Foto’s: Britse koningshuis het bedrywige maand agter die blad

Die koningin vier vanjaar 70 jaar op die troon. (Foto: @RoyalFamily/Twitter)

Nie eers Covid-19 kan Brittanje se langsdienende monarg onder kry nie.

Maroela Media het vroeër berig dat koningin Elizabeth II, wat vanjaar haar 70ste jaar op die troon vier, vandeesweek haar pligte digitaal hervat het nadat sy verlede week Covid-19 opgedoen het. Buckingham-paleis het in ʼn verklaring gesê dat sy genoegsaam herstel het om geleenthede digitaal by te woon en sy het gevolglik die nuwe ambassadeurs van Andorra en Tsjad per skerm by die paleis ontvang.

Die monarg word sedert verlede jaar veel minder in die openbaar gesien en haar opkomende platinum-jubileumviering word tans oorskadu deur haar tweede seun, prins Andrew, se seksuele-aanrandingsaak, wat ook verlede maand danksy ʼn skikking en moontlik weens druk uit koninklike kringe, tot ʼn einde gekom het.

Hoewel die koninklikes vir hul politieke neutraliteit bekend is, het die koningin vandeesweek ook stilweg haar ondersteuning aan slagoffers van die oorlog in Oekraïne gewys. Die Disasters Emergency Committee (DEC) het op Twitter onthul dat die 95-jarige monarg fondse aan slagoffers van die oorlog gestuur het en het haar vir haar bydrae op hul Twitter-profiel bedank.

Prins Charles, prins William, prins Harry en hul vroue het ook almal reeds hul ondersteuning aan Oekraïners op hul onderskeie platforms gedeel.

Die ma van drie het té lekker by die Lego Foundation se “PlayLab” in Denemarke gekuier. (Foto: Marie Odgaard/Ritzau Scanpix /AFP)

Kate en William

Kate Middleton, die hertogin van Cambridge, het die afgelope maand ‘n seldsame solo-besoek aan Denemarke gehad en met amptenare en kundiges in vroeë kinderonderwys ontmoet. Die hertogin het vroeë kinderontwikkeling die fokus van haar koninklike werk gemaak met die stigting van die Royal Foundation Centre for Early Childhood in 2021. Die ma van drie het onder meer die Universiteit van Kopenhagen, die kindermuseum en die Lego Foundation se “PlayLab” besoek, waar sy al laggend met hakke en al by ʼn glyplank afgery het.

Rugby-ondersteuners is verlede naweek lekker verras toe prins George (8) sy ma en pa na Engeland se Sesnasies-rugbywedstryd teen Wallis vergesel het. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Rugby-ondersteuners is verlede naweek lekker verras toe prins George (8) sy ma en pa na Engeland se Sesnasies-rugbywedstryd teen Wallis vergesel het. Terwyl prins William sedert 2016 beskermheer van die Walliese Rugbyunie is, het die hertogin onlangs oorgeneem as beskermheer van die Britse Rugbyvoetballiga en -unie, ʼn rol wat voorheen aan prins Harry behoort het. Dit is die eerste van die hertog van Sussex se voormalige beskermhere wat na ‘n ander lid van die koninklike familie herverdeel is sedert hy en Meghan Markle, die hertogin van Sussex, as werkende koninklikes uitgetree het.

Kate en William het vandeesweek ook na die suide van Wallis gereis ter viering van St. David’s Day. Die egpaar het met rolspelers in die landboubedryf ontmoet om geleenthede en uitdagings wat dié bedryf tans ervaar, te bespreek. Tydens ʼn uitstappie in die koue dorp Abergavenny het William verklap dat Kate se hande dikwels koud is. “Hulle sê koue hande, warm hart,” het hy geskerts toe hul gehore buite ʼn plaaslike mark gegroet het.

Meghan en Harry

Die hertog en hertogin van Sussex is onlangs by die NAACP (National Association for the Advancement of Colored People) vereer. Die egpaar het die presidentstoekenning ter erkenning van spesiale prestasie en voortreflike staatsdiens ontvang vir die werk wat hul deur die Archewell-stigting, wat hulle in 2020 van stapel gestuur het, die afgelope jaar gedoen het. Dit sluit onder meer die egpaar se stryd vir rassegeregtigheid en hul pogings om maatskaplike uitdagings tydens die Covid-19-pandemie te pak, in.

Die hertog en hertogin van Sussex is onlangs by die NAACP (National Association for the Advancement of Colored People) vereer. (Foto: @derricknaacp/Instagram)

Prins Harry se niggie, prinses Beatrice, en haar man, Jack Brooksbank, het ook onlangs by die Sussexse in Kalifornië gaan kuier. Steelfoto’s van die twee paartjies in ʼn restaurant in Los Angeles is deur die skinderwebwerf TMZ gepubliseer. Die prinses het ook tydens haar besoek haar neef na ʼn sterbelaaide Superbowl-wedstryd by Los Angeles se So-Fi-stadion vergesel.

Prins Harry se woordvoerder het aan AFP bevestig dat hy ook weer regstappe teen een van Brittanje se grootste koerantgroepe gedoen het, maar die aard of die naam van die publikasie wat gedagvaar word, is nie gespesifiseer nie. Luidens Britse mediaberigte het prins Harry Mail on Sunday gedagvaar vir naamskending oor ʼn berig wat beweer dat hy sy versoek vir beskerming deur die Britse polisie geheim wou hou.

Bronne: AFP, Harper’s Bazaar, People.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.