nie aangesien familie en vriende by die huis moes ontmoet om ná die verlowing dit saam met die paartjie te vier.

Só het Nagy se kollegas ’n kammavergadering gereël sodat sy moes ingaan kantoor toe. Greeff kon egter nie die gevaar loop dat Nagy vinnig by die huis draai voordat sy Mooikrans toe is nie.

En só het haar pa haar motorbattery skelm ontkoppel om te verseker dat sy saam met iemand anders ná werk na die venue toe ry.

En verras was sy beslis!

Arno Greeff en Iluska Nagy raak verloof. (Foto: Enya Photography)

Greeff vertel dat die diamant aan Nagy se vinger sy ouma se diamant was. “Sy het dit jare gelede by my oupa gekry. Sy het dit al meer as ’n jaar gelede vir my gegee. Ek het einde verlede jaar eintlik al begin beplan aan die verlowing, maar toe moes ek Kaap toe vir drie maande.”

Greeff het die Maandag voor die verlowing in Gauteng aangekom en die ring Woensdag by die juwelier gaan oplaai sodat hy Donderdag die jawoord kon vra.

“Hierdie ding het my opgevreet. Ek kon Donderdag nie stilsit nie. Ek het gesweet en my hande was klam. Ek kon in ʼn stadium nie eens asem haal nie. Dit was aaklig, maar in die beste manier. Dit was beslis die grootste en belangrikste keuse van my lewe.”

Die pasverloofdes weet al jare van mekaar, maar het vroeg 2020 op Instagram begin gesels. Greeff en Nagy het maar ’n week voor die algehele afsondering amptelik begin uitgaan voordat hulle die inperking saam met haar gesin deurgebring het.

Arno Greeff en Iluska Nagy raak verloof. (Foto: Enya Photography)

Arno Greeff en Iluska Nagy raak verloof. (Foto: Enya Photography)

Arno Greeff en Iluska Nagy raak verloof. (Foto: Enya Photography)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.